Derrich Gardner se skatkis vol talente

Derrich Gardner en Keith Kirsten. (Foto: Verskaf)

Deur Elize Perrin

Hy voel soos familie met wie jy elke Saterdag ʼn vaste koffieafspraak het. Dit is Derrich Gardner, omroeper by RSG en aanbieder van Brêkfis met Derrich.

ʼn Kleintyddroom

Hierdie boorling vanuit Johannesburg se omgewing speel al radio vandat hy kan onthou.

“Ek en my Afrikaans- skooljuffrou het steeds kontak, want ek het haar mal gemaak omdat ek net wou gaan uitsaai en sy al die proefopnamelopies moes deurworstel,” vertel hy. “Danksy haar inspirasie was dit die grondslag vir waar ek vandag werk.”

Derrich se liefde vir tale het beslis ʼn rol in sy toekomsbesluit gespeel en so het hy as student by die destydse RAU, nou Universiteit van Johannesburg, aangemeld.

“Daar was ʼn kampusradio en dit was naby die SAUK. So, ek het gereeld by Fanus Rautenbach en ander in die ateljee gaan kers opsteek en geleer,” sê hy. “Ons is in die ou dae baie goed deur die SAUK opgelei en vandag is ek dankbaar vir al die dramalesse en spraakklasse by die professors van WITS.”

Vir Derrich is radio koning.

“Dit is net jy en die luisteraar,” sê hy. “Kreatiwiteit het geen perke nie. Jy kan enige storie in 3-D volkleur vertel.”

ʼn Uitdaging vir enige persoon in die vermaaklikheidsbedryf is om jou gehoor telkens terug te lok; iets waarin Derrich wel slaag. Deel van sy suksesresep is dat hy sélf een van sy luisteraars word en elke persoon met respek hanteer.

“Jy praat nooit neer nie,” sê hy. “Of dit nou ʼn ongeskoolde boorling van ʼn stofdorpie is of ʼn kernwetenskaplike – almal verdien my respek en ek kan by elkeen iets leer. En ek luister wanneer mense praat.”

Derrich in die ateljee.(Foto: Verskaf)

Derrich, wat naby Gandhi se huis gewoon het en kleintyd die Indiërkultuur van sy maatjies leer ken het, gee toe dat hy baie nuuskierig is.

“Ek en tannie Google lees omtrent alles wat nuus en van belang is. Die wêreld se inligting is net ʼn muisklik weg. Ek hou van vars nuus en inligting,” vertel hy. “Die koerante moet by mý hoor wat môre se gebeure inhou.”

Die vrug van hierdie nuuskierigheid is die wye algemene kennis waarmee hy sy luisteraars bederf. Sy veelsydigheid het tot gevolg dat hy die hele Saterdagoggendprogram self aanmekaarsit.

“Ek doen alles self,” sê hy. “Tegnies, navorsing, alles! My program is aanmekaargesit om by my gehoor te pas. Ek ry self die karretjie in die rigting wat ek dink werk.”

Iets wat beslis werk en besonder gewild onder sy luisteraars is, is die Vat Vyf-insetsel. Om as gas jou liedjies en stories agter die liedjies te deel, is op menige luisteraar se wensdoenlysie. Die wenresep het ontstaan toe Derrich die Saterdagoggendprogram moes oorneem met die opdrag dat dit pret moet wees en die luisteraars betrek moet word.

“Met Vat Vyf hoor jy die beste stories van die beste mense wat vir twintig minute die land tot stilstand roep,” sê hy. “Herinneringe sluit sintuie soos ruik, hoor, voel, alles in. Dit word onsluit die oomblik wanneer ʼn storie aan musiek gekoppel word. Vir my is dit soos weeklikse terapie.”

Derrich is egter nie iemand wat hom in ʼn boksie laat druk nie. Die versoek vir sy eie Vat Vyf word vriendelik omseil.

“Dit sal my jare neem,” sê hy, “en ek is al baie gevra om dit te doen. Maar dit verander heeltyd. Dalk sal ek dit eendag kan doen.”

