Die Toyota Hilux en Fortuner is stapelmodelle vir Toyota. Daarom kyk hulle gedurig na hul aanbieding en probeer hul kliënte presies bied wat daarvoor hulle vra. So het Toyota ses nuwe outomatiese Hilux-modelle tot sy stal bygevoeg.
Die nuwe outo-modelle is:
- 2.4 GD-6 4×4 SRX enkelkajuit
- 2.8 GD-6 Raider enkelkajuit
- 2.8 GD-6 4×4 Raider enkelkajuit
- 2.8 GD-6 Raider Xtra-kajuit
- 2.8 GD-6 4×4 Raider Xtra-kajuit
- 2.4 GD-6 4×4 SRX dubbelkajuit
Op alle Raider-modelle is die middel-konsole nou met leer oorgetrek in plaas van lap. Alle modelle se armleunings is nou met PVC oorgetrek om dit meer duursaam te maak. Raider-modelle kry nou LED-hoof- en -misligte. Daar is boonop die mooier 18” Sporty-allooiwiele op die Raider-modelle. SRX en enkelkajuit Raider-modelle is nou veiliger met VSC (Vehicle Stability Control) en HAC (Hill Start Assist Control) asook TSC (Trailer Sway Control). Nuwe Raider-modelle is toegerus met ʼn 220V- tweepuntprop vir goed soos skootrekenaars of yskaste.
Toyota het in die 2017 Kinsey-verslag die eerste posisie ingeneem vir die goedkoopste dubbelkajuit om te onderhou. Dié onderdele-mandjie se totale koste is R67 066 en 13,19% van die voertuig se prys, teenoor 13,48% op Navara, 17,04% of Isuzu KB en 20,18% op Ranger.
Aan die Fortuner-produk is daar minder opkikkerings en slegs een model bygevoeg, die 2.4 GD-6 4×4 outo, terwyl die 4.0 V6 4×2-model verwyder is. Intreevlak-Fortuners is veiliger gelaat met die byvoeging van kant- en gordynlugsakke op die 2.7- en 2.4-modelle. Die 2.8-modelle het nou ʼn elektriese kattebak-deur, en die 2.8- en 4.0-modelle het nou LED-mis- en -hoofligte en dieselfde 220V-tweepuntprop as sy Hilux-maats.
Fortuner vaar net so sterk in die Kinsey-verslag in eerste plek met ʼn onderdele-mandjie van R84 992, 15,25% van die totale voertuig koste. In tweede plek is die ingevoerde Rav4 produk, 26,75% en R115 293, dan Kia se Sportage met 30,23% en R117 148. die vierde plek is ingeneem deur Hyundai se Tucson met R129 263 en 32,32%.
Op die pad voel die dubbelkajuit Hilux presies soos die handrat Hilux Black wat ons onlangs getoets het. Ons het die Prins Alfred-pas aangedurf in die Hilux. Met stortreën op plekke en bande wat heeltemal te hard gepomp was, het dit interessant geraak. Mense, maak nie saak met watter voertuig jy ry nie – as jy grondpaaie gaan aandurf, blaas jou wiele af tot ten minste 1,8 bar, en nog laer indien die pad baie sleg is. Die sagter band absorbeer baie van die sinkplaat sonder dat die kar se vering naderhand nie meer kan byhou nie.
Die 2.4 GD-6 4×4 outo- Fortuner is nou my gunsteling Fortuner. Die 2,4-masjien bied oorgenoeg krag met 110 kW en 400 Nm en die effe korter finale verhouding maak die ratkas beter as in die 2,8 na my smaak. Hy gaan makliker teen so 100 km/h in sesde rat en spring nie so maklik terug nie. Die wind het stormsterk gewaai so die brandstofverbruiksyfers wat gehandhaaf is bied geensins ʼn realistiese syfer nie.
Op die duineroete net buite George het die Fortuner my nog verder beïndruk. Banddruk is verlaag tot 1 bar, 4×4 en laestrek gekies, trekkragbeheer afgeskakel en die Fortuner maak kinderspeletjies van die sand. Die Fortuner se klasleidende 27 9mm grondvryhoogte verseker ook dat die Fortuner nie een keer sy pens gesleep het nie, al het ons in redelike diep spore gery met kruisas-situasies.
