’n Liefdesbrief aan die Suzuki SJ

(Foto: Danie Botha)

Deur Gerhard Horn

In 1970 het Suzuki begin om die voorloper van die Jimny te vervaardig, wat beteken dié puik klein 4×4 vier vanjaar sy 50ste verjaardag.

Wat min mense weet is dat die LJ10 nie eers regtig ’n Suzuki was om mee te begin nie. Die ontwerp moet eintlik toegeken word aan ’n vervalle maatskappy met die naam Hope Motor Company. Die manne by Hope het hom oorspronklik die HopeStar ON360 genoem, en verskeie Mitsubishi-onderdele gebruik om dié klein karretjie mee aanmekaar te timmer. Ongelukkig kon die bekendstelling van Hope se nuwe karretjie nie die onderneming red nie, en so het dit ten gronde gegaan. Mitsubishi is eerste gevra of hulle sou belangstel om die vervaardiging oor te vat, maar hulle het besluit om dit nie te doen nie.

Suzuki het egter wel die meriete in die karretjie raakgesien, en besluit om die ontwerp in 1968 aan te koop. Twee jaar later was hulle reg om Hope se ontwerp te smous as ʼn Suzuki, en hier sit ons nou, 50 jaar later.

Is dit nodig om te verduidelik hoekom ons 50 jaar van die Jimny moet vier? Is daar nog iemand oor wat twyfel dat die klein 4x4tjie nie sy man kan staan teen enige ander 4×4 daar buite nie? En ja, ek is heel gemaklik om hom in dieselfde geselskap te plaas as die Wrangler, Defender en Land Cruiser.

(Foto: Danie Botha)

Ek was nog op hoërskool toe die derde generasie Jimny in Suid Afrika opgedaag het. Baie hardebaard 4×4-eienaars het lekker gelag vir die klein karretjie met sy 1,3 viersilinder. Die manne het lekker gelag totdat die eerste Jimny by ’n bekende 4×4-kompetisie opgedaag het. Die Jimny het vir die groter karre lekker ore aangesit, en van daai dag af sukkel jy om ’n 4×4-entoesias te kry wat nie respek het vir die Jimny se vermoë nie.

Ek het self al aan ’n paar 4×4-kompetisies deelgeneem, en altyd gekies om dit in ʼn Jeep Wrangler Rubicon te doen. Ek glo steeds die Wrangler is die beste 4×4 wat jy standaard van ’n handelaar se vloer af kan koop, maar ek moet bieg dat die Jimny selfs vir dié 4×4 ore aansit as dit by kompetisies kom. Dis eintlik irriterend hoe goed die Jimny is. Jy gebruik elke breinsel wat jy tot jou beskikking het, en ’n vriend aan die buitekant van die Wrangler om jou te help om nie paaltjies om te stamp nie. En dan kom daar ʼn blerrie Jimny-bestuurder wat nog ’n halwe meter se spasie aan albei kante van sy spieëltjies het. Dit was irriterend, maar ek het altyd die Jimny sy oorwinning gegun.

Ander mededingers was ongelukkig nie sulke goeie verloorders nie, en het dus baie vinnig gekla oor die klein 4×4. In latere jare het die bekende (en ook nou vervalle) kompetisie begin om struikelblokke in te sluit wat spesifiek ontwerp is om die Jimny in sy spore te stop. Dit het vir my onregverdig gevoel. Soos om Lewis Hamilton te dwing om met ʼn pap wiel te ry sodat die res ook ʼn kans kan kry om te wen.

Die punt is, dit is nie nodig vir my om iemand te oortuig dat die Jimny ’n goeie 4×4 is nie. Die derde-generasie Jimny was ’n puik 4×4, hoewel hy maar in ander opsigte gesukkel het. Ek het byvoorbeeld jare terug met een van Pretoria tot by die begin van Sani Pass gery op teerpad, en dit was maar ’n onplesierige affêre. Hy het gesukkel om 120 km/h te haal, ʼn mens kon nie die radio hoor bo die padgeraas nie en die wind het hom maar woes rond geruk. Maar toe ek eers Sanipas opgaan, en die Jimny in sy regte milieu begin gebruik het, was hy puik.

Die huidige Jimny doen dieselfde, maar baie gemakliker. Dis nou ’n kar waarmee jy elke dag kan lewe. Hy ding nie net mee in sy eie segment nie, maar oor ’n hele klomp. Ek ken talle mense wat hulle Jimny net as ’n stadsvoertuig gebruik, en hoekom nie? Die nuwe Jimny is so groot sukses dat Suzuki nie kan voorbly nie. Die waglys is steeds maande lank.

Suzuki wou baie meer doen om die Jimny se 50ste te vier, maar ongelukkig het die pandemie die planne in die wiele gery. Maar die vervaardigers van Wild in SA het gevoel dat iets gedoen moes word, en die plan waarmee hulle opgekom het, het byna onmoontlik op papier gelyk. Begin by die Weskus en volg die grens van Suid Afrika al die pad tot by die Ooskus. Dit is so om en by 2 500 km, waarvan die meeste op grondpad sou wees.

