Foto’s: Prado sorg vir vet duinepret

Foto: Waldo van der Waal

Toyota borg jaarliks twee groot 4×4-byeenkomste, naamlik die Rust de Winter 4×4 Jamboree en die Atlantis 4×4 Pretdag.

Die Rust de Winter-byeenkoms vind in Maart en Atlantis in Oktober plaas. Maroela Media was weereens bevoorreg om vanjaar na albei byeenkomste genooi te word. Die Atlantis 4×4 Pretdag is ʼn fantastiese byeenkoms vir 4×4-liefhebbers wat die gesin wil bederf met ʼn dag van genot op die duine.

Die manne van die 4WD-klub van Suider-Afrika se Wes-Kaapse tak oortref hulself elke jaar. Die byeenkoms is puik georganiseer met streng reëls om die duine te bewaar en beskerm. Daar mag ook geen alkohol gebruik word nie. Die 2019-byeenkoms het wéér sonder voorval verloop. Om meer as 100 voertuie op die duine te laat rondkerjakker sonder ongeluk – ʼn veer in die organiseerders se hoed.

By verlede jaar se Rust de Winter-byeenkoms het ons met ʼn Land Cruiser Prado gery en by Atlantis was dit ʼn Dakar Hilux. Dié jaar was dit ʼn Fortuner by Rust de Winter en by Atlantis wéér ʼn Prado. Toyota vier tans die mylpaal van 10 miljoen Land Cruisers wat reeds verkoop is! 10 miljoen!

Tydens 2018 se Rust de Winter-byeenkoms was die Prado effe van ʼn uitdaging. Dit was my eerste 4×4-kompetisie, én my meganiese simpatie was groter as my wil om te wen. Diegene wat al by Rust de Winter was, sal kan getuig – die hindernisse kan rof raak en van die skerpste draaie is vir die langasafstand-Prado ʼn groot uitdaging.

Foto: Waldo van der Waal

By vanjaar se Atlantis was die Prado ʼn perd van ʼn ander kleur. Die voertuie kry nie sommer skade nie, en die Land Cruiser se Multi Terrain Select- (MTS-)veldrymodusse werk fantasties. Die dikste los sand met kniediep spore keer nie ʼn Prado op die duine nie, en daar is geen draaie wat só skerp is soos by Rust de Winter nie.

ʼn Mens moet onthou dat dié Prado splinternuut was, van die rak af met géén ombouings of ekstras nie. Al wat verander word, is die Prado se banddruk. Ek’t my Prado se bande afgeblaas na 1 bar toe, en het nie een keer vasgesit óf ʼn band van die wiel afgetrek nie.

Maroela Media het die hoogste posisie behaal van die media-deelnemers – 59ste uit die 105 deelnemers. Willie Mostert en navigator Jan Willem Conradie het in hul omgeboude Suzuki Samurai die eerste plek gehaal met 2 073 punte, Dino Burnett en navigator Kevin Krouse was tweede in hul Land Rover met 2 041 punte. JP en Henri Fourie met hul Land Rover Discovery was derde met 2 021 punte.

Toyota se Land Cruiser Prado is ʼn fantastiese “leefstyl”-voertuig. Daar is sewe sitplekke, puik 4×4-vernuf, ʼn luukse yskassie tussen die voorste sitplekke vir ʼn yskoue lafenis en elke ander luuksheid waaraan ʼn mens kan dink … tot sitplekke wat kan verhit en verkoel om jou agterstewe gemaklik te hou in die Afrika-son.

Foto: Waldo van der Waal

Toyota en Land Cruiser het ʼn puik naam vir betroubaarheid oor die wêreld. In Australië sê hulle: “You can go into the Outback in any car. If you want to come out – go in with a Toyota!” Party sal argumenteer dat die 3.0 D-4D-enjin in die Prado nie voldoende is nie. Ek stem nie saam nie. Die enjin bied 120 kW en 400 Nm. Dit is egter nie die volle prentjie nie. Dis wat die Prado met dáái krag doen wat beïndruk. Die Prado voel heeltemal rats genoeg op die pad en het voor ons die duine ingevaar het ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 9,3 ℓ/100 km gehandhaaf. Heel goed.

Die ander voordeel van die D-4D-enjin is die feit dat dit op 500 ppm diesel kán hardloop. Dus, sou jy jou in Suider-Afrika bevind waar daar slegs 500 ppm diesel beskikbaar is, sal die Prado nie huiwer nie. Dit is altyd beter om die laagste swaelinhoud te gebruik, maar waar dit moet, sal dit nie ʼn probleem wees nie. Die Prado se direkte mededingers, buiten die 3.2 Mitsubishi Pajero, kan slegs op 50 ppm en minder diesel hardloop.

Die Prado bly vir my ʼn groot gunsteling. Hy is rateltaai en beste van als – uitermatig betroubaar!

Die reeks lyk só:

Toyota Land Cruiser Prado 3.0DT TX120 kW/400 Nm8,5 ℓ/100 kmR875 000
Toyota Land Cruiser Prado 4.0 VX202 kW/381 Nm11,5 ℓ/100 kmR990 200
Toyota Land Cruiser Prado 3.0DT TX120 kW/400 Nm8,5 ℓ/100 kmR992 100
Toyota Land Cruiser Prado 3.0DT TX120 kW/400 Nm8,5 ℓ/100 kmR1 029 700
Toyota Land Cruiser Prado 3.0DT TX120 kW/400 Nm8,5 ℓ/100 kmR1 031 500

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 9 dienste of 90 000 km-diensplan.

Die mededingers lyk só:

Mitsubishi Pajero 3.2DI-D GLX Exceed140 kW/441 Nm10,1 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R799 995
Land Rover Discovery S Sd4177 kW/430 Nm6,5 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 005 372

Tussen dié mededingers moet ʼn mens onthou dat die Pajero al stokoud is. Die Discovery is heel nuut – maar die S is die intreemodel en teen dié prys sluit dit geen ekstras soos sewe sitplekke of die laestrekratkas in nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Fanie du Preez ·

Wonder wie het altyd die “Paris Dakar” gewen…jaar in en jaar uit…nou bietjie laat.

Andre C ·

Een ding wat Toyota goed doen , is om deur die media hulle produkte te prys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.