Bekende model (25) in hospitaal ná bloedklont in brein

Hailey Bieber. (Foto: Instagram/Hailey Bieber)

Die Amerikaanse model Hailey Bieber (25) is uit ʼn hospitaal in Palm Springs, Kalifornië, in die VSA ontslaan nadat sy ʼn bloedklont in haar brein gehad het.

Die model en vrou van die popsanger Justin Bieber het Saterdag op Instagram bekend gemaak dat sy Donderdagoggend “simptome soortgelyk aan ʼn beroerte” beleef het.

“Hulle het bevind ek het ʼn baie klein bloedklont in my brein gehad, wat tot ʼn tekort aan suurstof gelei het, maar my liggaam het dit [die bloedklont] self uitgewerk en ek het binne ʼn paar uur herstel,” het Hailey gesê.

Hailey is die dogter van Stephen Baldwin, akteur en broer van die bekende akteur Alec Baldwin, wat self die afgelope paar maande nuusopskrifte gehaal het nadat hy in Oktober verlede jaar “per ongeluk” ʼn vrou op ʼn rolprentstel doodgeskiet en die regisseur van die fliek beseer het.

“Hoewel dit beslis een van die vreesaanjaendste oomblikke van my lewe was, is ek nou tuis en ek vaar goed. Ek is so dankbaar vir die ongelooflike dokters en verpleegsters wat na my omgesien het,” het sy bygevoeg.

“Dankie aan almal wat uitgereik het na my toe met bekommernis en boodskappe van beterskap, en vir die ondersteuning en liefde.”

Hailey en Justin Bieber is op 30 September 2019 getroud. (Foto: Instagram/Hailey Bieber)

Hailey se hospitaalbehandeling volg slegs drie weke nadat Justin se woordvoerder bevestig het dat dié Kanadese sanger positief vir Covid-19 getoets het.

Dit het daartoe gelei dat hy verskeie optredes van sy Justice-wêreldtoer moes uitstel. Dit is nie bekend of Hailey ook die virus opgedoen het nie.

Justin (28) het nog nie kommentaar gelewer oor Hailey se gesondheidsprobleme nie. Hy het wel op die dag van haar hospitaalopname ʼn foto van hulle twee, wat hand aan hand stap, gedeel met die onderskrif: “Kan nie dié een onderkry nie”.

Bykomende bronne: People.com, E! News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.