Caroline en Heinrich se ‘grootste seën op perfekte tyd’

Caroline-Grace en haar man, Heinrich Brüssow. (Foto: Instagram)

Die nuus is uit – Caroline-Grace Brussöw (33) en manlief Heinrich (33) verwag hul eersteling!

Caroline-Grace het die blye nuus vanoggend aan Maroela Media bevestig. “Ons is so opgewonde! Dit is net die grootste geskenk wat ons kon kry,” sê sy. Sy vertel laggend Heinrich is baie trots oor die kleinding wat op pad is.

Volgens Caroline-Grace het hulle al vanaf agt weke geweet dat sy swanger is, maar het hulle die spesiale nuus eers vir ʼn ruk geheim gehou. Sy nou vier maande swanger en die babatjie behoort in Desember sy of haar opwagting te maak. Die egpaar weet nog nie of dit ʼn dogtertjie of ʼn seuntjie is wat op pad is nie.

Die nuwe pienkvoet kom ná ʼn uitdagende twee jaar in die Brussöws se lewe. Terwyl Caroline-Grace besig is om aan haar blink sangloopbaan in Suid-Afrika te bou, is Heinrich in Engeland waar hy klubrugby vir die Northampton Saints speel.

Caroline-Grace in Northumberland in die Verenigde Koninkryk waar haar man vir Northampton Saints rugby speel. (Foto: Instagram)

Die egpaar moes weens hul onderskeie loopbaanverpligtinge lang tye weg van mekaar af wees en gedurig heen en weer reis om mekaar te sien wanneer hul skedules dit toelaat. Caroline-Grace sê dié langafstand‑liefde sal egter binnekort iets van die verlede wees.

“Ons kom volgende jaar terug Suid-Afrika toe om hier te kom anker gooi. Ek sal einde November Engeland toe vlieg, net voordat ek nie meer mag vlieg nie, en ons babatjie sal daar gebore word. Sodra Heinrich se kontrak dan klaar is, sal ons terugkom Suid-Afrika toe,” sê sy.

Sy vertel hulle beplan om in George nes te skop. “Ons wil by ons mense wees en by ons ouers wees. My beroep is ook hier en Suid-Afrika is net die beste plek vir ons,” sê sy.

Caroline vertel hul familie deel in hul vreugde oor die koms van die nuwe familielid en die oupas en oumas is in die wolke oor die nuwe kleinkind. “Ek en Heinrich is al ses jaar getroud, so ek dink hulle sien al baie lank uit dat hierdie nou gebeur!” lag sy.

Caroline-Grace en haar man, Heinrich Brüssow, op hul troudag. (Foto: Facebook)

Vir haar en Heinrich is die tydsberekening perfek. “Mens kan dit eintlik nie glo nie, maar dit kon nie op ʼn beter tyd kom nie. En dit verander mens onmiddellik. Jy dink nooit aan jouself as ʼn ouer nie, maar toe ons uitvind, het dit onmiddellik ʼn vuurtjie in ons harte aangesteek. Ons sien so baie hierna uit.”

Caroline-Grace het al van kleintyd af ʼn passie vir sing, maar dit was op die tweede seisoen van The Voice-reeks in 2017 waar sy die Suid-Afrikaanse musiekbedryf laat regop sit het. Haar debuut-album, Eindelose Liefde, wat in 2017 uitgereik is, het aan haar ’n Ghoema-benoeming vir beste nuweling van die jaar besorg en die sangeres se program is propvol soos sy oral in die land verhoë aan die brand sing.

Caroline-Grace het net vroeër vandeesmaand die musiekvideo van haar liedjie “Voor jou” bekendgestel en die video is met groot lof ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Anka le Roux ·

Linda, almal verdien die wonderlike vreugde, tog is dit nie almal beskore nie

Waarheid ·

Baie geluk en mag alles geseënd verloop tot jul aldrie terug in SA by jul geliefdes kan wees. Sterkte.
GELOOF en ware volharding het Sara eers na 40 jaar geseënd gewees om haar en Abraham se eie kind tsv haar eie planne ens. te kon vashou Die mens VERDIEN net uit SY Genadigde LIEFDE en Beloftes.

INA ·

Wonderlikke nuus… Julle is twee pragtige mense, & èk glò die kleinding sal netso pragtig wees… Bàie geluk & seën met die swangerskap…

Jan ·

En so word baie baba’s elke dag in RSA gemaak. Is jul nou spesiale mense vir die aankondiging.

Rêrig ·

Ag Jan moet jy nou ‘n bol in die drinkwater wees? Ja daar word baie babas elke dag in S.A. gemaak of gebore, maar almal is nie babas van bekendes nie. Hierdie mense het dalk heelwat aanhangers wat graag oor hulle wil lees of foto’s wil sien. Dis in elk geval veel beter om positiewe berigte te lees as berigte oor verkragtings, moorde, plaasaanvalle, ens. As hierdie tipe berigte jou so dwars in die krop steek, waarom dan hoegenaamd die skakel selfs oopmaak om dit te lees. Dit sê vir my dat jy eintlik vrek nuuskierig was!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.