Tweede keuses

Moet egter nie te gou die skatkis se deksel toemaak nie. Behalwe vir Derrich se sukses agter die mikrofoon, het hy ook reeds verskeie kere sy talent voor die kamera gewys as aanbieder van televisieprogramme soos Pasella, 50/50 en Kwêla, om net enkeles te noem.

“Waar radio net jy en die luisteraar is, het jy op televisie ʼn hele span en stelle nodig om dieselfde punt te maak,” sê hy.

Stemwerk en die korporatiewe mark is ook nie vir hom nuut nie. Sy tweetaligheid dra gewis tot sy suksesvolle loopbaan by.

Nuuskierigheid laat ʼn mens wonder of daar dalk ʼn ander beroep is wat hy sou oorweeg indien die vermaaklikheidsbedryf nie gewen het nie?

“Ek sou heel moontlik tuinboukunde of fotografie doen,” antwoord hy.

As ywerige tuinier doen hy sy van gestand en sy liefde vir fotografie het selfs tot ʼn onlangse uitstalling gelei.

“Fotografie leer ʼn mens om met ander oë na die wêreld te kyk,” vertel hy. “Dis amper kinderlik; soos ʼn kleuter wat elke sekonde iets nuuts raaksien en ondersoek gaan instel. Met fotografie moet ʼn mens net die tegniese deel kan bemeester om daai oomblik só vas te vang dat ander dit ook kan sien. Ek raak nou nog opgewonde elke keer as ʼn bytjie op ʼn blom kom land.”

Sy liefde vir fotografie is ook ’n pasmaat vir sy liefde om te reis.

Olifante by Kapama se watergat (Foto: Derrich Gardner)

“Ek het baie lank gelede elke vakansie opgeoffer om toergids, byna soos ʼn chaperone, vir groot maatskappye te speel,” vertel hy. “Ek is dan in Mauritius vir tot ses weke op ʼn keer geplaas en moes ek elke week nuwe groepe ontvang en toesien dat die toeragentskappe na die mense omsien.”

Op dié manier het Derrich die ware Mauritius leer ken en baie goeie vriende gemaak.

“Ek is ook gelukkig om binne dae goudbruin te raak en dan lyk ek soos ʼn local. Daar is dalk so ordentlike hippie iewers in my gene weggesteek wat kaalvoet in die sand wil leef langs die potblou see.”

Indië en Rusland is lande wat hy nog graag met sy kamera oor die skouer sal wil besoek, en Australië is ook ʼn gunsteling- reisbestemming.

“Die plek waar ek egter die graagste sou wou woon, is Mauritius,” sê hy.

Derrich doen veldwerk vir TV. (Foto: Verskaf)

Dit laat die vraag opkom of hy al ooit oorweeg het, of in die toekoms sou oorweeg, om elders groener weivelde te gaan soek. Hy het genoeg talent en ervaring en is ook gemaklik tweetalig.

“Ek is baie gelukkig omdat ek ook in my loopbaan geleer is om neutrale Engels te praat,” sê hy. “Omdat ek ook TV kan vervaardig, sou ek baie maklik oorsee kon werk, maar ek is nog gelukkig met wat ek doen. SA is steeds een van die beste plekke in die wêreld. Elke land het sy kruis.”

Om die skatkis vol te hou, moet hy ook sy tenk volhou. Dit doen hy in die gimnasium.

“Ek oefen baie hard en leef gesond,” deel hy sy resep. “Gimnasium is my wegkruipplek, want die selfoon en werk bly dan tuis. Dan is dit net jy en jou kop wat so tussendeur die sweetdruppels kan skoonmaak. In ons beroep is dit ook belangrik om ʼn bietjie op jou voorkoms te let, want dit verleng ʼn mens se raklewe op TV.”

Is daar onder in die skatkis ʼn ontdekking wat dalk vir sommige ʼn verrassing kan wees; ietsie wat die luisteraars nie van Derrich Gardner geweet het nie?

“Ek is totaal hiperaktief en kan nie stilsit nie. Verder is ek maar so ietwat van ʼn loner omdat mense nie ʼn kreatiewe, besige bytjie kan verstaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.