Hoe lyk Hollywood: Leo red man uit see; Justin maak oop oor gesondheid

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Justin Bieber is siek

Justin Bieber en sy vrou, Hailey. (Foto: Instagram/Justin Bieber)

Justin Bieber en sy vrou, Hailey. (Foto: Instagram/Justin Bieber)

Die Kanadese popster Justin Bieber het op sy sosialemediaprofiele aangekondig dat hy met Lyme-siekte en chroniese mononukleose gediagnoseer is.

Dié nuus kom nadat talle aanhangers die sanger op sosiale media gekritiseer het oor sy voorkoms.

“Terwyl ʼn hele paar mense aanhou sê Justin Bieber lyk sleg, asof ek op dwelms is, besef hulle nie dat ek onlangs met Lyme-siekte gediagnoseer is nie,” het die sanger op Instagram geskryf.

“Boonop het ek ook ʼn ernstige geval van chroniese mono wat my vel, breinfunksie, energie en algemene gesondheid affekteer. Hierdie dinge sal verder verduidelik word in ʼn doku-reeks wat ek binnekort op YouTube gaan plaas. Julle kan leer oor alles wat ek beveg en oorkom.”

Ander bekendes wat ook met Lyme-siekte gediagnoseer is, is die sangeresse Shania Twain en Avril Lavigne, ook albei Kanadese.

Rob Kardashian dagvaar vir volle toesig van sy dogtertjie

Rob Kardashian en sy ma, Kris Jenner. (Foto: Instagram)

Rob Kardashian en sy ma, Kris Jenner. (Foto: Instagram)

Rob Kardashian, die broer van die bekende Kardashian-susters en seun van Kris Jenner, dagvaar sy voormalige verloofde, Blac Chyna, vir volle toesig van hul driejarige dogtertjie, Dream Kardashian.

Rob (32) beskuldig Blac Chyna daarvan dat sy partytjies hou in Dream se teenwoordigheid en glo vreemdelinge nooi om saam met haar dronk te word.

Rob voer in hofstukke aan dat Dream se gedrag onlangs verander het en dat sy glo kaal dans en seksposisies namaak wat sy glo by haar ma geleer het. Dream gebruik ook glo onvanpaste taal.

Blac Chyna het ook ʼn sewejarige seun, King Cairo, saam met haar ekskêrel, Tyga. Tyga het voorheen met Rob se suster, Kylie Jenner, uitgegaan.

Rob het die hof gevra om Dream se tyd saam met haar ma te beperk tot naweke met ʼn oppasser teenwoordig.

Leo red man wat van seiljag afval

Leonardo DiCaprio by vanjaar se Golden Globe-toekennings in Beverly Hills. (Foto: by Jordan Strauss/Invision/AP, File)

Die Oscar-bekroonde akteur Leonardo DiCaprio (45) het ʼn man in die Karibiese Eilande gered toe dié van ʼn seiljag afgeval en in die water beland het. Die man moes glo vir ure water trap.

DiCaprio was verlede week saam met sy meisie, Camila Morrone (22), en vriende op ʼn luukse boot naby St. Bart toe ʼn noodoproep deurkom wat vra vir hulp om na ʼn man te soek wat in die water geval het naby St. Martin.

Die groep het ingestem om te help soek na die man. Volgens The Sun is hy naby Saba-eiland, suid van St. Martin, gevind. Hy was uiters gedehidreer en het glo vir 11 ure water getrap voordat hy gevind is.

Bronne: Vanity Fair, E News, CBS News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.