David Rees ‘maak goeie vordering’

David Rees. (Foto verskaf)

David Rees is ná ʼn week en ʼn half in die waakeenheid van die Milpark-hospitaal in Johannesburg na die hoësorgeenheid geskuif.

Rees (55), bekend vir sy rol as Chris Welman in die SABC2-sepie 7de Laan, moes Maandag 7 Augustus ʼn dringende hartomleidingsoperasie ondergaan nadat hy verlede Sondag ʼn hartaanval gehad het.

“Hy maak goeie vordering onder omstandighede,” het Corlia Strauss, Rees se verteenwoordiger, aan Maroela Media bevestig.

Alhoewel sy hom nog nie self kon besoek nie, hou sy familie haar daagliks op hoogte van sy toestand. Weens infeksiebeheer word besoekers by hom beperk, maar vriende en kollegas het die afgelope week vir hom bemoedigende stemboodskappe gestuur.

“Sy familie sê dat sy gesig ophelder wanneer hy na hul boodskappe luister,” sê Strauss.

Rees se 7de Laan-kollegas en -vriende loer elke dag in om te hoor hoe dit met hom gaan, sê Strauss. Hulle ontvang by die dag net meer opbouende ondersteuningsboodskappe, en hoewel hulle nie alles op een slag vir Rees kan speel nie, sê Strauss dat elkeen wel by hom uitkom.

Rees het self ook ʼn stemboodskap vir Strauss gestuur.

“Mens kan hoor dat hy siek is, maar hy baklei. Hy het gesê dat hy daarna uitsien om almal weer te sien.”

Die akteur, wat destyds bekendheid verwerf het as die stoutseun Nick Naudé in die sepie Egoli – Plek van goud, behoort nie aan ʼn mediese fonds nie.

Die hospitaal het die familie tegemoet gekom met ʼn rekening, maar dit is ʼn massiewe bedrag wat ongelukkig net nie sonder hulp haalbaar is nie, sê Strauss.

Maroela Media het vroeër berig Rees se suster, Monique Buttle, het intussen ʼn Back a Buddy-fonds vir David gestig. ʼn Doelwit van R500 000 is op dié blad ingestel.

Daar is reeds nagenoeg R80 000 ingesamel.

“Ons het nog nie ons groot doelwit bereik nie, maar ons is ongelooflik dankbaar vir ieder en elk wat al tot die fonds bygedra het.”

Strauss vra dat Rees en sy gesin se privaatheid in dié tyd gerespekteer word, maar dat bemoedigende boodskappe altyd welkom is.

Om tot David Reeds se fonds by te dra, volg die Back a Buddy-skakel of stuur ʼn e-pos na [email protected]. Strauss nooi mense ook uit om bemoedigende boodskappe aan Rees na [email protected] te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Miskruier ·

Ek kry n klein pensioen, ry n ou kar, koop klere by Pep maar betaal n hospitaalplan sodat my familie nie te hoef bedel sou ek in die hospitaal op eindig

Harley Davidson ·

Bietjie kras,as ons ‘n ordentlike regering gehad het kon ons soos in Duitsland gratis mediese hulp gehad het .

JuanRe ·

Ek stem 100% saam jou. Ek weet akteurs kry nie so baie soos oorsee nie, maar regtig mens sny eerder ander uitgawes maar nooit op jou medies en aftrede nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.