Luister: Boesemvriende Janey en Waney laat TikTokkers skater

Rynhardt Schoeman en Jana Jooste, bekend as Janey en Waney kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Marius Vermaak/Maroela Media)

Jana Jooste en Rynhardt Schoeman se reis as Janey en Waney het sowat ʼn jaar gelede begin en sedertdien het dié twee grapjasse en boesemvriende ʼn sensasie in die Afrikaanse TikTok-wêreld geraak.

Met sowat 130 000 volgelinge op TikTok en 27 000 volgelinge op Instagram, vermaak dié komiese duo sosialemediagebruikers met droë grappe wat getuig van ʼn jare lange vriendskap wat deur ʼn gedeelde sin vir humor gesmee is.

Jana en Rynhardt vertel in die Maroela Media-ateljee dat hulle saam op skool in Centurion was, maar dat hulle eers ná skool ontdek het dat hulle vir dieselfde grappe lag en van daar af het hulle onafskeidbaar geraak.

Maar, nee, hulle is nie met mekaar getroud nie. “Dit is seker die vraag wat ons die heel meeste kry,” sê Rynhardt met ʼn lag. Hy is met die aanvallige blondekop, Bridget, getroud. Hulle het twee Australiese herdershonde, Naas en Hendrik.

“Ek en Jana sou nooit kon trou nie, want dit sou wees soos om met jou broer of suster te trou. Dit is die soort verhouding wat ons het.”

Jana is getroud met Conrad en het ʼn vyfjarige seuntjie, Milan. “Ek is ook betrokke by ons familieonderneming en maak een keer per week kos vir my gesin,” skerts sy.

“Dit wat julle op TikTok sien, is hoe ek en Rynhardt in die regte lewe ook is. Ons bring baie tyd saam deur en maak simpel grappe – en toe besluit ons op ʼn dag om dit vas te vang in ʼn video. Dis waar alles begin het.”

Janey en Waney. (Foto: Facebook/Janey en Waney)

Hulle het binne ʼn maand meer as 10 000 volgelinge gewerf en ʼn jaar later is hulle gesigte so bekend op sosiale media dat hulle na al wat ʼn geleentheid in die vermaakbedryf is, uitgenooi word.

“Ons is nou nog verbaas dat daar mense is wat dieselfde soort humorsin as ons deel. Soms wanneer ons ʼn video geskiet het, wonder ons of ander mense dit ook snaaks gaan vind, want ons familie en vriende wat ons al lank ken, lag nie meer noodwendig vir ons nie.”

Die duo is in die sanger, Eloff, se nuwe musiekvideo vir die snit “Witblits” te sien. “Dit was regtig lekker om deel te wees van die video. Ons het nie geweet of ons die finale video gaan haal nie. Ons het gedink ons voete – wat ons aspris van die ritme af getik het – is al wat in die video gaan verskyn.”

Rynhardt en Jana is al jare lank beste vriende. (Foto: Facebook/Janey en Waney)

Janey en Waney is op 1 Oktober by die Glimlag-fees in Boksburg te sien, asook op 8 Oktober by die Somerfees in Centurion.

“Tot vandag toe kan ons nie glo waarheen hierdie TikTok-blad ons gelei het nie. Ons kan nie glo hoe ver dit gekom het nie,” sê Jana oor hulle TikTok-sukses.

“Ons vat dit dag vir dag en het nie ʼn plan vir Janey en Waney in die toekoms nie. Een dag wil almal als van jou sien en die volgende dag is jy niemand. Daarom geniet ons dit vir nou terwyl ons kan, want ons weet dit gaan nie vir altyd hou nie.”

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Janey en Waney.
  • Volg hulle op TikTok en Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chantel ·

Eks mal oor hulle. Interessant dat die twee nie getoud is nie. Dankie vir die brokkie nuus. :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.