Klein Archie en Lilibet heet nou prins en prinses

Die egpaar se dogter, prinses Lilibet Mountbatten-Windsor. (Foto: Instagram)

Prins Harry en Meghan Markle se kinders, Archie Harrison en Lilibet Diana Mountbatten-Windsor, heet nou amptelik prins en prinses.

Nuus oor die koninklike kroos se titels volg nadat ʼn verteenwoordiger van die hertog en hertogin van Sussex in ʼn verklaring aan People-tydskrif oor klein Lilibet se doop na haar as ʼn prinses verwys het.

“Ek kan bevestig dat prinses Lilibet Diana op Vrydag 3 Maart deur die biskop in die Episkopale Bisdom van Los Angeles, ds. John Taylor, gedoop is,” lui dié verklaring.

Die BBC berig dat senior lede van die koninklike familie na dié intieme seremonie genooi is, maar dit nie kon bywoon nie. Luidens People het dit by die Sussex-egpaar se herehuis in Montecito, Kalifornië, plaasgevind.

Lilibet is op 4 Junie 2020 in die VSA gebore en is na koningin Elizabeth II se troetelnaam vernoem.

Sy is egter nie die eerste Britse koninklike wat buite die Verenigde Koninkryk gebore is nie. Prins Harry se verre neef, lord Frederick Windsor en sy vrou, lady Sophie Frederick, het op 15 Augustus 2013 hul oudste dogter, Maud Windsor, in Los Angeles verwelkom.

Dié aankondiging is ook die eerste keer dat Lilibet in die openbaar ‘n prinses genoem word, en bevestig dat Harry en Meghan die koninklike titels vir hul kinders sal gebruik.

Harry, Meghan, Archie en Lilibet. (Foto: Alexi Lubomirski/Instagram)

Alhoewel Lilibet en Archie nie ‘n prinses en prins by geboorte was nie, het hulle outomaties reg op dié titels verkry toe koning Charles III tot die troon toegetree het.

Ingevolge die huidige reëls rakende die titels van koninklike kinders, wat in 1917 deur koning George V uiteengesit is, is die kinders van die seun van die regerende monarg geregtig op die titel “prins” en “prinses” asook “sy of haar koninklike hoogheid”, of HRH (Her Royal Highness).

Dit blyk dat Lilibet en Archie soos hul ouers wel nie die koninklike titelstyl HRH volg nie. Die hertog en hertogin van Sussex het hul HRH-titels in 2020 verloor toe hulle as senior werkende koninklikes uitgetree het.

Maroela Media het vroeër berig dat die egpaar nog nie bevestig het of hulle op 6 Mei by ander lede van die koninklike familie gaan aansluit vir koning Charles III se kroningseremonie nie.

Die laaste openbare koninklike geleentheid wat hul bygewoon het, was die begrafnis van koning Elizabeth II in September verlede jaar.

Bronne: People, BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SomeOne ·

harry kan mos nie meer as prins harry genoem word nie, hy het dan van sy werkende koningklike take afstand gedoen

kommentaar ·

Meghan het nou gekry wat sy wou hê. Nou is onse Harry nie meer nodig nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.