Netflix staan nog sterk midde stroomoorlog

Argieffoto

Netflix staan steeds sterk midde die oorlog tussen stromingsdienste om intekenare te kry.

Netflix het in sy vierde kwartaal 8,8 miljoen intekenare wêreldwyd bygekry terwyl die maatskappy net sowat 7,6 miljoen nuwe intekenare verwag het. In die vierde kwartaal van 2018 het Netflix 8,9 miljoen intekenare bygekry.

Netflix, ʼn pionier in die vervaardiging van stroommedia en programme wat jou vasgenael voor die kassie hou, spog nou met meer as 167 miljoen intekenare wêreldwyd. Die getal intekenare is vermoedelik te danke aan ʼn lys bekroonde rolprente en programme wat laat verlede jaar vrygestel is. Dit sluit die fantasieprogram The Witcher en die Oscar-genomineerde rolprente The Irishman en Wedding Story in.

Die hupstoot in intekenare help Netflix om sy status in die bedryf van stromingsdienste te bevestig. Die vierde kwartaal was ʼn belangrike mylpaal vir Netflix, aangesien dit die eerste keer was dat hy in kompetisie was met Apple se stromingsdiens van $5 per maand en Disney se gewilde opsie van $7 per maand.

Netflix het egter nog ʼn moontlike opdraande wat voorlê. NBC, HBO en die aanvangsmaatskappy Quibi beplan almal om binnekort stromingsdienste bekend te stel. Die groot vraag is dus hoeveel gebruikers bereid sal wees om vir elke stromingsdiens te betaal?

Henry Cavill in ‘n toneel uit “The Witcher”. Foto: (Katalin Vermes/Netflix via AP)

Netflix het egter een groot voordeel bo sy mededingers aangesien hy al vir jare data insamel oor die programme wat gewild is onder sy kykers.

Dié stromingsdiens se gewildste opsie kos sowat $13 ʼn maand en is veel meer as Apple en Disney se opsies. Sy prys vergelyk egter met HBO Now en spog met een van die grootste versamelings programme en rolprente.

Die maatskappy het ʼn wins van $587 miljoen op ʼn omset van $5,47 miljard behaal in die vierde kwartaal, wat die verwagtinge oortref het.

Netflix het gesê hy verwag om 7 miljoen intekenare in die eerste drie maande van hierdie jaar by te voeg, heelwat minder as die 9,6 miljoen intekenare wat hy in die eerste kwartaal van verlede jaar bygekry het.

Netflix het vroeër bekend gemaak die rolprent Murder Mystery en die derde seisoen van die reeks Stranger Things, wat hy albei self vervaardig het, was verlede jaar die gewildste bekendstellings op die stromingsdiens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Zettie ·

Seker al die baie kykers van KykNet wat DSTV verlaat het en ander planne gemaak het…….ons is gelukkig om een van daai baie kykers te wees……

Neef ·

Tel my by, nou 3 maande DSTV-loos en Netflix werk oortyd by ons.

Magda ·

het n BlackBox en Netflix / Showmax en alles is daar op – asook Cyberflix / Cinema en nog baie ander kanale – Wat was DSTV nou weer – o ja n kanaal wat net herhalings gehad het,.

charmaine ·

En soos ons wat nie meer SABC of E-TV kyk nie want meeste van die tyd verstaan ons nie die taal nie. So ja ek hoop hulle gaan nog groter!!!

Jacobus ·

Net regstelling vir die artikel.

Netflix het $5.47 miljard (billion) vir die 4de kwartaal van 2019 verdien en nie vir die jaar nie. Die jaarlikse omset was $20.15 miljard (billion).

Die webwerf wou nie meer inligting verskaf oor 2019 se jaarlikse wins nie en het net 2018 se totale gehad vir wins wat indrukwekkend is.

Nico Strydom ·

Dagsê Jacobus
Dankie vir jou kommentaar. Daar is nie in die berig aangedui dat dit vir die jaar was nie. Ons het wel nou die berig gewysig om dit duideliker te maak dat dit vir die vierde kwartaal was.
Baie dankie
Vriendelike groete
Maroela Media

Vraagteken ·

Hoe lank is dit voordat die SAUK mense gaan dwing om TV-lisensies te kry vir ‘streaming’?

vonnie ·

ons is al ‘n jaar lank by netflix. ek kan nie wag vir witcher 2 en stranger things 4 nie! dis heerlik om te kan kies wat jy wil kyk en wanneer, nie ‘n hele week hoef te wag vir ‘n volgende episode nie. nee wat, dstv het ons lankal verloor!!

Sonja ·

Netflix en Stan is tops, maar wraggies, showmax kan gerus hul sokkies optrek. Ons kyk Die Byl, kom by voorlaaste episode van season 2, en daar verdwyn season 2 heeltemal…. rede daar is fout met die lisensie (vraag is, is dit ooit betaal). Nou ja, nou is dit wag en kyk wanneer season 2 weer gaan verskyn. Praat van pateties. Jy betaal om n ding te kyk en dan dit.

doodmoeg ·

Ja nee vandat ek DSTV gelos het en Netflix gekry het kry ek maar min slaap in! Nie dat ek kla nie puik reekse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.