Enorme, yskoue planeet ontdek

ʼn Kunstenaarsvoorstelling van ʼn sonsondergang op die planeet wat om Barnard se ster wentel. Dié ster is die naaste enkelster aan die son en dié enorme planeet is pas ontdek. Voorstelling: Martin Kornmesser/ESO

ʼn Enorme, yskoue planeet wat om die naaste enkelster aan die son wentel, is ontdek.

Dié aankondiging is Woensdagaand in die vakjoernaal Nature gedoen nadat ʼn internasionale span sterrekundiges die planeet ná 20 jaar se waarneming in ʼn skaduwêreld met min lig en energie ontdek het.

Die planeet wentel om Barnard se ster, wat sowat ses ligjaar van die aarde is. Dié ster is die naaste enkelster aan die son, ná die Alpha Centauri-driedubbele sterstelsel, waar die naaste eksoplaneet in 2016 gevind is.

Die nuutontdekte planeet het ʼn massa wat 3,2 keer dié van die aarde is, en wentel elke 233 dae om Barnard se ster. Dié ster is ʼn rooi dwerg – koud en met ʼn lae massa. Hy verlig die planeet baie swak wat dit nog moeiliker gemaak het om waar te neem.

Lig van Barnard se ster verskaf net 2% van die energie wat die aarde van die son ontvang, al is hy relatief naby aan die planeet. Temperature op die planeet kan tot -170° C wees, wat dit onwaarskynlik maak vir lewe soos ons dit ken. Maar, indien die atmosfeer substansieel is, kan die temperatuur hoër wees en toestande vir lewe aansienlik meer moontlik.

Die planeet is opgespoor met die Doppler-effek. Terwyl die planeet om sy ster wentel, veroorsaak swaartekrag dat die ster effens slinger. Sodra die ster wegbeweeg van die aarde is daar ʼn spektrumverskuiwing na ʼn langer golflengte genaamd ʼn rooiverskuiwing. Die teenoorgestelde is ook waar, wanneer die ster skuif na korter, blouer golflengtes, is dit wanneer die ster nader aan die aarde beweeg.

Die verskuiwings in die golflengtes van die lig kan fyn waargeneem word. Die veranderings in die ster se snelheid, danksy die planeet wat om hom wentel, kan met uiterste akkuraatheid gemeet word. Die akkuraatheid kan tot op 3,5 km/h bepaal word, min of meer so vinnig as iemand wat loop.

Die volgende generasie teleskope, soos Nasa se Wyeveld-infrarooi-opnameteleskoop, sal kenners in staat stel om eksoplanete regstreeks waar te neem.  Volgens Nasa staan die bevestigde getal eksoplanete wat al ontdek is op 3 837.

Barnard se ster is vernoem na die Amerikaanse sterrekundige Edward Emerson Barnard wat dit in 1916 ontdek het. Die ster lok nog altyd belangstelling by sterrekundiges uit oor sy snelheid van 108 km per sekonde.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Fopnuus ·

Hierdie is totale snert en bog. God het net lewe op die aarde geskape. Lees die Bybel en bekeer.

Rupert Ashford ·

Ontspan beide van julle. Nuwe planete word voortdurend ontdek, maar lewe op ander planete? Nee. Ander bewoonbare planete vir aardbewoners, maw vir lewe soos ons dit ken sonder hulp van tegnologie? Nee.

Koos1 ·

En 300 jaar terug was die aarde plat en God het dit so geskape? En die son het om die aarde gewentel, en God het dit so geskape?
Ek is baie oortuig daar kan lewe op ander planete wees. Of dit van belang is vir ons Geloof, nee wat.

Die Groot Heelal ·

Mense met die hulp van tegnologie is besig om teen ‘n duiselingwekkende spoed nuwe ontdekkings in die groter heelal te doen. Wie sou ooit 20 jaar gelede, in 1998, kon dink dat mens die tegnologie van vandag tot ons beskikking sal hê? Evolusie en verandering is voortdurend en onvermydelik. Vyftig jaar gelede sou mense die berge ingehardloop na die naaste grot toe as hulle sien wat vandag met rekenaars gedoen word. Binnekort in die nabye toekoms, in sowat 100 tot 500 jaar, gaan mense ander planete bewoon in die oneindige heelal.

Mense en ander planete ·

Tegnologie gaan beslis mense in staat stel om ander planete te bewoon. Binnekort. Die projek om Mars te bewoon is reeds ver onderweg. Oor 100 jaar is daar heeltemal ‘n nuwe generasie andersdenkende mense wat aan baie ver gevordere tegnologie gewoond gaan wees en hulle sal dit niks snaaks vind nie. Hoe mense gaan leef oor 500 jaar en waar is vir die meeste mense ondenkbaar omdat mense verkies om hulle self in boksies te plaas waar hulle veilig voel en wat vir hulle bekend is.

Abe ·

MM,
Dit is nou ‘n baie goeie berig! Regtig interessant en opvoedkundig. Keurig aangebied deur Elsabe. Dankie.

Abe ·

Ek het ‘n afskrif gemaak van hierdie artikel en ek beplan om op te lees oor baie van die aspekte wat Elsabe hier aanroer. Hier is werelde van inligting en insig opgesluit! Fantasties.
“Fopnuus” hierbo kan gerus kennis neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.