Demi-Leigh onder beoordelaars vir Mej. SA

Demi-Leigh Nel-Peters (Foto: Verskaf)

Voormalige Mej. Suid-Afrika Demi-Leigh Nel-Peters, huidige Mej. Heelal Catriona Gray, asook drie ander bekende vroue sal vanjaar bepaal wie met die Mej. Suid-Afrika-kroon wegstap.

Die res van die beoordelingspaneel sal bestaan uit radiopersoonlikheid Anele Mdoda, aktrise en sakevrou Connie Ferguson en model, aktivis en prokureur Thando Hopa.

Die glansryke Mej. Suid-Afrika-kompetisie vind dié Vrydag, op Vrouedag, by die Sun Arena in Pretoria plaas.

Nel-Peters, wat in 2017 die Mej. Heelal-kroon vir Suid-Afrika gewen het, sê sy is opgewonde om vir die eerste keer aan die ander kant van die Mej. Suid-Afrika-verhoog te wees.

“Ek neem nie my verantwoordelikheid ligtelik op nie. Ek was al in die deelnemers se skoene, so ek verstaan waardeur hulle gaan. Ek kan my met hulle in alle aspekte van die kompetisie vereenselwig.

“Te danke aan my ervaring as internasionale model en die feit dat ek al talle kere vantevore ʼn beoordelaar van nasionale kompetisies was, glo ek my kennis en ervaring sal waardevol wees,” sê sy.

Catriona Gray (Foto: Verskaf)

Nel-Peters sê sy is op soek na ʼn Mej. Suid-Afrika wat ʼn goeie verteenwoordiger van die reënboognasie en werklik lief vir haar land is. “Ek is ook op soek na ʼn sterk, onafhanklike, goed versorgde vrou wat grasieus, eg en vriendelik is. Mej. Suid-Afrika hoef nie perfek te wees nie; ek soek eerder iemand wat trots is op wie ook al sy is.”

Gray sê sy is ook op soek na iemand wat nie probeer perfek wees nie, maar eerder haar eie weergawe van perfek omarm. “Ek sal op die uitkyk wees vir uniekheid, selfvertroue en doelgerigtheid. Ek soek iemand wat Suid-Afrika se sukses op die Mej. Heelal-verhoog kan laat voortleef,” sê sy.

Mdoda, wat vanjaar vir die derde keer ʼn beoordelaar van dié skoonheidskompetisie is, sê sy sal vanjaar haar beoordelaarspligte anders aanpak as in 2013, toe Rolene Strauss eers met die Mej. Suid-Afrika- en later met die Mej. Wêreld-kroon weggestap het.

“Ek het saam met die wêreld gegroei. Ek is nou ʼn ma, so dit maak my meer koesterend, maar ook meer gefokus op my taak.”

Mdoda sê gedurende die kompetisie verander ʼn beoordelaar se besluit minstens drie tot vyf keer. “Maar dit is goed, dit moet so wees,” sê sy.

Anele Mdoda (Foto: Verskaf)

Ferguson sê op haar beurt sy is op soek na iemand wat nie haarself te ernstig opneem nie, wat lief is vir die lewe en van binne af buitentoe skyn. Sy moet ook ʼn goeie kommunikeerder en gesond wees, en die diversiteit van Suid-Afrika verstaan.

Hopa, wat die eerste vrou met albinisme op die voorblad van die modetydskrif Vogue was, soek iemand wat waagmoed verkies eerder as om te konformeer aan die wêreld se skoonheidstandaarde. “Haar platform en teenwoordigheid moet meer inklusiwiteit, transformasie en perspektief meebring. Ek sal soek na die uniekheid wat elke deelnemer bied,” sê sy.

Afgesien van die beoordelaars kan die publiek ook vanjaar vir een deelnemer stem. Die wenner van die “publiek se keuse”-stemme sal dan direk deurgaan na die top-10 van die kompetisie. Mense kan op www.misssa.co.za vir hul gunstelingdeelnemer stem.

Die wenner van vanjaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie sal wegstap met byna R3 miljoen in pryse en borge. Die eerste prinses sal R250 000 in kontant wen en elk van die 16 finaliste sal R25 000 ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.