Ed Sheeran spog met sy eersteling

Ed Sheeran het in Maart 2019 vier konserte in Suid-Afrika gehou. (Foto: Instagram via @teddysphotos)

Ed Sheeran het pappa geword!

Die 29-jarige sanger en sy vrou, Cherry Seaborn, het vroeër Dinsdag die geboorte van hulle eersteling op sosiale media aan sy aanhangers bevestig.

Sheeran se dogtertjie spog boonop met ʼn besonderse, maar gepaste naam: Lyra Antarctica Seaborn Sheeran.

In ʼn inskrywing op Instagram het die sanger gesê hulle is behoorlik in die sewende hemel oor die aankoms van hul dogter, wat glo verlede week al gebore is.

Hy het ʼn foto van klein Lyra se bababedjie met blou en grys sokkies en ʼn veelkleurige gebreide kombersie gedeel.

Dit was ook Sheeran se eerste inskrywing op dié sosialemediaplatform sedert 24 Desember. Die paartjie het verkies om Seaborn (28), ʼn talentevolle hokkiespeler, se swangerskap privaat en uit die nuuskollig te hou. Die eerste gerugte oor die swangerskap het eers drie weke gelede die rondte begin doen.

https://www.instagram.com/p/CEliNEOBw3O/

Luidens berigte het die paartjie die afsonderingstydperk in Suffolk in die Verenigde Koninkryke as die perfekte verskoning gebruik om seker te maak hulle kry hul huis gereed vir die aankoms van hul eersteling.

Die sanger Ed Sheeran. (Argieffoto.)

Die “Thinking Out Loud” -sanger en sy jare lange liefde is oor die algemeen betreklik mediasku. Sheeran het sy verlowing aan Seaborn in Januarie 2018 aangekondig en hulle is glo kort daarna getroud. Die sanger het egter eers weke daarna met ʼn ompad in die media bevestig dat hy en Seaborn wel getroud is terwyl hy een van sy liedjies bespreek het en in die gesprek na haar as “sy vrou” verwys het.

Die sanger het vroeër ook al gesê hy sal die pas ʼn bietjie markeer om tyd te maak sodat hy ʼn gesin kan begin.

In sy plasing op 1 September het Sheeran ook die personeel bedank wat by die geboorte van hul dogtertjie betrokke was. Hy het bygevoeg dat die egpaar halsoorkop verlief is op hul klein dogtertjie.

“Ello! Net ʼn vinnige boodskap van my want ek het ʼn bietjie persoonlike nuus wat ek met julle wil deel.

“Dit gaan wonderlik met mamma en baba en is in die sewende hemel hier. Ons hoop dat julle op hierdie oomblik ons privaatheid sal respekteer. Baie liefde en ek sien julle weer wanneer dit tyd is om terug te kom, Ed X,” het hy geskryf.

Sheeran se inskrywing het talle boodskappe van gelukwensing van sy 31,3 miljoen volgelinge ontvang wat hom en sy gesin voorspoed en liefde toewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.