Ballet hou bekendes op hul tone

Mia Spies is mal oor ballet. (Foto: Verskaf)

In pienk geklee, soos ’n wafferse ballerina, verken twee Suid-Afrikaanse bekendes die ingewikkelde en verrykende kuns van ballet.

Mia Spies

Alhoewel Mia Spies se lewe en loopbaan in joernalistiek geanker is, hou sy haarself besig en gemotiveerd deur die balletskoene wat sy elke nou en dan aantrek.

Spies het as driejarige dogtertjie vir die eerste keer op ballet verlief geraak, en nes talle ander meisies, het sy haarself pens en pootjies in ’n weeklikse balletklas bevind.

Alhoewel haar liefde vir ballet deur haar laerskoolloopbaan gevloei het, het die besige aard van hoërskoollewe haar laat besluit om eerder haar aandag op ander aktiwiteite te vestig.

“Ek het twee jaar gelede besluit om weer ’n buitemuurse aktiwiteit aan te pak waaraan ek nie gewoond is nie. Dis toe dat ek ballet vir volwassenes ontdek.”

Sy het aan die Cape Ballet School se deur gaan klop om deel te word van hul balletklasse wat aan volwassenes gebied word.

Die balletreis waarop Spies sedertdien gegaan het, was propvol nuwe uitdagings en avonture. Nie net het sy vergete kindervreugde herontdek nie, sy het lewenslange vriendskappe te midde van die balletposisies gesmee.

Alhoewel sy ’n allemintige 20 jaar gelede haar balletskoene opgehang het, is die passies en posisies, wat iewers in haar geheue geëts is, stadig maar seker besig om natuurlik terug te vloei. Sy dink nostalgies terug aan die talle balletkonserte waaraan sy as kind deelgeneem het en vertel opgewonde dat die klasse wat sy nou neem, haar aan daardie tye herinner.

Mia Spies het as klein dogtertjie ook ballet gedoen. (Foto: Verskaf)

“Dit voel soos ’n stukkie kinderdae wat ek weer kan beleef. Dit leer mens om net pret te hê sonder om jouself so ernstig op te neem.”

Spies vertel dat dit aan die begin moeilik was om daardie kinderlike selfvertroue om enigiets te probeer, weer in te span.

“Daardie eerste klas was stampvol – daar was maklik enigiets tussen 15 en 30 mense wat gereed gestaan het,” vertel Spies aan Maroela Media.

“Party het dit nog nooit gedoen nie, ander het soos ek net weer die skoene afgestof. Toe ek dit besef, was dit vir my makliker om selfvertroue te hê.”

Die klas bestaan uit ʼn groep uiteenlopende mense, van tieners tot mense in hul 50’s, met mans én vroue wat alte gretig die kuns wou aanpak. Sy het haar deur die twee jaar terdeë geniet, met elkeen in die klas ’n vriendskap gesmee en het selfs onlangs die planke aangedurf.

“Ons het so baie pret, ons lag verskriklik baie.”

Sy moedig mense aan om ʼn bietjie in hul kinderdae te delf en ’n aktiwiteit aan te durf wat hulle daaraan herinner.

“Selfs al is dit nie ballet nie, probeer net iets nuuts! Of keer terug na iets wat jy as kind gedoen het. Volgende op mý lys is perdrylesse!”

Rolene Strauss

Rolene Strauss. (Foto: Instagram/Rolene Strauss)

In die klein dorpie van Volksrust, waar Rolene Strauss grootgeword het, het die voormalige Mejuffrou Suid-Afrika en Mejuffrou Wêreld ’n liefde vir ballet ontwikkel.

“Toe die balletjuffrou trek, kon ek dit nie meer doen nie. Dit is toe dat ek modelwerk ontdek het. Ek het nog altyd gewonder oor wat sou gebeur as ek aangehou het met ballet,” het Strauss aan Maroela Media vertel.

Sy het besef dat as ma, vrou en werker verloor ʼn mens dikwels jou identiteit in die tientalle pare skoene wat jy moet volstaan. Haar behoud is die terugkeer na die dae toe sy nog ’n klein dogtertjie was, en om vir daardie weergawe van haarself te vra waarvan sy sou hou.

“Mens kan uit daardie antwoord leer.”

Sy erken dat dit soms moeilik is en dat sy dikwels gefrustreerd met haarself raak, maar dat dit die moeite werd is om die droom te bly nastreef.

“Ek het geweet dat die keuse om weer ballet te begin doen, meer emosioneel en psigies van aard is. Natuurlik is dit mooi, maar ek het gevoel dat ek so baie van myself en die lewe daaruit kan leer,” het sy vertel.

“Ek glo dat jy nooit te oud is om jou drome na te streef nie. Dit is goed om weer ʼn bietjie daardie dogtertjie te wees en jou drome na te streef.”

Sy geniet dit om vreesloos die uitdaging aan te pak, kinderlike selfvertroue ten toon te stel en, ten spyte daarvan dat dit soms vir haar moeilik is, die kuns met onblusbare passie aan te pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.