Foto’s: Só lyk koninklikes se Kerskaartjies

Die foto wat gebruik is vir Prins Harry en Meghan Markle se Kerskaartjie. Hier is hulle op 19 Mei vanjaar tydens hul troue by Frogmore House. Foto: Chris Allerton (Verskaf deur Kensington-paleis)

Die Kensington-paleis het Vrydag twee pragfoto’s gedeel wat vanjaar onderskeidelik op prins Harry en sy nuwe vrou en prins William en sy gesin se Kerskaartjies sal pryk.

Prins Harry en sy vrou, Meghan Markle, wat op 19 Mei vanjaar getroud is, het ʼn foto van hul glanstroue by Frogmore House vir hul Kerskaartjie gebruik. Op die foto, wat deur Chris Allerton geneem is, kan gesien word hoe die pasgetroude paartjie staan en kyk na ʼn skouspelagtige vuurwerkvertoning.

Na verwagting sal daar volgende jaar ʼn pienkvoet saam met die hertog en hertogin van Sussex op hul Kerskaartjie verskyn aangesien hulle hul eersteling rondom April 2019 verwag.

Prins William en Kate Middleton spog egter met ʼn voltallige kroos op húl Kerskaartjie. Op die foto, wat deur Matt Porteous by Anmer Hall geneem is, sit William en Kate saam met prins George (5), prinses Charlotte (3) en prins Louis (7 maande) met die pragtige kleure van herfs om hulle sigbaar.

Albei die foto’s is reeds duisende kere op sosiale media gedeel.

Daily Mail berig die twee broers en hul onderskeie gesinne sal vanjaar Kersfees saam met koningin Elizabeth by Sandringham House in Norfolk, Engeland, deurbring soos die gebruik is. Dit kom te midde van berigte dat Meghan en Kate nie juis ooghare vir mekaar het nie, gerugte wat Buckingham-paleis ʼn paar weke gelede ontken het.

Die foto wat gebruik is vir Prins William en sy gesin se Kerskaartjie. Hier is prins William en Kate Middleton prins George (5), prinses Charlotte (3) en prins Louis (7 maande). Foto: Matt Porteous (Verskaf deur Kensington-paleis)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Roos ·

Dis pragtig. So goed om ‘n gelukkige gesin te sien.
Ferdi, ek lag bietjie vir jou. Jy het die berig oopgemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.