Ducati se Mystery Tour 2020 – 2 700 km in vier dae

(Foto: Beam Productions)

As jy Google inspan om te soek na motorfiets sêgoed sal jy baie kry. Soms is die een in die ander verweef, maar die meeste wil die gevoel van vryheid weergee. Vir my is die aksie van motorfietsry steeds ’n onbeskryflike ervaring waarvoor ek nog nie ’n raakvat-uitdrukking kon vind nie. Die wind, die reuke en die mense roer my binneste soos vier wiele net nie kan nie.

So gebeur dit toe dat ek met Jos Matthysen by Ducati gesels oor ’n reis wat ek beplan het na Verneukpan en Kenhardt. Hy het aandagtig geluister en gevra of ek op Ducati se Mystery Tour is, en gesê as ek nie is nie, is ek nou. Net daar is my naam op ’n lys gesit van ’n paar gelukkige mense wat met Ducati’s deur die land gaan toer. Jos is baie oortuigend en jy sê nie sommer nee vir hom nie.

Twee weke voor ons vertrek, het ons by Ducati se winkel in Centurion bymekaargekom vir ’n inligtingsessie. Die enigste inligting wat ons egter oor die toer gekry het, was die afstande vir elke dag. Dag 1 sou byvoorbeeld 645 km wees, maar met geen aanduiding in watter rigting nie. Jy kan jouself indink hoeveel moontlikhede daar bestaan vir ons eintlike bestemming. Die totale afstand sou 2 700 km wees. In vier dae!

Ons het Donderdag 1 Oktober uit Centurion vertrek en Jos het vir my ’n mooi wit Ducati Multistrada gereed gehad. Die Ducati Multistrada is steeds een van my droommotorfietse, ek was dus in my noppies. En toe kom die reën. Ek het geen probleem daarmee om in die reën gevang te word nie, maar ek wil nie al nat wees nog voor ons wegtrek nie. Ons was ’n stuk of 30 fietse en die meeste van hulle was Multistradas. Daar was ook ’n Panigale, ’n Streetfighter, drie Diavels en twee Scramblers. My hart het dadelik uitgegaan na die man op die Panigale. Dit is by uitstek ’n baanfiets, en hierdie man durf ons paaie met hom aan.

(Foto: Beam Productions)

So deur die reën het ons versigtig koers gekies in die rigting van Krugersdorp en ek het my Multistrada se langpad gerief geniet. Die handvatsels is verhit en hy bied ’n mate van windbeskerming. ’n Lieflike fiets. Ons ry toe al hoe verder wes en anderkant Biesiesvlei staan die Ducati-trok reg om ons te ontvang vir ontbyt. Almal het bene gerek en gespekuleer oor ons eerste stop wat duidelik êrens in die Noord-Kaap sou wees. Ek was net die vorige week hier verby op ’n Zontes, so die pad was bekend.

Hierdie wêreld is droog en die paaie is reguit; ons kon dus die Ducati’s se bene ook so ʼn bietjie rek anderkant Kuruman. Ons eerste oornagplek was toe Kathu. Jos het ons heelwat stories oor die omgewing vertel en ons ’n yslike kameeldoringboom gewys wat op die gholfbaan staan. Tydens die aand se braai het een van die ander joernaliste my kom vra om met hom fietse te ruil vir die volgende dag. Die tweede, en langste dag, sou ek dus op ’n Ducati Diavel deurbring.

Dag twee het vroeg begin. Ek het met ’n swaar hart my Multistrada se sleutels afgestaan in ruil vir een van die Diavels. Die Ducati Diavel is ’n gemaklike fiets om op te ry met onhebbelik baie krag en brutale versnelling. Op die oop pad hou hy van rustig toer. Ons het egter 870 km gehad om af te lê; daar was dus bitter min tyd vir lang stoppe en rustig ry. Almal was oortuig dat ons Weskus toe sou ry of selfs na George, maar Jos het ander planne gehad. Ons het net daar op Kathu omgedraai en Kimberley toe gery. Vandaar is ons deur Bloemfontein en Clarens tot in die hartjie van die Drakensberge. My ou lyf was stukkend. Die wind was ongenaakbaar en ons het plek-plek hael ook gehad. Op die Diavel was ek heeltemal aan die elemente blootgestel en daar was nie wegkruipplek nie. In my huisie in die berge het ek vroeg ingekruip. Voos, maar op my gelukkigste.

Op dag drie het ek die joernalis op die Streetfighter oortuig om my op hom te laat ry vir die dag. Alhoewel hy ook nie windbeskerming gebied het nie, was dit ’n heelwat gemakliker rit. Ons het 700 km noordwaarts gery tot in Hazyview met die mooiste bergpasse onder ons wiele. Hier het dit nie saakgemaak op watter Ducati jy was nie, die genot was net dieselfde. Alhoewel ek dink die man op die Panigale het die breedste glimlag gehad.

Op dag vier was ons op die bekende “twenty-two” tussen Hazyview en Sabie. Ek was weer terug op my Multistrada en ek het net weereens besef hoekom ek so baie van hierdie fiets hou. Dit is net ’n fiets vir alle paaie. Trouens, dit is presies wat Multistrada beteken. Van Sabie af het ons Pelgrimsrus toe gery en oor Rowerspas.

Die Ducati Mystery Tour was ’n unieke toer en ’n wonderlike ervaring. Hael, reën, mis en lieflike sonskyn was alles deel van die ervaring. Maar veel belangriker was die saamwees en die kuiers om die braaivleisvuur. En natuurlik die vryheid.

Dit was ’n baie lang toer in ’n baie kort tyd, maar die Ducati-ryers was dit almal eens dat hulle dit more weer sal doen. Ek sal dalk nie weer sulke lang afstande op een dag wil aflê nie, want ek wil stop en kuier. Maar as Ducati my weer nooi, sal ek beslis weer op ’n Multistrada wil wees. Vir my het ons land nog soveel om te ontdek. Druk jou vinger op die kaart en ry soontoe. Jy en jou motorfiets. En as jy nog nie een het nie, die Ducati-vertoonlokaal staan vol keuses. Dan kom ry jy saam, want Jos is klaar besig om die volgende Mystery Tour te beplan. Hy belowe korter afstande en langer kuiers.

Ducati se vertoonlokaal is in Centurion by World of Motorcycles. Loer gerus in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boerkind

Ai Brian, man dit klink of dit sommer lekker was! Stem saam… korter afstande per dag en meer stop en gesels. Ja, die Ducatis ry deesdae heel goed – die Streetfighter se rygerief is nogal verbasend!! Veilig ry!