Kate, ʼn kiekie en ʼn KI-krisis

Dié foto van prinses Catherine en haar spruite sal nooit vergeet word nie. (Foto: Paul Ellis/AFP)

Nog nooit was die gesegde dat ʼn foto ʼn duisend woorde werd is, meer gepas as met verwysing na die Britse koninklike gesin se onlangse fotoblaps van prinses Catherine van Wallis nie.

Wat ʼn eenvoudige Moedersdagkiekie van prinses Catherine – oftewel prinses Kate soos die publiek haar ken – en haar drie spruite, George, Charlotte en Louis, moes wees, het nie net in samesweringsteorieë oor die aard en erns van die prinses se gesondheid gelei nie, maar boonop grootskaalse debatte oor die toenemende implikasies van kunsmatige intelligensie (KI) ontlok.

Dít nou alles ná Kate self verskoning gevra het toe daar met valkoë opgemerk is dat dié familiefoto – wat ook die eerste amptelike foto van die prinses is sedert haar buikoperasie in Januarie – by nadere ondersoek redigeringsflaters bevat.

Sosialemediagebruikers het aanvanklik eers daarop gewys dat prinses Charlotte se linkerhand verkeerd in lyn met die mou van haar trui is.

Sogenaamde “fotoredigeringskenners” is vinnig deur publikasies soos People en Time Magazine ingeroep – wat beweer dat die foto egter soveel as 15 tekens van fotomanipulering bevat; onder meer dat die bome in die agtergrond “te groen is” vir die Britte se wintersmaande, dat prins Louis se een vinger wasig op die foto voorkom en dat klein Charlotte se hare plek-plek onegalig lyk.

Aanbieders van die Amerikaanse geselsprogram The View het geskerts dat die een ding wat hulle wel dalk in die foto moes redigeer het, die prinses se verloofring met die kenmerkende blou saffier was, want sy afwesigheid in dié foto beteken nou natuurlik dat Kate en William se huwelik op die rotse moet wees.

Nuusagentskappe soos AFP en Reuters het vinnig Kate se kiekie van hul stelsels verwyder omdat dit nie aan dié agentskappe se fotostandaarde voldoen nie.

Buckinghampaleis het verbasend afgewyk van wyle koningin Elizabeth II se goue reël van “don’t complain, don’t explain” en die prinses self vir die fotoflater laat pa staan.

Is dit regverdig om Kate alleenlik hiervoor te kruisig?

Kyk, dié van ons wat al op programme soos Adobe Photoshop of Lightroom gespeel het, weet self hoe maklik dit is om die sogenaamde “blemish tool” – wat dikwels gebruik word om gesigplooitjies plat te stryk of ʼn ongevraagde puisie te laat verdwyn – te misbruik en ʼn fout soortgelyk aan dié van die prinses te maak.

(Foto: AFP)

Wat moontlik ʼn onskuldige fout van haar kant af was, het nou die eerste kans wat die koninklikes gehad het om die reeds bisarre bewerings oor haar gesondheid in die kiem te smoor, behoorlik geëskaleer.

Hoewel haar hersteltyd nog in ooreenstemming is met die oorspronklike tydlyn wat die paleis in Februarie uiteengesit het, het die verdere uitkringeffek van die foto byna vermaaklik begin word.

Diegene wat dalk nie eens geweet of omgegee het dat die Britse koninklikes yl gesaai is sedert die prinses se operasie en nuus oor koning Charles III se kankerdiagnose nie, gaan nou speurder op sosiale media speel om agter die kap van die byl te kom.

Die internet loop tans oor van opskrifte en vrae soos: “Is dit ooit sy in die foto? Lê sy êrens in Windsor in ʼn medies-geïnduseerde koma? Hoekom sit sy eerder as om te staan in die foto – is sy dan verlam?”

Hutsmerke soos #freekate – ʼn speling op Britney Spears-aanhangers se veldtog om haar destydse voogdyskap te laat skrap – het selfs die rondtes op X gedoen, met aanhangers wat aanvoer dat die paleis die prinses onder die bus gegooi het deur haar verantwoordelikheid te laat neem vir ʼn fout wat moontlik deur hoogsbetaalde publisiteitsbestuurders vermy moes word.

Enkele ure na die foto se publisering is prinses Kate op die agtersitplek van ’n motor afgeneem saam met prins William.

Spekulasie het dadelik aanlyn ontstaan ​​dat selfs dié jongste paparazzi-foto ook gedokter is, met sosialemediagebruikers wat aanvoer dat daar “teenstrydighede” in die baksteenmuur in die agtergrond van die motor is.

Goff Photos, die foto-agentskap verantwoordelik vir dié foto, het ontken dat hulle die beelde geredigeer het en aan E! News gesê dat die foto’s “gesny en verhelder is”, maar met nadruk aangevoer dat “niks gedokter is nie”.

