Padtoets: Duster stof die res uit

Die Renault Duster. Foto: Verskaf

Renault het laat verlede jaar die alle nuwe Renault Duster bekendgestel. Ons was by die bekendstelling heel beïndruk met dié voertuig – maar ek wou met hom saamleef op ʼn daaglikse basis in my roetine om te sien hoe hy hom gedra.

Dis eenvoudig. Ek is heeltemal oortuig. Die Renault Duster is tans een van die beste waarde medium-grootte gesinsmotors wat mens kan koop. Die Duster is baie mooier as sy voorganger en die binneruim indrukwekkend luuks en ruim, om nie te praat van die enorme kattebak nie. Beenruimte agter is lekker groot, al sit lang mense voor. Die Prestige‑model wat ons getoets het, kom standaard met leerbekleedsel, blindekol-waarskuwing, navigasie, spoed‑ en klimaatbeheer, de lot.

Een van die Duster se troefkaarte is die lieflike 1.5 dCi‑viersilinderturbodieselenjin en sy EDC-ratkas. Die kombinasie bied uitstekende brandstofverbruik en ʼn lieflike ritgehalte wat mens nie sommer in dié klas teëkom nie. Die 1.5 is die Renault/ Nissan/ Mitsubishi‑alliansie se gewildste enjin oor hul reekse. Dit is ʼn goeie ding vir onderdele en ontwikkeling.

Die Renault Duster. Foto: Verskaf

Dit is ʼn uiters betroubare enjin. EDC staan vir Efficient Dual Clutch. Basies is die ratkas meer soos ʼn handrat binne met twee koppelaars, een op elke skag. Een koppelaar beheer 1ste, 3de en 5de rat; die ander 2de, 4de en 6de. Die resultaat is blitsvinnige ratwisselings en puik brandstofverbruik. Ek het net by die 900 km met die Duster gery op die tenk teen 4,9 ℓ/100 km. Dit is indrukwekkend.

Die ander troefkaart is sy vering. Die Duster is lieflik sag geveer. Hy ry besonder sag oor gewone paaie, en as die pad sleg raak amper net so lekker. Gewoonlik sal dit beteken dat die padhouvermoë daarmee heen is en die bakrol belaglik raak. Dit is wel nie die geval hier nie. Die vering is baie goed gekalibreer en die padhouvermoë is heel goed vir die klas voertuig.

Die Renault Duster. Foto: Verskaf

Is die Duster dan perfek? Mmm, jis – bitter amper. Die middelste konsole is baie breed en pla mens se linkerbeen as jy bestuur. Daar is ook bietjie windgeraas om die dakrakke, maar dit pla nie regtig nie. Die spons in die sitplekke kan vir my stywer wees – maar dit was vir my week met hom heeltemal gemaklik genoeg soos dit is. Hoekom stof die Duster dan die ander so uit? Daar is niks in dié grootte, met die spesifikasievlak naastenby soos syne, bekostigbaar geprys nie. Die Ford EcoSport is seker die Duster se naaste mededinger, hy prys tóg die selfde, het ʼn soortgelyke spesifikasievlak maar is glad nie so groot nie. Die Ford kan ook nie in die werklikheid naby die Duster se brandstofverbruiksyfer kom nie al sê hul laboratoriumsyfer anders.

Al wat kort in die reeks is die Duster 4WD, wat glo in die tweede kwartaal van 2019 bekendgestel sal word.

Die reeks lyk so:

Renault Duster 1.6 Expression84 kW/156 Nm7 ℓ/100 kmR255 900
Renault Duster 1.5dCi Dynamique66 kW/210 Nm5,1 ℓ/100 kmR288 900
Renault Duster 1.5dCi Dynamique EDC80 kW/250 Nm4,8 ℓ/100 kmR322 900
Renault Duster 1.5dCi Prestige EDC80 kW/250 Nm4,8 ℓ/100 kmR340 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km‑ en 3 jaar/45 000 km‑diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford EcoSport 1.0 Titanium outo92 kW/170 Nm6,3 ℓ/100 km4 jaar/ 120 000 km‑waarborg

4 jaar/60 000 km‑diensplan

R346 900
Hyundai Creta 1.6D Executive94 kW/260 Nm7.4 ℓ/100 km5 jaar/ 150 000 km‑voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km‑dryfstelselwaarborg

5 jaar/90 000 km‑diensplan

R414 900

As ʼn mens na spasie kyk, is die Creta ʼn nader mededinger as die EcoSport. Hy is wel amper R80 000 duurder, maar bied ʼn baie goeie waarborg en diensplan. Nie een van die mededingers kom by die Duster se brandstofdoeltreffendheid nie en dus bly die Duster my keuse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Chris ·

En op die lang duur, hoeveel gaan onderhoud my uit die sak jaag, ook soos die ander Renault karre?

