Akteurspaar keer terug na eie bodem

Die akteurs en rolprentvervaardigers Anel en James Alexander. (Foto: Verskaf)

Die geliefde akteurspaar Anel en James Alexander het vir eers Los Angeles se liggies weer vir hul tuisland se vlaktes verruil.

Die Semi-Soet-aktrise het vanoggend die nuus dat sy en haar man weer Suid-Afrika toe verhuis in ʼn plasing op haar Instagram-blad gedeel.

In ʼn gepaardgaande foto kan gesien word dat die egpaar – wat in 2016 hul Suid-Afrika vir die Stad van Engele verruil het – onlangs ook Amerikaanse burgerskap ontvang het om reismoontlikhede tussen die VSA en hul tuisland te vergemaklik.

Die voormalige 7de Laan-aktrise het dié opwindende nuus aan Maroela Media bevestig. “Ons harte was maar nog altyd vir die Suid-Afrikaanse bedryf en om bruggies te help bou tussen ons talentvolle bedryf en die res van die wêreld. Verder sien ons net uit daarna om bietjie nader aan ons familie en vriende te wees… en ’n nimmereindigende toevoer van biltong en beskuit,” skerts die rooikop aktrise en vervaardiger.

In haar plasing skryf Alexander dat dit haar en haar man vyf en ʼn half jaar geneem het om in die VSA tuis te voel en dat hul groot trek een van die moeilikste, maar ook mees lonende besluite was wat hulle ooit geneem het. “Ek het meer oor myself, die wêreld, God, verhoudings, werk én wat werklik saak maak in die lewe geleer.”

Die egpaar het onlangs ook Amerikaanse burgerskap ontvang. (Foto: Instagram/Anel Alexander)

Sy het ook erkenning aan haar LA-familie en die rol wat hulle in die egpaar se groot skuif gespeel het, gegee.

“Ons het die ongelooflikste mense ontmoet wat so buitengewoon goed vir ons was deur ’n paar moeilike tye. Ek sal julle nooit genoeg kan bedank vir julle vriendelikheid en vrygewigheid nie. Dankie, uit die diepte van ons harte.”

Sy het haar plasing afgesluit deur te sê dat sy en haar man hulself in ʼn seisoen bevind waar hulle nader aan hul familie en vriende in Suid-Afrika moet wees. Dit blyk ook dat nuwe avonture in hul tuisland op die bekende egpaar wag, onder meer die vervaardiging van Semi-Soet 2, wat volgens Alexander steeds op dreef is. “Ek is nie seker wat die toekoms inhou nie, maar ek weet God het ’n plan en Hy is in beheer,” skryf sy.

Bekendes soos haar Klein Karoo-medeakteur, Leandie du Randt, en aktrises Simoné Pretorius en Rolanda Marais het ook positief op haar sosialemediaplasing gereageer. “Welkom terug, Anel en James! Bid dat julle gou weer voete vind aan hierdie kant,” het Pretorius op Instagram geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

piet ·

Ja nee wat, gras is ook nie altyd groener aan die ander kant nie. Waarskynlik baie moeiliker om daar as aktrise raakgesien te word as hier.

Hendrik ·

Hulle het eintlik net oorgegaan om burgerskap te kry en dit is ‘n algemene ding wat baie mense doen en so ook uit ons gemeenskap. Dit is ‘n agterdeur as dinge skeefloop in SA.

AmY ·

Baie welkom terug.
Gelukkig kan julle enige tyd terug gaan as dinge dalk verkeerd sal gaan in SA.

Di ·

As dit ek was, sou ek geensins terug gekom het SA toe nie! Dinge raak net erger by die dag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.