Telkom Mobile se intekenare styg skerp

Is Telkom besig om nou die nuwe liefling van verbruikers en beleggers in die telekommunikasie-sektor te word?

Telkom is nou besig om sy stem dik te maak in ʼn mark waar in hy aanvanklik gesukkel het. Sipho Maseko, Telkom se bestuurshoof, sê die groep het sy mobiele intekenaars met 50% tot 6,5 miljoen in die jaar tot September verhoog.

Hy het ook aangedui dat die maatskappy nou meer geld per intekenaar maak. Die gemiddelde inkomste per intekenaar is R104,28 wat 12,8% stewiger is as ʼn jaar gelede.

Telkom se uitklophou was egter op die datafront. Maseko sê die volume dataverkope wat deur Telkom-intekenare bekom is, het met 10,8% gestyg.

Dié telekommunikasiemaatskappy sê in die halfjaar tot September het sy wesensverdienste met 3,3% tot 228 sent verswak. Dit was hoofsaaklik die gevolg van die vroeë aftreepakkette en inkorting van poste wat drie jaar gelede aangekondig is.

Volgens die groep het die besnoeiing van personeel R228 miljoen gekos, en die verwante belastingskostes het R80 miljoen beloop.

Buiten die kostes sou wesensverdienste met 10,3% tot 328,6 sent per aandeel gestyg het. Die groep sê sy wins het met 12% tot R1,42 miljard teenoor dieselfde periode ʼn jaar gelede se R1,63 miljard gedaal. Die tussentydse dividend was 12 sent per aandeel wat 5,1% laer was as ʼn jaar gelede.

Sipho Maseko

Die groep sê sy omset het met 5,2% tot R20,8 miljard gestyg. Sy kapitaaluitgawes het R3,3 miljard beloop en is op sy mobiele netwerk en veseltegnologie bestee.

Maseko het ook laat blyk dat nog afleggings oorweeg sal word. Dit, sê hy, sal net geskied ná deurtastende samesprekinge met die betrokke partye.

Hy wys daarop dat sy BCX-filiaal nou minder grondspasie nodig het aangesien die maatskappy van plan is om 700 personeellede af te lê. Volgens Maseko kan die afname in personeel tot R400 miljoen per jaar vir die groep bespaar.

Intussen oorweeg Telkom ook om van ʼn deel van sy eiendomportefeulje ontslae te raak wat tot R27,3 miljard kan oplewer. Die groep sê hy oorweeg dié stap omdat die eiendomsportefeulje 90% van sy markkapitalisasie werd is. Die eiendomsportefeulje sluit kantore, behuising, erwe en klantbedieningsentrums in.

Intussen beoog nóg ʼn selfoonnetwerk, MTN, om sy dienste in Nigerië uit te brei. Die groep sê hy oorweeg dit om ʼn banklisensie te bekom. Hy maak hom gereed om sy finansiële dienste volgende jaar bekend te stel.

Dié stap, wat deur sy bestuurshoof Rob Shuter aangekondig is, kom ondanks MTN se opdraande stryd teen die owerhede in die land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VanAfrika ·

En daar slaan hulle Vodacom n bloed neus. Die einde van die maand sluit ek ook by Telkom aan. Hulle pay as you go is honderd keer goedkoper.

Telkomgebruiker ·

Ek is al van 2010 af by Telkom Mobile (Daardie tyd was hulle nog 8.ta gewees). Ek het nie ‘n enkele probleem al met hulle ondervind nie. Inteendeel is hulle 4G baie vinniger as Vodacom of MTN s’n, Jy kry gratis lutyd terwaarde van die bedrag wat jy gekoop het. As jy R100 koop, kry jy R100 gratis vir 2 weke, en kan ENIGE netwerk en nommer daarmee skakel.

Hulle data tariewe is die beste. Ek koop die FreeME 3GB bundel, dit laat my toe om op Google Music te “stream” en ook gratis Whatsapp, 200 gratis smsena enige netwerk en 300 gratis minute na ENIGE Telkom nommer insluitend landlyne.

Ek is glad nie spyt dat ek die skuif gemaak het na Telkom Mobile toe nie.

Kobus ·

Ekself by Telkom Mobile…van die dae van 8ta…sal geen ander netwerk oorweeg…databondels die goedkoopste…soos deur Telkomgebruiker genoem…alles n pluspunt en hul dienssentrum maklik om te verstaan as in gebel moet word weens n probleem..my vooraf betaalde lugtyd se “pin” nr se bewys het geskeur…n paar syfers was verlore…hul gebel en binne minute was dit op my foon gelaai…dankie Telkom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.