Aangepaste Zontes ZT310-X nou ook reg vir resies jaag

Foto: Brian Cheyne

Die Extreme Festival is ’n reeks wat landwyd aangebied word en verskeie dissiplines van motorsport dek.

Vanjaar het hulle nog ’n reeks bygekry: die Zontes 300 Cup.

Zontes het hierdie reeks verlede jaar bekendgestel en relatief bekostigbare pakkette gebied wat dit vir ’n ryer moontlik maak om net op te daag en te ry. Jy moet wel ’n Motorsport SA-lisensie hê, maar Zontes sorg vir die res.

Foto: Brian Cheyne

Die eerste Zontes 300-wedren is Saterdag 22 Februarie op Redstar Raceway naby Delmas gehou. Voor die eerste wedren was daar ’n groot geskarrel om die laaste paar fietse nog reg te kry, maar die Zontes-span het behoorlik uitgehang. Negentien Zontez 310-X fietse het uiteindelik stelling ingeneem op Redstar se pylvak. Elke fiets het ’n aantreklike dame met ’n sambreel langs hom gehad wat sommer glans aan die geleentheid verleen het. Die ryers het gewissel in ouderdom van 12 tot  55.

Onder ’n ligte dreuning het die fietsies weggespring en gesorg vir groot vermaak vir die groeiende skare by Redstar. Ek het ná die eerste ren in die kuipe rondgeloop en die glimlagte was breed soos almal hul ervaring met mekaar deel.

Foto: Brian Cheyne

Die fiets wat in hierdie reeks deelneem, is die nuwe Zontes ZT310-X. Zontes het vir my een geleen vir die week om te sien wat hierdie opgekikkerde model bied. Ek het verlede jaar die 310-X getoets en veral sy stilering het my beïndruk. Zontes het nou die stilering nog so ’n kerfie opgestoot en ’n paar ander belangrike veranderinge aangebring.

Die 310-X het ’n baie treffende ontwerp. Skerp lyne maak dat die fiets aggressief vertoon, maar die grootste verandering is aan die agterkant van die fiets.

Foto: Brian Cheyne

Die Zontes het nou ’n enkelsydige swaaiarm, iets wat jy gewoonlik op baie duur Italiaanse motorfietse sien. Die nommerplaat en flikkers skuif nou laer af na ’n hegstuk om die agterwiel wat ook dien as ’n modderskerm. Dit het tot gevolg dat die stert van die Zontes nou vry is van onooglike aanhangsels. Die kort, dubbele uitlaatpypies is steeds daar en die hele ontwerp val net sag op die oog.

Die een klagte wat ek teen die vorige 310-X gehad het, was sy remme. Hoewel dit doeltreffend was, moes jy met mening die hefboom trek.

Foto: Brian Cheyne

Zontes het dit nou aangespreek deur nie net ’n groter remskyf voor op die fiets te sit nie, maar ook die hele sluitwering en remstelsel te hersien. Die remme boesem nou baie meer vertroue in.

Nog ’n groot verbetering op die vorige model is die instrumentasie. Die vorige vloeikristaleenheid is nou vervang met ’n volkleur-TFT-skerm. Hoewel hy kleiner is, vertoon hy net soveel beter. Daar is vier verskillende uitlegte om uit te kies, en elkeen bevat omvattende inligting.

Met die verbeteringe op die vorige model maak hierdie Zontes net nog meer sin en wat my betref, is dit loshande die mooiste fiets in hierdie segment. As jy nog twyfel oor die vermoë van hierdie fiets, kom kyk gerus die Zontes 300 Cup. Die volgende wedren is 4 April op Zwartkops.

Klik hier vir meer inligting oor die Zontes Cup.

Spesifikasies:

Enjin312 cc-enkelsilinder
Gewig (Droog)149 kg
Kraglewering26 kW @ 9 500 rpm
Wringkrag30 Nm @ 7 500 rpm
Tenkkapasiteit19 ℓ
Saalhoogte795 mm

Die produkblad kan hier besigtig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.