Foto’s: Prinses Kate skitter in eeueoue kopstuk

Prins William en prinses Catherine, die prins en prinses van Wallis. (Foto: Yui Mok/AFP)

Kate Middleton, oftewel prinses Catherine van Wallis, het Dinsdagaand behoorlik van kop tot toon geskitter toe sy ʼn skaars tiara uit die koninklike argiewe tydens ʼn staatsdinee vir die Suid-Koreaanse president, Yoon Suk Yeol, by Buckingham-paleis gedra het.

Lord Strathmore het in 1923 die Strathmore Rose-tiara, soos daar na dié diamantblomkroon verwys word, as trougeskenk aan sy dogter, Elizabeth Bowes-Lyon, gegee voordat sy met die hertog van York (later bekend as koning George VI) getrou het.

Dit is ontwerp om soos ʼn krans van wilde rose te lyk, en kan boonop uitmekaargehaal word om op verskillende maniere gestileer te word; óf oor die voorkop, op die hare en selfs as vyf individuele borsspelde, berig Vogue.

Die prinses het van kop tot toon geskitter. (Foto: Yui Mok/AFP)

Koning Elizabeth (ook bekend as die koninginmoeder) se dogter, koningin Elizabeth II, het die tiara by haar ma geërf, maar dit is na bewering sedert die 1930’s in die koninklike kluis gebêre – moontlik omdat dit maklik beskadig kan word.

Die prinses van Wallis het dié delikate kopstuk egter Dinsdagaand nuwe lewe gegee en dit met ʼn wit skepping met goue detail van Jenny Packham gedra.

Die stylvolle koninklike het ook vroeër die dag saam met prins William, prins van Wallis, koning Charles III en koningin Camilla die Suid-Koreaanse president en sy vrou, Kim Keon Hee, in Londen verwelkom met ʼn formele seremonie by Londen se Horse Guards Parade-terrein.

Hier het sy uitgestaan in ʼn appelrooi, monochromatiese mantelrok van die modeontwerper Catherine Walker, bypassende suede hakskoene en ʼn helderrooi wyerandhoed.

Meghan terug op Hollywood se rooitapyt

Meghan Markle, die hertogin van Sussex, het anderkant die waters teruggekeer na die Hollywood-kollig vir Variety se Power of Women-geleentheid in Los Angeles.

Dié geleentheid vier dié publikasie se Power of Women-bekroondes, wat elkeen hul eie Variety-voorblad kry. Meghan is verlede jaar self vereer, maar kon die geleentheid nie bywoon nie weens die dood van koningin Elizabeth II.

Die Hollywood-hertogin, bekend vir haar rol in die trefferreeks Suits, het ʼn eenvoudige en elegante, beige eenskouer-midi-rok deur Proenza Schouler en klein, goue hoepeloorbelle gedra.

Haar man, prins Harry, die hertog van Sussex, het haar nie na die geleentheid vergesel nie.

Hulle woon tans in Kalifornië in die VSA nadat hulle in 2019 finaal van hul koninklike pligte afstand gedoen het.

Bronne: Vogue, Variety, People.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.