Britse prinses en Italiaanse magnaat gaan trou

Die koningshuis het Donderdag prinses Beatrice se verlowing aan Edoardo Mapelli Mozzi, ʼn eiendomsmagnaat, bekendgemaak. Foto: Prinses Eugenie/Britse Koningshuis se Facebook-blad.

Nog ʼn koninklike troue vir ʼn Britse prinses word binnekort verwag. Dié keer is dit prinses Beatrice wat die gelukkige nuus amptelik met aanhangers van dié koningshuis gedeel het.

Die koningshuis het Donderdag prinses Beatrice se verlowing aan Edoardo Mapelli Mozzi, ʼn eiendomsmagnaat, bekendgemaak en gesê die paartjie beplan om 2020 mekaar trou te beloof.

Beatrice (31) en Mapelli Mozzi het luidens ʼn verklaring vanuit Buckingham-paleis vroeër vandeesmaand in Italië verloof geraak. Die aankondiging is vergesel deur foto’s van die gelukkige paartjie wat deur Beatrice se jonger suster, prinses Eugenie, in Italië geneem is.

“Dít kom al ʼn tydjie en julle twee is bedoel vir mekaar,” het Eugenie in ʼn plasing op Instagram geskryf waarin sy haar suster met haar verlowing gelukwens.

Die paartjie het op hul beurt in ʼn verklaring gesê hulle is “uiters gelukkig dat hulle die nuus oor hul onlangse verlowing kan deel”.

“Ons is albei so opgewonde om saam hierdie nuwe lewensavontuur te begin en kan nie wag om getroud te wees nie,” het hulle gesê.

Beatrice en Eugenie is die dogters van koningin Elizabeth II se seun, prins Andrew, die hertog van York, en sy eksvrou Sarah Ferguson.

Eugenie (29) is in Oktober 2018 met haar jare lange kêrel, Jack Brooksbank, getroud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Abe ·

Baie mooi foto’s van 2 pragtige mense. Mag hulle baie voorspoedig wees en gelukkig saam oud word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.