Koninklikes deel kostelike foto vir Kersfeeskaartjie

Die prins en prinses van Wallis saam met hul kinders, George, Charlotte en Louis. (Foto: Josh Shinner/Instagram/@Theprinceandprincessofwales)

Prins William en prinses Catherine, die prins en prinses van Wallis, het die afgelope naweek ʼn kostelike foto van hul gesin gedeel vir hul jaarlikse Kerskaartjie.

Die koninklike egpaar en hul drie spruite, George (10), Charlotte (8) en Louis (5), is vroeër vanjaar in ʼn ateljee-opset in Windsor gekiek deur fotograaf Josh Shinner, aldus People.

Die wit-en-swart geposeerde portret is ʼn effense afwyking van die gesin se vorige paar Kerskaartjies, wat hulle dikwels informeel en in die natuur wys.

Koninklike kenners beweer dié verandering is danksy die paartjie se vestiging in hul nuwe rolle as die prins en prinses van Wallis – titels wat deur Britse monarge aan hul oudste lewende seun en sy vrou toegeken word.

Kate en William is met dié titels vereer ná koningin Elizabeth II se dood in 2022.

Prins William en sy tienjarige seun is nou onderskeidelik die eerste en tweede troonopvolgers van die Verenigde Koninkryk (VK).

Die gesin het die afgelope naweek ook die prinses van Wallis se derde jaarlikse “Together At Christmas”-Kerssangdiens by Westminster-abdy bygewoon.

Dié geleentheid plaas die kollig op mense en organisasies oor die hele VK wat hul gemeenskappe deur die pandemie in 2021 ondersteun het. Die prinses het kykers ook in 2021 tydens dié konsert verras met haar eerste openbare klavieruitvoering toe sy sanger Tom Walker begelei het vir die lied “For Those Who Can’t Be Here”.

Bronne: People, BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.