Kiden KD125-V: Beginnerfiets met ’n tikkie nostalgie

Kiden KD125-V (Foto: Brian Cheyne)

My grootste droom is om meer mense op motorfietse te sien. Hoe meer mense ry, hoe groter sal die bewustheid rakende motorfietse wees. Miskien sal die paaie dan ’n veiliger plek wees vir ons mense op twee wiele.

Zontes in Suid-Afrika deel blykbaar ook hierdie sentiment, want hy bring net meer en meer modelle na Suid-Afrika. Sy nuutste toevoeging is die Kiden KD125-V. Kiden word in dieselfde fabriek as die Zontes-modelle gemaak, so ek bevraagteken nie die gehalte nie.

Die Kiden is ’n klein 125 cc-fietsie. Uit die staanspoor het ek geweet dat hierdie fiets nie gemaak is vir iemand van my ouderdom en gewig nie … veral nie my gewig nie. Dit is duidelik gerig op die tienermark of mense wat hul toetrede tot die motorfiets ry baie versigtig aanpak.

Tog het die stilering van die fiets my nuuskierigheid genoeg geprikkel dat ek vir Zontes gevra het om wel maar een vir my af te laai dat ek die fiets van nader kan bekyk.

Kiden KD125-V (Foto: Brian Cheyne)

Die stilering is minimalisties soos dié van ’n Café Racer. Soos met hierdie styl die norm is, is die saal plat en hard, maar bied tog genoeg ondersteuning. Die fietsie is ook betreklik laag. Teen 760 mm is die saal op ’n gemaklike hoogte. Die saal vloei mooi in die groot 17 L-brandstoftenk in.

Die Kiden het tradisionele vering agter en die voorste vering het rubberomhulsels. Saam met die speekwiele dra al hierdie detail by tot die retro-ontwerp. Die fietsie is glad nie onooglik nie en is beskikbaar in twee kleure: die silwer van die toetseenheid en helder geel.

Die spieëls sit op die handvatsels se eindpunte – dit bly maar ’n doeltreffende plek vir spieëls. Die instrumentasie is ’n klein ronde eenheid en bevat ’n toereteller, spoedmeter en aanduiding van brandstofvlak en ratposisie. Die gehalte van die instrumente en skakelaars is goed. Net soos met ander fietse in die Zontes-stal, kom die Chinese nou al ’n ver pad wat gehalte betref.

Kiden KD125-V (Foto: Brian Cheyne)

Die 125 cc-enjintjie is nie die kragtigste nie. Met ’n volle 10 kW tot jou beskikking gaan jy nooit ’n gevaar vir die spoedgrens inhou nie. Jy sal kan bybly by stadsverkeer, maar bly maar weg van die snelweg af.

My topsnelheid op die snelweg was in die omgewing van 105 km/h wat my kwesbaar tussen die vinniger verkeer laat voel het. Tog, in stadverkeer is die fiets glad nie sleg nie. Hy pas in die kleinste gapings en met sy regop handvatsels is hantering goed. Die KD125 beskik oor skyfremme voor en agter en hulle het hul goed van hul taak gekwyt.

Zontes bied ’n twee jaar lange of 20 000 km-waarborg op die Kiden vir jou eie gemoedsrus. As jy oorweeg om vir jou 16-jarige kind ’n motorfiets te koop, is die Kiden nie ’n slegte roep nie. Jy weet jou kind gaan nie vinnig kan ry nie, maar dat hy darem op ’n oulike ryding sal wees.

Produkblad: https://www.zontes.co.za/products/kd125-v/

Die feite

Enjin125 cc-enkelsilinder
Gewig (nat)113 kg
Kraglewering10 kW @ 9 000 rpm
Wringkrag11,5 Nm @ 7 500 rpm
Tenkkapasiteit17 L
Saalhoogte760 mm
PrysR24 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.