Hollywood: Mans aangekla ná Lady Gaga-hondediefstal; Amerikaanse weldoener sterf op 102

Maroela Media bied jou ‘n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Mans aangekla ná Lady Gaga-hondediefstal

Lady Gaga. (Foto: Pinterest)

Drie mans is Donderdag van poging tot moord en diefstal aangekla nadat die Amerikaanse sangeres Lady Gaga se hondestapper in Februarie vanjaar in ʼn straat in Hollywood geskiet is.

Van die drie verdagtes, onderskeidelik 18, 19 en 27 jaar oud, is twee van aanranding aangekla, het die Los Angeles-distrikskantoor in ʼn verklaring gesê.

“Dit was ʼn skaamtelose straatmisdaad wat ʼn man ernstig gewond gelaat het,” het distriksadvokaat George Gascon gesê. Hy het die “baie ernstige” aard van die voorval uitgelig.

Die drie mans wat deur die polisie in Los Angeles as “gedokumenteerde bendelede” beskryf word, het Lady Gaga se hondestapper, Ryan Fischer, op 24 Februarie genader terwyl hy naby Sunset Boulevard met die sangeres se Franse bulhonde gestap het.

Twee van die verdagtes het uit ʼn voertuig geklim en Fischer met ʼn vuurwapen gedreig om die honde te oorhandig. Fischer is een keer geskiet tydens ʼn struweling en die mans het met twee van die honde, Koji en Gustav, gevlug.

ʼn Derde hond, Miss Asia, het weggehardloop tydens die voorval en het later na ʼn gewonde Fischer teruggekeer, wat later deur owerhede op die toneel aangetref is.

Die polisie sê hulle glo nie die verdagtes het die honde geteiken weens hul bekende eienaar nie, maar eerder omdat Franse bulhonde ʼn gesogte ras is wat vir duisende dollar verkoop kan word.

Nog twee verdagtes word as medepligtiges beskou, insluitend ʼn 50-jarige vrou wat die honde twee dae ná die diefstal aan die polisie oorhandig het.

Sy het gesê sy het hulle in die straat aangetref nadat Lady Gaga ʼn beloning van $500,000 (net meer as R7 miljoen) uitgeloof het vir haar honde.

Owerhede het gesê ʼn vyfde verdagte het ʼn verhouding met die 50-jarige vrou gehad en is die pa van een van die aanvallers.

Anne Douglas, Amerikaanse weldoener, sterf op 102

Anne en Kirk Douglas in 2008. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Anne Douglas, bekende filantroop en weduwee van die Hollywood-legende Kirk Douglas, is Donderdag by haar huis in Beverly Hills dood, het familie gesê. Sy was 102.

Kirk Douglas, wat in Februarie verlede jaar in die ouderdom van 103 dood is, het sy vrou in Parys, Frankryk, ontmoet terwyl hulle die fliek Act of Love in 1953 geskiet het.

Ná ʼn warrelwindromanse is die paar op 29 Mei 1954 in Las Vegas getroud.

“Dit was nie romanties nie, maar dit was wettig en haar nuwe man het belowe dat hy weer eendag met haar sal trou tydens ʼn groot viering,” het die Douglas-familie in hul verklaring gesê.

Kirk, een van die laaste supersterre van Hollywood se goue era van rolprente en bekend vir rolle in Spartacus en Paths of Glory, het dié belofte in 2005 op hulle 50ste huweliksherdenking nagekom.

Die egpaar was 66 jaar lank getroud en het twee seuns, Peter en Eric. Kirk het ook twee ander seuns, Michael en Joel, uit ʼn vorige huwelik.

Anne Douglas is op 23 April 1919 in Hannelore Marx in Hanover, Duitsland, gebore. Sy was ʼn student in België toe Brussel in 1940 deur die Nazi’s beset is.

Sy het saam met vriende per motor na Frankryk gevlug, maar haar Duitse dokumentasie was ʼn gevaar en sy is met ʼn Belgiese man getroud om Belgiese nasionaliteit te bekom.

Maande nadat Anne in Parys aangekom het, het die Duitsers die stad beset. Toe die Nazi’s besluit dat flieks vertoon moet word met Duitse onderskrifte, het Anne se kennis van Duits, Engels, Frans en Italiaans haar in staat gestel om werk te kry by ʼn Franse rolprentverspreider.

Anne (middel) en Kirk Douglas saam met sy seun, Michael, en dié se vrou, die Britse aktrise Catherine Zeta-Jones in 2001. (Foto: Lucy Nicholson/AFP)

Ná die oorlog het sy voortgegaan met haar loopbaan in dié bedryf. Voordat sy vir Kirk ontmoet het, het sy vir die Amerikaanse netwerk NBC gewerk en daarna vir John Huston aan die produksie van Moulin Rouge.

Anne was aktief betrokke by filantropiese projekte en het 44 lande besoek as welwillendheidsambassadeur, werk waarvoor sy vereer is deur die Amerikaanse inligtingsdiens.

Die uitvoerende kunste, navorsing vir kanker by vroue en sorg vir hawelose vroue het veral baat gevind uit haar filantropiese werk.

Toe sy van onveilige speelterreine in Los Angeles se skole te hore kom, was sy vasbeslote om iets daaraan te doen.

“Sy het haar man oortuig die enigste manier om dié groot taak te finansier was om ʼn groot gedeelte van hul kunsversameling op ʼn veiling van Christie te verkoop,” het die familie gesê. Dit het gelei tot die herstel van 403 speelterreine.

“Ek wonder soms wat sou van my geword het as ek nie met Anne getrou het nie. Ek sou dalk nie sonder haar kop vir sake en fyn ingestelde instinkte kon oorleef nie,” het Kirk by geleentheid gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.