Hollywood: Joe Exotic wil tronk verlaat; ‘Squid Game’-munt verneuk gebruikers

Maroela Media bied jou ‘n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Joe Exotic wil tronk verlaat oor kankerdiagnose

Die Tiger King, Joe Exotic, oftewel Joseph Maldonado-Passage (Foto: Netflix/TigerKingMMM/Facebook)

Joe Exotic, die omstrede Amerikaanse persoonlikheid wat verlede jaar wêreldwyd bekend geraak het nadat die Netflix-reeks Tiger King uitgereik is, het gevra om uit die tronk vrygelaat te word nadat hy met “aggressiewe” prostaatkanker gediagnoseer is.

Hy dien tans ʼn vonnis van 22 jaar uit vir sy betrokkenheid by ʼn huurmoordkomplot en dieremishandeling.

Tiger King vertel die verhaal van Exotic se wedywering met Carole Baskin, eienaar van ʼn veilige hawe vir diere in Florida. Hy is skuldig bevind daaraan dat hy probeer het om haar te laat vermoor.

Exotic moet glo eersdaags weer gevonnis geword, maar sy regsverteenwoordiger wil hê dat dié proses versnel word.

Exotic, wie se regte naam Joseph Maldonado-Passage is, het in ʼn brief geskryf dat hy onskuldig is en dat hy “die tyd wat ek oorhet saam met my geliefdes wil deurbring”.

“Ek wil niemand se bejammering hê nie,” het hy bygevoeg.

John M Phillips, Exotic se prokureur, het sy kankerdiagnose op Twitter bevestig. “Ons het Maandag gesels en ons albei was in ʼn stadium in trane. Hy het die behoefte aan vryheid op soveel maniere en ons is ywerig om daarvoor te werk.”

Phillips het aan die BBC gesê dat “geregtigheid in die VSA baie stadig” is. “Ons kan nie vier maande wag vir hom om behandeling te kry nie,” het hy gesê.

Carole Baskin.

Netflix het die regte vir ʼn tweede seisoen van Tiger King bekom. Tiger King 2 sal later in November begin draai.

Amazon het ook ʼn reeks beplan met Nicolas Cage in die rol van Exotic, maar dit is geskrap nadat vervaardigers gesê het die storie “is nie meer relevant nie”.

Intussen dagvaar Carole Baskin en haar man, Howard, Netflix vir kontrakbreuk nadat beeldmateriaal van die egpaar ingesluit is in die lokprent vir Tiger King 2.

Hulle voer aan dat hulle slegs uitreikingsdokumente vir die eerste seisoen van die Netflix-dokkie-reeks onderteken het.

“Die Baskins het geglo die opvolgreeks, hoewel afskuwelik, sal geen van hulle materiaal insluit nie,” het ʼn woordvoerder gesê.

Netflix wou nie kommentaar oor die aangeleentheid aan BBC News lewer nie.

Britney blameer ma vir voogdyskap

Britney Spears en haar ma, Lynne Spears, in gelukkiger tye. (Foto: Facebook)

Die Amerikaanse popster Britney Spears blameer haar ma, Lynne Spears, vir die voogdyskap wat 13 jaar lank haar lewe beheer het.

Die ster se pa, Jamie, was die openbare gesig van die wettige ooreenkoms wat beteken het die popster kon minimale insette in haar persoonlike en geldelike sake lewer.

Britney het Dinsdag aanlyn geskryf dit was Lynne se idee. “Wat mense nie weet nie, is dat dit my ma was wat vir hom die idee gegee het. Ek sal nooit daardie jare terugkry nie. Sy het heimlik my lewe verwoes,” het Britney gesê.

In die Instagram-inskrywing, wat sedertdien uitgevee is, het sy geskryf: “Jy weet presies wat jy gedoen het. My pa is nie slim genoeg om ooit te kon dink aan ʼn voogdyskap nie, maar vanaand sal ek glimlag met die wete dat ek ʼn nuwe lewe het wat voor my lê.”

Britney se inskrywing is glo aangespoor deur haar pa se versoek dat die voogdyskap “onmiddellik” en “onvoorwaardelik” beëindig word.

‘n Ou foto van Britney Spears en haar ma, Lynne. (Foto: Facebook)

Die ooreenkoms is ʼn vorm van wettige voogdyskap wat normaalweg toegestaan word vir mense wat nie in staat is om hulle eie besluite te neem nie, soos diegene wat demensie of ander geestesiektes het.

Britney het ook aangevoer haar voormalige sakebestuurder, Lou Taylor, het gehelp om die voogdyskap te orkestreer. Nóg Taylor nóg Lynne het hierop gereageer.

Britney is sedert 2008 onder die voogdyskap geplaas, toe bekommernisse oor haar geestesgesondheid haar pa genoop het om ʼn petisie by die hof in te dien vir wettige gesag oor sy dogter se lewe.

Die sangeres het egter in Junie haar jare lange stilte oor die voogdyskap verbreek in ʼn Los Angeles-hof toe sy dit as “mishandeling” bestempel het en aan regter Brenda Penny gesê het sy “wil net haar lewe terughê”.

Squid Game-munt verneuk gebruikers uit miljoene

ʼn Digitale munt wat geïnspireer is deur die gewilde Suid-Koreaanse Netflix-reeks Squid Game het byna al sy waarde verloor nadat daar onthul is dat dit ʼn verneukspul is.

Squid, wat bemark is as ʼn “play-to-earn”-kriptogeldeenheid, se pryse het die afgelope paar dae met ʼn persentasie van duisende gestyg.

Die BBC berig egter dit word gekritiseer nadat mense nie toegelaat word om hulle munte te herverkoop nie.

Daar word algemeen deur kriptobeleggers na hierdie soort verneukspul as ʼn “rug pull” verwys. Dit gebeur wanneer die promotor van ʼn digitale munt kopers werf en dan ruilaktiwiteite staak en verdwyn met die geld wat reeds uit die verkope gegenereer is.

Volgens die tegnologiewebwerf Gizmodo het Squid se ontwikkelaars die pad gevat met bykans $3,38 miljoen (sowat R52 miljoen).

Play-to-earn”-kriptogeldeenheid is wanneer mense munte koop wat in aanlyn speletjies gebruik word en meer munte kan verdien wat later geruil kan word vir ander kriptogeldeenhede of nasionale geldeenhede.

ABBA tref met nuwe album ná 40 jaar

ABBA. (Foto: Facebook)

Die Sweedse popgroep ABBA se jongste album, Voyage, is Vrydag uitgereik. Dit is die groep se eerste album in 40 jaar.

Agnetha, Bjorn, Benny en Anni-Frid, wat die akroniem ABBA vorm, het geen nuwe musiek uitgereik sedert hulle laaste album, The Visitors, in 1982 uitgereik is nie.

Voyage, wat tien snitte bevat, is Donderdag om middernag uitgereik.

Die groeplede het in September vanjaar hulle reünie aangekondig met twee nuwe enkelsnitte getiteld “Don’t shut me down” en “I still have faith in you”.

Bron: BBC, AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mauritz ·

Squid Game: Is daar rêrig mense wat los rondloop buite plekke soos Sterkfontein wat deelneem aan hierdie soort van skelmstreke. Geen simpatie met die onnoseles wat geld verloor het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.