Natuurlik moes ’n nuwe Jimny saamgaan, maar aangesien hulle die geskiedenis van die kar wou vier, moes een van die Jimny se voorgangers ook saamgaan. Die antwoord was die SJ410. Daar is nog genoeg van hulle oor, en jy kan een bitter goedkoop in die hande kry. Met dié gemaak het die vervaardigers my gevra om deel te wees van die weeklange avontuur. Ek sou die 1984 SJ410 bestuur en my mede-aanbieder Tumelo sou agter die stuur van die nuwe Jimny wees. Hoe sê ʼn mens nee vir so iets?

Ek wil nie te veel weggee oor wat gebeur het nie. Die spesiale insetsel word op 7 November op Ignition GT uitgesaai, so as jy die hele avontuur wil sien, is dit die beste plek om dit te kyk.

Ek sal wel sê dat daar nou ʼn leemte in my lewe is. Na ’n week in die SJ410 wil ek bitter graag my eie een hê. Soveel so dat ek verskeie kere op die avontuur op die punt was om my vrou te bel om te vra of ek maar een mag kry. Dié spesifieke SJ410 het die produksie maar R30 000 gekos. Daar was net een klein struikelblok – die enjin was nie in die kar toe hulle hom gaan oplaai het in die Kaap nie. Al die onderdele was daar, maar nie in die kar nie. ’n Span Suzuki SJ-spesialiste in Pretoria het die SJ binne 24 uur aanmekaar getimmer, maar ongelukkig was daar nie tyd om te toets of hy werk nie. Die produksiespan het hom aangeskakel, na die beginpunt toe gesleep en daar gelaat vir die aand. Die eerste kilometer wat die kar gedoen het, was die begin van die avontuur.

Oor die volgende sewe dae het ek ’n verhouding met die kar opgebou. So ʼn ou kar is vol fiemies, en jy as die bestuurder moet maar net aanleer hoe om met dit te lewe, asook hoe om jou bestuurstyl aan te pas. Wat ek die meeste geniet het, is om weer ’n kar te bestuur wat nie met verskeie lae luukshede bedek is nie. Jy besef nie hoe baie ’n moderne kar jou uit die moeilikheid uit hou tot jy ’n kar bestuur met absoluut geen elektroniese hulp nie. Die SJ410 is so basies soos karre kom. Hy het bladvere voor en agter, 34kW, ’n vierspoedhandrat, en dis maar dit. Die lys luukshede aan die binnekant is maar kort. Jy kry ’n asbakkie en ’n waaier. Geen raakskerms en tjommel wat jou aandag aftrek nie. Nie dat dit saak maak nie, want jy is altyd besig om aktief die SJ te bestuur. Dis net jy, die stuurwiel, ratkas en pedale. As jy ’n fout maak word jy gestraf, maar gelukkig het die SJ altyd gevoel asof hy aan my kant was. Te danke aan al die kar se foute het dit gevoel asof hy ’n persoonlikheid gehad het.

Ek gaan nie lieg en sê die kar het my nie gebyt nie. Op die laaste dag van die avontuur moes ons so 30 km op grondpaaie naby Sodwana ry. Dit het teen daai tyd al drie dae lank daar gereën, en die paaie was basies net slote modder. Dit is als mooi vasgevang op kamera, maar die kamera het ongelukkig nie my twee oepsies vasgevang nie. Ek sal maar net sê dat ek nog nooit vantevore soveel oorstuur ervaar het nie. Dit was ’n baie moeilike balans om te handhaaf, en twee keer het ek die lepel te diep getrap. Gelukkig was daar net oop veld aan die kant, so mens hop net so bietjie rond, wag tot die kar stop en dan ry jy verder.

Ek sit hier, steeds verbaas dat ’n Suzuki SJ410 wat so oud soos ek is, en met ’n enjin wat ’n dag voor die avontuur ingesit is, die taak kon doen. Daar was tye wat ek met ’n jaloerse oog na Tumelo se splinternuwe Jimny gekyk het. Bladvere voor en agter is nie grappies nie. Ek het ophou tel hoeveel keer ek my kop teen die dak gestamp het. Die Noord-Kaap se hobbels het hierdie irriterende manier om sommer net so voor ʼn mens in te spring. En ’n kar uit 1985 briek nie so vinnig nie.

Sal ek dit weer doen? Sonder twyfel. Om 2 500 km in ’n ikoniese 4×4 te doen is nie sommer iets wat jy vinnig vergeet nie, meestal vir goeie redes. Tumelo se kar was baie beter in elke opsig, maar myne het so tikkie ekstra gehad. Iets wat ek nie in woorde kan omsit nie. Ek moes ’n oomblik vat om totsiens te sê toe die kar weggevat is, en ek wonder nou nog of ek ’n fout gemaak het om nie die ding te koop nie.

Ek toets al vir tien jaar voertuie, en die is maar die tweede keer wat ’n kar so diep in my hart gekruip het dat ek ’n brandende begeerte het om een te besit. Die eerste was die Toyota 86. Die tweede een is ’n ou, raserige, ongemaklike, stadige tog uiters lieflike Suzuki SJ410.

Lank lewe die SJ. Lank lewe die Jimny. Mag hy vir nog 50 jaar mense soos ek op onvergeetlike avonture vat.

  • As jy wil sien wat ons alles aangevang het op die avontuur, onthou om in te skakel op Ignition GT op 7 November.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.