Selfs Meghan en prins Harry, die hertogin en hertog van Sussex, is by dié debat ingesleep, met hul vriend en bekroonde fotograaf Misan Harriman wat daarvan beskuldig is dat hy ʼn foto wat van die egpaar geneem is om die hertogin se tweede swangerskap aan te kondig, gedokter het.

Harriman het in ʼn Instagram-video sy misnoeë uitgespreek en selfs die oorspronklike foto gedeel om bewerings tot ruste te lê.

KI-kruisvuur nou onvermydelik sê kenners

In ’n wêreld waar “deep fakes” en KI-gegenereerde media selfs die mees oordeelkundige oog kan flous en na fopnuus lei, strek dié onskuldige foto se implikasies volgens kenners verder as net die persoonlike beeldkurasie vir bekendes en beïnvloeders.

Elijah Clark, ’n KI-outomatiseringsbemarkingsadviseur, het in ʼn onlangse berig vir Forbes-tydskrif sover gegaan as om te sê dat dié foto “die lyne tussen werklikheid en illusie” vir die publiek se beeld van die monargie nou meer as ooit onduidelik gaan maak.

Volgens Clark kan veral bekende figure soos die Britse monargie nie bekostig om so ʼn fout te begaan nie want hoewel die belaglike teorieë oor die prinses se gesondheid vergesog kan klink, beklemtoon dit tog die verhoogde ondersoek en skeptisisme waarmee openbare figure gekonfronteer word in die era van digitale en KI-manipulasie.

Catherine, die prinses van Wallis, by Westminster-abdy tydens koning Charles se kroningsdiens (Foto: Odd Andersen/AFP)

Namate hierdie tipe redigeergereedskap al hoe meer toeganklik en gesofistikeerd word, gaan die lyn tussen onskadelike verbetering, wat moontlik die prinses se enigste doel was, en bedrieglike wanvoorstelling al hoe meer vervaag.

Daarom gaan ʼn uiters deursigtige benadering en verantwoordbaarheidsin van Buckinghampaleis as handelsmerk in geheel, en nie net sy individue nie, verwag word.

Dié insident is ook ʼn goeie geleentheid vir ons as media en sosialemediagebruikers om te herbesin wanneer dit kom by die goed waarop ons die kollig wil laat val, want is ʼn geredigeerde foto van die prinses van Wallis al dié hoofopskrifte, vurige aanlyn debatte en bohaai werd? Dít nou komende van iemand wat nooit skroom as haar redakteur opdrag gee om iets oor die koninklikes neer te pen nie.

‘n Skerkgreep van die prinses se verduideliking. (Foto: Instagram/@theprinceandprincessofwales)

Ons moet onsself dalk ook die vraag vra of ʼn vrou, ongeag haar titel en volksbesitstatus, dit aan die publiek verskuldig is om intieme besonderhede oor haar gesondheid in die openbaar te deel.

Selfs Omid Scobie, die koninklike kommentator wat die prinses van Wallis ontmasker het as een van die koninklikes wat glo destyds beweerde rassistiese opmerkings gemaak het oor prins Harry en Meghan Markle se (toe ongebore) seun, Archie, het tot ʼn mate vir prinses Kate in die bresse getree.

“Dit is regverdig om te sê dat die meeste foto’s wat deur die kantore van openbare figure uitgereik is op een of ander manier geredigeer is, so as ’n geïsoleerde voorval is dit net ’n ongelukkige fout,” het die Finding Freedom-skrywer op X  geskryf.

“Maar met die paleis se lang geskiedenis van lieg, toesmeer en selfs verklarings namens familielede uitreik sonder hul toestemming (cc: Prins Harry), word dit al hoe moeiliker vir die publiek om ’n woord (en nou foto) te glo.”

Buckinghampaleis sal homself moet rat vir bewerings, bespiegelings en selfs bespottings oor enige toekomstige foto’s wat uit hulle oorde kom (volpunte vir die munisipaliteit van Stellenbosch se skertsende geredigeerde beelde van die prinses op die Universiteit Stellenbosch se kampus).

As ʼn koninklike liefhebber is my eie partydige pleidooi aan die publiek egter: “Keep calm and let Kate carry on!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boontjie ·

Ek kry die mense so jammer. Hulle word met valkoë dopgehou en elke fout word uitgewys. G’n mens is perfek nie. En daar is niks fout daarmee om foto’s te verander om te lyk soos mens dit graag wil hê nie, veral as mens so ‘n “perfekte beeld” probeer hou. Ek as ‘n fotograaf kan sê dat ‘n foto gaan nie alleenlik oor wat rerig afgeneem word nie maar dit gaan ook oor hoe jy dit sien of wil hê dit moet lyk. Dis ‘n kuns. Mense moet ophou om so krities te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.