Luister: Groot FM-duo praat oor liefde vir klankgolwe

Ruben Delmage en Charonike Nel kuier by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

Getroue luisteraars van die gemeenskapsradiostasie, Groot FM, is al teen dié tyd vertroud met die stemme van die omroepers Charonike Nel en Ruben Delmage, wat weeksoggende die verkeer op pad werk toe ligter maak met hulle geskerts en lekkerluistermusiek.

Charonike en Ruben, aanbieders van Die Groot Brêkfis-program, gesels sedert Mei 2022 saam op die lug ná Charonike aan die einde van 2021 by die Groot FM-span aangesluit het.

Charonike is in Desember met die Telkom-radioprys vir beste oggendprogramaanbieder vir ʼn gemeenskapsradiostasie vereer, en het ook die prys vir beste naweek-middagprogram-aanbieder vir ʼn gemeenskapsradiostasie vir Saterdagmiddag met Charonike gewen.

“Ek het nog altyd ʼn groot liefde vir radio gehad, en ek het grootgeword met radio in die huis, maar as kind op ʼn klein, plattelandse dorpie het ek nooit gedink dat daar ʼn moontlikheid is om van radio ʼn loopbaan te maak nie,” vertel Charonike.

Sy is in Richardsbaai in KwaZulu-Natal gebore, maar het op 8-jarige ouderdom saam met haar gesin na Piet Retief verhuis.

“Ek het eers veel later, op universiteit, besef ek kan betaal word om te praat. Ruben se storie is bietjie anders as myne, want hy wou al van kleins af die oom op die radio gewees het,” sê sy en voeg laggend by hoe Ruben se gr. 1-juffrou destyds sy praterige mond met kleefband toegeplak het.

Charonike Nel agter die Groot FM-mikrofoon. (Foto: Facebook/Groot FM)

Ruben se paadjie radio toe was egter nie sonder duwweltjies nie, en moes hy telkemale aanhoor dat sy stem nie goed genoeg is nie.

“Ek het egter net aanhou glo in my droom en vandag is ek ʼn ankeraanbieder op ʼn groot ontbytprogram. Dit bly ʼn reusevoorreg en ek moet soms nog steeds myself knyp om seker te maak dit is die werklikheid,” sê Ruben.

Charonike en Ruben meld elke weeksoggend reeds om 05:00 by die Groot FM-ateljee in Lynnwood, Pretoria, aan. In die uur voordat hulle om 06:00 op die lug gaan, rond hulle die voorbereiding vir die program af, en skink ʼn paar koppies boeretroos.

“As jy nie voorbereid is nie, sê dit iets oor jou respek vir jou luisteraar. Om ʼn omroeper te wees, is heerlik en ons maak baie grappies, maar ons mandaat is om op te voed en in te lig. Ons moet seker maak ons gaan op die lug met feite,” sê Charonike.

Ruben Delmage in Groot FM se ateljee. (Foto: Facebook/Groot FM)

Volgens die twee omroepers vul hulle mekaar met gemak agter die mikrofoon aan. “Die mooi Engelse woord, is chemistry. Dit is nie iets wat ʼn mens sommer maklik tussen twee omroepers kry nie,” sê Ruben.

“Ek het al saam met ander omroepers gewerk en dan val dinge vinnig plat, maar vandat Charonike by die program aangesluit het, staan dit vir my uit hoe ons mekaar moeiteloos aanvul. Dit is ook die terugvoer wat ons van die luisteraars kry, wat baie lekker is.”

En vir diegene wat wonder: Ja, hulle is presies dieselfde met mekaar van die lug af, as wat hulle is wanneer die mikrofone aan gaan.

“Ons hap na mekaar soos ʼn boetie en sussie, en mense wonder partykeer of ons regtig van mekaar hou. Ek het soveel respek vir Ruben as omroeper en mens. Dit is wat dit lekker maak, want al het ons twee sterk persoonlikhede, maar ons weet ook waar om vir mekaar spasie te gee.”

Daar is altyd tyd vir ‘n bietjie pret in die Groot FM-ateljee. Hier kuier Charonike en Ruben saam met die sanger, Eloff. (Foto: Facebook/Groot FM)

Volgens Ruben is hy nie goed daarmee om buite die ateljee af te skakel nie, al probeer hy ʼn gesonde balans tussen sy professionele en geestelike lewe vind.

Vir Charonike is daar net een manier om af te skakel, en dit is met ʼn goeie leesboek. “Om tyd te maak vir my vriende is ook belangrik, al sien ek hulle nou soms minder as toe ek in ʼn ander stad as hulle gebly het.”

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Charonike Nel en Ruben Delmage.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.