Hoe lyk Hollywood: Popster met mes gedreig; model bekommerd ná gesigtattoe-herrie

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Harry Styles met mes gedreig

Harry Styles het Dinsdag opgetree by die Brit-toekennings in London. (Foto: Joel C Ryan/Invision/AP)

Die popsanger Harry Styles het op Valentynsdag in Hampstead, Londen, die slagoffer van misdaad geword toe hy deur ʼn man oorval en met ʼn mes gedreig is. Hy is ook in die voorval van ʼn onbekende bedrag geld beroof.

The Guardian berig die 26-jarige Britse sanger is ongedeerd.

“Dit was ʼn vreesaanjaende oomblik en alles het baie vinnig gebeur,” het ʼn ingeligte persoon wat die sanger ken aan The Sun gesê.

“Harry was kalm en het rustig met die man gesels en alles oorhandig wat hy by hom gehad het,” het die bron gesê.

Die Londense owerhede het in ʼn verklaring gesê die saak word ondersoek. Niemand is egter nog in verband met die voorval aangekeer nie.

Cindy Crawford bekommerd ná seun se gesigtattoe-herrie

Cindy Crawford en haar dogter, Kaia Gerber. (Foto: Instagram)

Hul seun se geestesgesondheid kom nou eerste. So het E! News uit ʼn betroubare bron na aan die supermodel Cindy Crawford en haar man, Rande Gerber, verneem.

Dit kom nadat hul seun, Presley (20), onlangs opslae gemaak het met sy nuwe gesigtattoe wat lees ‘Misunderstood’. Hy het enkele dae daarna ook ʼn video op sosiale media geplaas waar hy besig is om ʼn geweer by ʼn skietbaan af te vuur.

Presley is ook verlede jaar vir dronkbestuur aangekeer.

“Dinge is stram tussen die gesinslede,” is verder berig. Presley het onder hewige kritiek vir sy gesigtattoe deurgeloop.

Die gesin het self nog nie kommentaar gelewer oor die aangeleentheid nie, maar dit blyk dat Presley se suster, die model Kaia Gerber (18), hom ten volle ondersteun.

https://www.instagram.com/p/B8SSTERgt7i/

Swanger Jenna Dewan verloof

Die aktrise en danser Jenna Dewan wat voorheen met die akteur Channing Tatum getroud was, is verloof aan die akteur Steve Kazee.

Die paartjie het Dinsdag hul verlowing aangekondig. Dewan (39) is swanger met haar en Kazee se eersteling. Sy het ʼn dogtertjie, Everly (7), saam met Tatum.

Dewan is bekend vir rolprente soos Step Up en The Grudge 2 en was ook te sien as aanbieder van World of Dance.

Bronne: CNN, E!News, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.