‘Dit gaan goed’ met Riaan Benadé ná beroerte

Riaan Benadé sterk aan in die hospitaal (Foto: Riaan Benadé/Instagram)

Die Afrikaanse sanger, Riaan Benadé, het vanuit sy hospitaalbed ʼn boodskap met sy aanhangers gedeel: “Dit gaan goed.”

Dié 31-jarige sanger het Sondag op sosiale media bekendgemaak dat hy verlede week ʼn beroerte gehad het.

“My kop voel foggy wanneer ek opstaan, maar ek dink hy is net ʼn bietjie moeg baklei,” het Riaan vandag (10 Julie) in ʼn Facebook-video van hom laat hoor.

“Baie dankie vir almal se goeie wense. Julle het my regtig so goed bygestaan.”

Dokters kon nog nie bepaal wat presies die beroerte veroorsaak het nie, maar wel dat dit nie groot was nie.

“Al wat ek weet is dat my Pa in die hemel nog steeds wonderwerke laat gebeur. Ek is geseënd en so dankbaar om te sê dat die simptome alles al Donderdagmiddag verdwyn het. Ek het tot dusver nog glad nie newe-effekte ervaar nie. Ek kan nie wag om hierdie storie te deel nie. Dis een wat getuig van God se goedheid en guns,” het die sanger Sondag op Instagram gedeel.

Benadé moes sy optrede Saterdagaand by die Oppi Kus Musiekfees in Margate kanselleer. Hy het die organiseerders en aanhangers om verskoning gevra. “Ek het baie uitgesien na daardie show! Ek sien julle hopelik volgende jaar.”

Hy is dankbaar vir sy ondersteuners se onderskraging en beskryf dit as “ʼn riem onder die hart.”

“Stelselmatig sal ek genees,” het hy in die video gesê.

“Al wat ek kan sê is dankie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.