Aardklop 2019-wenners aangekondig

Alexa Strachan en Antoinette Kellermann (Koningin Lear) (Foto: Megan Gittins)

Deur Megan Gittins

Vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees-toekennings, wat die beste regisseurs en akteurs vereer, is Vrydagaand by ʼn toekenningsfunksie by die 2 Owls-gastehuis in Potchefstroom bekendgemaak.

Alexa Strachan, Aardklop se feesbestuurder, het die aand geopen met ʼn bedanking aan elke kunstenaar by vanjaar se fees. “Ons is hier vanaand om ons produk te eer en ons produk is die kunstenaars.”

Strachan het in dieselfde asem die Aardklop-paneellede, Alby Michaels (sameroeper), AJ Opperman, Heidi Edeling, dr. Mareli Stolp, Kim Cloete en Diane de Beer, bedank wat op die ou end die taai besluite moes neem. Strachan het ook ʼn nuwe toekenning aangekondig. “Die kwaliteit van solo-produksies by die fees was van so ’n hoogstaande gehalte dat dit ons genoop het om ’n ekstra toekenning te gee. Die dapperheid van solo-kunstenaars wat op die verhoog slegs op hulself aangewese is, moet gevier word en daarom vereer ons hulle vanjaar by die fees.”

Alexa Strachan en Brendon Daniels (Queenie-hulle) (Foto: Megan Gittins)

Alby Michaels, paneelsameroeper, het in sy spreekbeurt veral vroue bedank vir hulle fenomenale bydraes vanjaar. “By vanjaar se kunsrevolusie het vroue werklik aangetree. Van die groot en gevierde name in die bedryf tot jong, opwindende stemme van môre – hierdie was die fees waar vroue hulself laat geld het. Belangrike temas is aangespreek, relevante sosio-politieke onderwerpe en idees was in die kollig. Die omvang van hierdie jaar se program was eenvoudig fenomenaal en uiters relevant.”

Michaels het alle akteurs, aktrises, ontwerpers, tegnici, sangers, regisseurs en kunstenaars bedank wat Aardklop vanjaar so suksesvol gemaak het: “Dankie vir goeie kuns”.

Hiér is die wenners:

Aardklop 2019 Beste Aktrise: Antoinette Kellermann (Koningin Lear)

Aardklop 2019 Beste Akteur: Brendon Daniels (Queenie-hulle)

Aardklop 2019 Beste Regisseur: Marthinus Basson (Koningin Lear)

Aardklop 2019 Beste Algehele Aanbieding (moontlik gemaak deur kunsStig): Koningin Lear

ATKV – Aardklop Toekenning vir Grensverskuiwende Werk (slegs debuut): Maboneng Township Arts Experience & Charl du Plessis (Solo). Hierdie toekenning word gedeel.

Aardklop 2019 Beste Vroulike Byspeler: Anna-Mart van der Merwe (Koningin Lear)

Aardklop 2019 Beste Manlike Byspeler: Edwin van der Walt (Koningin Lear)
Aardklop 2019 Beste Musiekgedrewe Produksie: Charl du Plessis (Solo)

Aardklop 2019 Beste Uitvoering – Musiek: Charl du Plessis (Solo)

Aardklop 2019 Visuele Kuns: Beste Uitstalling: Verf dit Swart (kurator: Harrie Siertsema en Abrie Fourie)

Aardklop 2019 Beste Vertolking in ’n Solo-produksie (moontlik gemaak deur kunsStig): Cintaine Schutte (Dinge van ’n kind)

Aardklop 2019 Hartsvriende: Beste Produksie: Tien Duisend Ton

Aardklop 2019 Aktiveer: Beste Produksie: Moord op die 8ste gat

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.