Hier is ‘Forbes’ se hoogsbetaalde aktrises van 2018

Scarlett Johanssen (links). (Foto: Invision/AP)

Die Amerikaanse saketydskrif Forbes stel jaarliks ʼn lys van die wêreld se hoogsbetaalde aktrises bekend en vanjaar het die Amerikaanse aktrise Scarlett Johansson se rol as Black Widow in die Marvel-fliek Avengers: Infinity War haar plek in die no. 1-posisie op dié gesogte lys verseker.

Johansson (33) het tussen 1 Junie 2017 en 1 Junie 2018 altesaam $40,5 miljoen (sowat R608 miljoen) voor belasting verdien. Volgens die tydskrif is dit vier keer soveel as wat sy die vorige jaar verdien het.

Tweede op die lys is die Amerikaanse aktrise Angelina Jolie (43), met ʼn inkomste van $28 mijoen (sowat R420 miljoen). Dit is te danke aan die voorafbetaling wat sy ontvang het vir haar rol in die Disney-fliek Maleficent 2.

Jennifer Aniston (49) is derde op die lys met ʼn inkomste van $19,5 miljoen (ongeveer R290 miljoen). Sy verdien steeds ʼn inkomste vir haar rol as Rachel Green in die uiters gewilde sitkom, Friends, 14 jaar nadat dié reeks tot ʼn einde gekom het. Sy verdien ook die meeste van haar inkomste deur handelsmerke soos die Emirates-lugredery, Smartwater en Aveeno te onderskryf.

Reese Witherspoon. (Foto: Xinhua/Li Ying)

Vierde op die lys is die Amerikaanse aktrise Jennifer Lawrence (28), wat bekendheid verwerf het as Katniss Everdeen in die The Hunger Games-fliekreeks. Haar jongste twee rolle in die flieks Mother! en Red Sparrow het vir ʼn inkomste van bykans $18 miljoen (sowat R268 miljoen) gesorg.

Reese Witherspoon (42) is huis toe met ʼn inkomste van $16,5 miljoen (ongeveer R246 miljoen). Daar word verwag dat haar inkomste volgende jaar meer sal wees wanneer haar en Aniston se nuwe Apple-reeks bekendgestel word. Die aktrises sal glo na raming elkeen $1,25 miljoen per episode verdien.

Die res van die lys is opgemaak deur aktrises soos die Amerikaner Mila Kunis, die Australiër Cate Blanchett en die Israeliese Gal Gadot, wat bekend is as die nuwe Wonder Woman.

Die wêreld se tien hoogsbetaalde aktrises het altesaam ʼn inkomste van $186 miljoen (sowat R2,7 miljard), tussen 1 Junie 2017 en 1 Junie 2018, verdien. Die aktrises se verdienste word beraam deur gebruik te maak van data wat deur Nielsen, ComScore, Box Office Mojo en IMDB saamgestel is, asookuit onderhoude met mense in die binnekringe van die bedryf. Al die syfers is bereken voordat belasting, agentbetalings en prokureursgeld afgetrek is.

Bron: Forbes

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jets ·

Jennifer, 49 en nogsteeds so beeldskoon! Word mooier met die jare, en natuurlik die pragtige, asemrowende Reece!

Ans Becker ·

Ek wonder nou net, is dit goeie Afrikaans om te sê, “die lys is opgemaak”… Dit sou vir my beter geklink het om te sê “die res van die lys bestaan uit…”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.