Is daar enige probleme? Met die Hilux-produk, nee. Ek hou van die reeks, al het ons met die 2,8 4×4-handrat gery op dié geleentheid glo ek steeds die 2,4 SRX 4×4-handrat is die een wat ek sou koop. Met die Fortuner-produk het ek net een klagte. Die bruin leer teen die swart panele werk vir my glad nie. Toyota het so mooi reggekom met die swart binneruim van die vorige Fortuner aan die einde van sy lewensiklus. Ek hoop regtig ons hoef nie so lank te wag vir ʼn swart binneruim op die huidige model nie.
Met die byvoeging van dié strategiese modelle, teen die pryse wat hulle beskikbaar gestel word sien ek opdraande pad vir die mededingers.
Die reekse lyk só:
Hilux:
Model | Prys |
Enkelkajuit | |
Hilux SC 2.0 VVTi 5MT | R 243 200 |
Hilux SC 2.0 VVTi 5MT A/C | R 251 100 |
Hilux SC 2.7 VVTi RB SRX | R 344 600 |
Hilux SC 2.4 GD 5MT | R 276 200 |
Hilux SC 2.4 GD 5MT A/C | R284 100 |
Hilux SC 2.4 GD-6 RB SRX 6MT | R 355 300 |
Hilux SC 2.4 GD-6 4×4 SRX 6MT | R 419 200 |
Hilux SC 2.4 GD-6 4×4 SRX 6AT (Nuut) | R 436 800 |
Hilux SC 2.8 GD-6 RB RAIDER 6MT | R 418 100 |
Hilux SC 2.4 GD-6 4×4 SR 6MT | R 407 300 |
Hilux SC 2.8 GD-6 4×4 RAIDER 6MT | R 479 800 |
Hilux SC 2.8 GD-6 4×4 RAIDER 6AT (Nuut) | R 497 400 |
Hilux SC 2.8 GD-6 RB RAIDER 6AT (Nuut) | R 435 700 |
Model | Prys |
Xtra-kajuit | |
Hilux XC 2.4 GD-6 RB SRX 6MT | R 365 300 |
Hilux XC 2.8 GD-6 RB RAIDER 6MT | R 444 700 |
Hilux XC 2.8 GD-6 RB RAIDER 6AT (Nuut) | R 462 200 |
Hilux XC 2.8 GD-6 4×4 RAIDER 6MT | R 508 200 |
Hilux XC 2.8 GD-6 4×4 RAIDER 6AT (Nuut) | R 525 800 |
Model | Prys |
Dubbelkajuit | |
Hilux DC 2.7 VVTi RB SRX 5MT | R 394 700 |
Hilux DC 4.0 V6 4×4 RAIDER AT 6AT | R 638 700 |
Hilux DC 2.4 GD-6 4×4 SRX 6MT | R 478 100 |
Hilux DC 2.4 GD-6 4×4 SRX 6AT (Nuut) | R 495 700 |
Hilux DC 2.4 GD-6 RB SRX 6MT | R 442 700 |
Hilux DC 2.8 GD-6 RB RAIDER 6MT | R 506 200 |
Hilux DC 2.8 GD-6 RB RAIDER 6AT | R 524 100 |
Hilux DC 2.8 GD-6 4×4 RAIDER 6MT | R 570 700 |
Hilux DC 2.8 GD-6 4×4 RAIDER 6AT | R 589 800 |
Hilux DC 2.4 GD-6 4×4 SR 6MT | R 465 400 |
Fortuner:
Model | Prys |
Fortuner 2.4 GD-6 RB 6MT | R 462,900 |
Fortuner 2.4 GD-6 RB 6AT | R 480,900 |
Fortuner 2.4 GD-6 4×4 6AT (Nuut) | R 506,000 |
Fortuner 2.7 VVTi RB 6AT | R 444,500 |
Fortuner 2.8 GD-6 RB 6MT | R 552,900 |
Fortuner 2.8 GD-6 4×4 6MT | R 614,400 |
Fortuner 2.8 GD-6 RB 6AT | R 571,800 |
Fortuner 2.8 GD-6 4×4 6AT | R 633,500 |
Fortuner 4.0 V6 4×4 6AT | R 675,600 |