Brendon ·

Dagsê Chris,

Baie dankie vir jou kommentaar. Die Duster kom met ‘n 5 jaar/ 150 000km waarborg – so die onderhoud is slegs bande, remme en dienste – soos enige ander kar op die mark. Ná die waarborg uitloop kan daar moontlik vir mens verrassings wag, maar dit gaan deesdae vir enige fabrikaat en model.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Francois Fourie ·

Goeie dag – ek moet saamstem- Die nuwe Duster is baie opwindend – Ek het die vorige model 1.5 DCI 2016 Model gehad ,and daar is n groot sprong in die regte rigtig. Ek het die 21/22 na Kimberley toe vertrek vanaf PTA en wow – ek kon ook tussen 4.8 en 4.9 L/100Km kry. My 2016 model het tussen 5.5 en 5.7 L/100 gegee.Ek stem net nie saam met die standard leer sitplekke van die Prestige nie want myne het met gewone bekleedsel gekom.Ratwisseling is uitstekend en ry genot – WOW.
Dankie Renault vir n puik voertuig.

Vraagteken ·

As hierdie voertuig so goed is, hoekom sukkel hulle om tweedehandsewaarde te hou?

Sommer nie ·

Geen voertuig kry meer goeie inruil waarde in SA nie. Ek het tot met my toyota gesukkel. Met sekere make gaan dit beter as ander maar dit bly n gesukkel. As jy nie weer dieselfde maak koop nie dan bly jy verloor

Brendon ·

Dagsê Vraagteken,

Baie dankie vir jou kommentaar. Herverkoopwaarde is bitter moeilik. Bakkies doen goed maar verder is meeste karre maar die selfde. Luukse motors soos BMW, Mercedes-Benz, Audi, Volvo en Lexus is die vrotste van almal as dit by tweedehandsewaarde kom, en dis almal puik voertuie.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Vraagteken ·

@sommer nie, ek weet nie so mooi van jou stelling nie. Terselfdetyd weet ek ook nie hoekom jy met jou Toyota gesukkel het nie. Toyota hou sy waarde die beste en ‘n mens sal nie sukkel om boekwaarde te kry nie (mits daar na hom gekyk is).

@Brendon, luukse motors hou nooit goed waarde nie. Die rede is eenvoudig, as daar iets fout gaan dan kos dit baie om reg te maak en dus will min mense hulle koop. Die Duster is nie ‘n luukse voertuig nie (dis onregverdig om die twee met mekaar te vergelyk), en val in ‘n heeltemal ander klas. Betroubare voertuie (soos met meeste Japanese voertuie) hou goed waarde. Ten minste sal Toyota baie naby aan boekwaarde betaal en ek is taamlik seker die Jimny hou ook sy waarde baie goed. Renault sal huiwer om ongeveer 85% van die inruilwaarde te betaal – dit sê tog iets.

koos ·

Brendon, jy het sy grootste mededinger (in my opinie) nie hier in gesit nie, en die kar kom uit China, en het ongelukkig net ‘n 1.5 turbo petrol, maar enige koper in hierdie klas moet ook na die Haval H2 gaan kyk. (Nee ek werk nie vir GWM of Haval nie). Ek het die Duster en die H2 bestuur en die H2 is grooter en ek dink beter toegerus en die pryse begin by R255 000 tot R319 000 vir die Lux outo (wat ook my keuse is). Hierdie prysklas het baie keuses, maar soos ek ‘n week of twee gelede gelees het bly dit maar ‘n feit dat karre se waarde in die eerste jaar met 25% val en in die derde jaar 50%. Dis is nou maar ‘n feit!

Hennie ·

Vir die wat bekommerd is oor die betroubaarheid van die voertuig, dit is dieselfde diesel engine wat voorkom in die Nissan NP200, Micra, Qasqhai, X-trail ens. Mercedes gebruik ook die diesels in hul A, B en C klas voertuie. My pa het ‘n Micra gehad, 2 x NP200’s en nou die Duster nog nie ‘n dag se probleme nie.

Lientjie ·

Is die Renault Duster dieselfde as die Dacia Duster wat bv in Europa verkoop word?

Brendon ·

Dagsê Lientjie,

Baie dankie vir jou kommentaar. Ja, dit is die selfde voertuig. Dacia is deel van Renault. In Europese lande word dit bemark as ‘n Dacia, en in ander lande as ‘n Renault. Die gewilde Sandero is ook ‘n Dacia. Die voertuig waarop die NP200 baseer is – die Logan was ook ‘n Dacia produk.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

marco polo ·

Einste. Na die gemors wat Dacia ‘n klompie jare terug in SA probeer verkoop het, byt ek maar langtand aan enige iets wat met daardie naam geassosieer word. Ek het wel in 2010 ‘n Renault Scenic gehad, een van die eerstes van die tweedegeslag Scenics wat in SA beskikbaar was. Dit was ‘n oulike bussie en ek het hom na ‘n jaar terug verkoop aan Renault vir dieselfde prys as wat ek vir hom betaal het. Daar was destyds groot aanvraag vir hulle ook, maar duur parte waarvoor jy lank moes wag, het later verkope geknou.

Johan ·

Aai tog, seker net verkoops manne van ander fabrikate wat moan oor dat Dacia betrokke is. Ek ry nou nog my 2010 “Dacia” Sandero met sy “Megane” enjin. Ek’s maar net ‘n verbruiker, en ek doen my huiswer voor ek koop (ek het hom nuut gekoop). Wat veral nice is van die megane enjin is dat hy verbeter is oor die jare, om hom generasie na generasie net beter te maak. Proven tech in my opinie, en enjins is volop sou dit nodig wees om n ander een te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.