Hollywood: Akteur aangekla; bikini-model (57) maak opslae

Armie Hammer. (Foto: Chris Delmas/AFP)

Maroela Media bring vir jou ‘n opsomming van vandeesweek se jongste internasionale vermaaknuus.

Akteur van verkragting beskuldig

Die Amerikaanse akteur Armie Hammer word daarvan beskuldig dat hy ʼn vrou in 2017 in Los Angeles gewelddadig verkrag het.

Hammer (34) is bekend vir sy rolle in flieks soos Rebecca, Call Me By Your Name en The Social Network.

Die vrou, ʼn 24-jarige bekend slegs as Effie, het Donderdag die aantygings tydens ʼn virtuele mediakonferensie gemaak.

Hammer (34) het die aantygings ontken. Sy prokureur sê die aanklagte is “verregaande” en dat Hammer “die geleentheid om sake reg te stel verwelkom”.

Die polisie in Los Angeles het aan BBC bevestig dat Hammer ʼn verdagte in ʼn saak van seksuele wangedrag is wat op 3 Februarie vanjaar aanhangig gemaak is.

Die klaer het emosioneel geraak terwyl sy ʼn voorbereide verklaring voorgelees het met haar aantygings teen Hammer. Haar hoëprofiel-vrouregteprokureur Gloria Allred het haar ondersteun.

Sy het vertel sy het Hammer in 2016 op Facebook ontmoet toe sy 20 jaar oud was. “Ek het dadelik op hom verlief geraak.”

Sy beweer soos wat die verhouding ontwikkel het, het Hammer “manipuleringstaktieke” gebruik om haar te beheer. “Dit sou my toewyding aan hom toets en het my grense heeltemal oorskry en verwyder soos wat hy toenemend meer gewelddadig geraak het.

“Hy het my geestelik, emosioneel en seksueel aangerand”. Sy het hom ook van verkragting op 24 April 2017 beskuldig.

“Armie Hammer het my vir vier ure lank verkrag in Los Angeles en my kop teen ʼn muur gestamp en my gesig gekneus. Gedurende daardie vier ure het ek probeer ontsnap, maar hy het geweier om my te laat gaan. Ek het gedink hy gaan my dood maak.”

Hy is glo daarna vort sonder om besorg te wees oor haar welstand. “Ek was in skok en kon nie glo dat iemand wat ek lief het dit aan my sal doen nie.”

Sy sê sy het selfdoodgedagtes gehad nadat sy verkrag is en voeg by sy het “ontsaglike skuldgevoelens” omdat sy nie vroeër hieroor gepraat het nie.

Andrew Brettler, Hammer se regsverteenwoordiger, het in ʼn verklaring die aantygings teen Hammer ontken en gesê Hammer se verhouding met die vrou was “heeltemal eensgesind, vooraf bespreek en ooreengekom”.

Brettler het ook ʼn skermskoot van teksboodskappe wat deur die klaer gestuur is aan BBC verskaf. Die boodskappe bevat inhoud van eksplisiete seksuele aard, waarop Hammer dit volgens die boodskappe duidelik gemaak het dat hy nie “daardie soort verhouding” met haar wil handhaaf nie.

Hammer loop sedert Januarie deur onder ʼn rits aantygings van seksuele wangedrag, wat onder meer bewerings van kannibalistiese fetisj insluit. Hammer het gevolglik uit verskeie projekte onttrek en is sy talentagentskap en publisiteitsbeampte kwyt.

Hy het in Januarie uit die jongste rolprent Shotgun Wedding saam met Jennifer Lopez onttrek. Hammer sal deur ander akteurs vervang word in sy rol in The Offer, ʼn dramareeks oor die vervaardiging van The Godfather.

Hy en sy vrou van tien jaar, Elizabeth Chambers, is in Julie verlede jaar geskei. Hulle het twee kinders, Harper Grace (6) en Ford Armand Douglas (4).

Chambers het verlede maand ʼn verklaring uitgereik waarin sy sê sy “ondersteun enige slagoffer van mishandeling”.

Bikini-model (57) maak opslae

Kathy Jacobs (57) in Sports Illustrated. (Foto: Facebook/Sports Illustrated Swimsuit)

Die 57-jarige Kathy Jacobs pryk vanjaar saam met modelle die helfte haar ouderdom in eina-klein bikini’s vir die tydskrif Sports Illustrated se jaarlikse swemdrag-uitgawe.

Jacobs het pas die Sports Illustrated Swim Search-kompetisie gewen en maak nou weer haar verskyning in die jongste uitgawe. Sy is reeds in Julie verlede jaar aan Sports Illustrated-lesers bekend gestel as nuweling.

Die supermodel Christie Brinkley is die enigste ander model ouer as Jacobs wat in Sports Illustrated verskyn het.

Jacobs is ook die kortste model wat nog ooit op die bladsye van Sports Illustrated gepryk het. Sy het verlede jaar in ʼn onderhoud met USA Today gesê dit is belangrik om nie op mense neer te sien vanweë hulle ouderdom of lengte nie.

“Twee dinge wat jy nie omtrent jouself kan verander nie, is hoe oud jy is en hoe lank jy is,” het sy gesê.

Volgens Sports Illustrated se webwerf het die tydskrif op Jacobs afgekom gedurende ʼn modelsoektog na nuwe gesigte.

“’n Jaar gelede het ek vloere gevee by die Dry Bar en ek het net gesê ek gaan ʼn laaste keer probeer. Ek gaan foto’s laat neem en dit uitstuur. Ek het werk as ʼn model en aktrise gekry. En ek het hierdie kompetisie gewen ʼn jaar later. Ek is hier om vir enigiemand wat dink dit is te laat te sê dit is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.