Suna Robberts: ʼn Rabbedoe wat toor met ʼn grimeerkwas

Suna Robberts. (Foto: Instagram)

Die stileerder en grimeerkunstenaar Suna Robberts is ʼn bekende tussen die bekendes en is uiters gewild op sosiale media onder aanhangers van sangers en kunstenaars wat gereeld met haar poeierkwaste omgetower word.

Robberts sê ten spyte van haar rabbedoe-persoonlikheid het sy reeds op skool daarin belang gestel om haar vriendinne mooi te maak en het sy mooimaakstories uit tydskrifte geskeur en gebêre.

“Die Here het die passie om mense mooi te maak in my hart geplaas. Ná skool het ek somatologie studeer en tydens my kursus het ons net basiese grimeertegnieke geleer. Ek het egter al hoe meer in grimering begin belang stel en het my natuurlike aanleg daarvoor ontwikkel en ingeoefen met elke geleentheid wat ek gekry het,” vertel Robberts in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Van geleenthede aangryp kan jy die gebore Pietersburger niks vertel nie. Sy onthou hoe sy op ʼn keer, toe sy nog jonk en ongetroud was en nie ʼn voertuig gehad het nie, na werksonderhoude toe gestap het.

“Ek was só desperaat om net te werk en het gesukkel om ʼn voet in die deur te kry,” vertel Robberts.

Sy het uiteindelik ʼn werk by ʼn skoonheidsalon in Hyde Park in Johannesburg gekry en daarvandaan het haar loopbaan vlerke gekry.

Suna (heel regs) verlede jaar op die stel van Afrikaans is Groot se komedieskets saam met Bernard Buys, Christel van den Bergh, Bibi du Preez, Demi Lee Moore en Karlien van Jaarsveld. (Foto: Instagram)

“Toe ek swanger raak met my oudste dogter het ek besluit ek wil my eie ding doen en ek het my eie salon oopgemaak. My broer, Gerrie Janse van Vuuren, is ʼn gesoute fotograaf en ons het toe saam begin mini-mooimaaksessies doen – eers gratis vir mense wat belang gestel het en later, hoe meer gesog die makeovers geraak het, kon ek uiteindelik geld daarvoor begin vra en ʼn kliëntebasis opbou.”

Robberts is deur mooimaakghoeroe Hannon Bothma van die gewilde Hannon-velsorg en ‑grimeringreeks genader om grimering te doen vir die Jacaranda Pops-geleentheid. Daar het sy haar eerste kennismaking met die vermaaklikheidswêreld gehad.

“Ek het absoluut net elke geleentheid aangegryp om te netwerk en my kontakte op te bou. As jy nie geleenthede kry nie, moet jy dit skep. Ek het vir niks gewag nie,” sê Robberts.

Karlien van Jaarsveld was een van die eerste kunstenaars wat sy bevriend het in die Afrikaanse musiekbedryf. Daarna het sy vir Barry Pretorius ontmoet toe hy nog aan die stuur van die Ghoema-toekennings was.

“Daarna het hy my gevra om Afrikaans is Groot te doen en dit was werklik my groot deurbraak,” sê sy oor die konsertreeks wat al vir jare die room van die Afrikaanse musiekbedryf én hulle duisende aanhangers lok.

Bobby van Jaarsveld pryk in die Afrikaans is Groot-verjaarsdagkalender, ‘n inisiatief wat deur Suna van stapel gestuur is.

Sy is ook ʼn bekende gesig op musiekvideostelle en het onlangs saam met die sanger Dirk van der Westhuizen aan sy video vir sy jongste enkelsnit, “Dirty 30’s”, gewerk.

Robberts sonder die stel van Monique Steyn se “Die boom” uit as een van die hoogtepunte van haar loopbaan.

“Dit was ʼn naweek weg in die berge en enige tyd wanneer ons kan reis, is dit heerlik, en Monique is ook so ʼn lieflike mens. Nog ʼn musiekvideostel wat vir my uitgestaan het, was ADAM se ‘Sê my’, toe ons die manne in vrouens moes transformeer. Dit was baie pret en enige tyd wanneer ek die kans kry om kreatief te wees met grimering, is vir my ʼn hoogtepunt.”

Daarom lê haar persoonlike projek, die Afrikaans is Groot-kalender, haar baie na aan die hart. Talle van die land se vooraanstaande Afrikaanse kunstenaars, soos Karlien en haar broer Bobby van Jaarsveld, Jay, Steve Hofmeyr, Die Heuwels Fantasties, Elvis Blue, Corlea, Tarryn Lamb en Riana Nel, het vir liefdadigheid voor die kameras gesmeul. Die foto’s is in ʼn spoggerige kalender te sien wat behoorlik kleur aan enige jaar sal bring.

Die eerste episode van haar webreeks, In my mooimaakstoel, sal ook eersdaags te sien wees. In dié reeks sal sy maandeliks haar bekende vriendinne in haar mooimaakstoel hê en grimering- en ander velsorgwenke met kykers deel.

Haar eerste gas is Karlien van Jaarsveld en gaste soos Demi Lee Moore, Simoné Pretorius, Leandie du Randt, Zetske van Pletzen en Angelique Potgieter sal ook in haar mooimaakstoel sit. Die reeks word in samewerking met sosialemediafoendi Magriet Groenewald aangebied.

Wanneer sy nie besig is om die land se bekendste gesigte in te kleur nie, is sy tuis saam met haar man, André, en hul twee dogters, Lomé (13) en Mila (10).

“Ek besef as gevolg van my druk werkskedule dat ek soms meer met my kinders wil connect. Date nights is vir my en André net so belangrik, want ʼn mens kan so maklik by mekaar verby leef. Ons is lief vir reis en dit is vir ons baie erg dat ons nie hierdie jaar kan reis nie.”

Hoewel haar dogters as gevolg van haar loopbaan gereeld met mense in die glansryke vermaaklikheidswêreld skouers skuur, is hulle nie opgesmuk nie.

“Hulle hou tog daarvan om saam met my met grimering en fotografie te speel – dit is iets wat ons saam doen en hoe ons kwaliteittyd deurbring. Ek leer hulle nie dat ʼn mens grimering moet dra om mooier te wees nie, maar eerder dat grimering goeie gereedskap is om mee kreatief te wees,” vertel sy.

Om ‘n Afrikaans is Groot-kalender te bestel, kontak vir Suna by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.