TV-kokkedoor ‘vier die lewe’ ná moeilike jare

Leroux van Vuuren (Foto: Facebook)

Vandag vier Leroux van Vuuren van Kokkedoor-faam sy 50ste verjaardag, en is hy dankbaar vir al die “up’s and down’s wat daarmee gepaard gegaan het.

Van Vuuren, wat ʼn moeilike paar jaar agter die rug het, het aan Maroela Media gesê dat hy deur al die moeilike tye besef hoeveel hy het om voor dankbaar te wees.

“Die laaste twee en ʼn half jaar was baie rof en glad nie lekker nie, maar op die einde van die dag is dit maar wat ʼn mens daarvan maak. ʼn Mens moet jou kop laat sak, vir hulp vra, en die hulp aanvaar wat mense vir jou aanbied,” het hy gesê.

Van Vuuren het onlangs sy restaurant in Langebaan weens bankrotskap gesluit, deur ʼn egskeiding gegaan én was in ʼn ernstige motorongeluk waarin hy sy pelvis gebreek het en sy motor afgeskryf het. Maar Van Vuuren meen hy het nog baie om voor dankbaar te wees.

“Ek en my eksvrou is geseënd met twee wonderlike kinders wat liefde uitstraal. Vriende, familie en geluk binne jouself is baie belangriker as geld en status. Dit gaan alles daaroor om positief te wees. Daar is ʼn lig aan die einde van elke tonnel,” het Van Vuuren gesê.

“Elke mens het mos maar goeie en slegte tye, en dit was nou maar net Leroux se slegte tyd. Jy moet net kophou en vertrou dat dinge gaan beter raak.”

Maroela Media het vroeër berig dat Van Vuuren baie goed herstel ná die motorongeluk. Hy is al van sy krukke af en kan normaal loop.

Leroux saam met sy kinders, Ella en CJ (Foto: Facebook)

“Ek het nog ʼn bietjie pyn as ek lank sit of as ek op my sy lê – dan kan ek amper nie weer opkom nie. Maar ek het geweet dit gaan ʼn lang proses wees en ek is baie positief. Die fisioterapie help darem baie,” het hy gesê.

Van Vuuren het net nadat hy in 2014 aan Kokkedoor deelgeneem het begin om ʼn boek te skryf, maar het toe opgehou toe dit moeiliker in sy lewe begin gaan het. Ná die lang tyd in die hospitaal het die vlam weer begin brand en is hy vasberade om vanjaar daardie boek klaar te maak.

“Ek wil mense deur die boek hoop gee. In my lewe was daar ongelooflike hoogtepunte, maar daar was ook ongelooflike hartseer. Ek wil vir mense vertel dat alles beter sal word, alles raak beter met tyd,” het hy gesê.

Van Vuuren het gesê dat hy in sy 50ste lewensjaar wil vrede maak met sy omstandighede en dat hy regtig die lewe wil vier.

“2019 is Leroux se jaar. Ek gaan nog baie hase uit die hoed uit ruk. In 2019 wil Leroux net gelukkig wees; dit gaan nie oor ander mense nie. Die verlede het my geleer dat daar ʼn doel is met swaarkry. Elke liewe gebeurtenis het bygedra tot karakter en dankbaarheid vir dit wat ek het. Ek is dankbaar en ek lewe.”

“En moenie vir my fisioterapeut sê nie, maar ek gaan nou gou  ʼn wawiel op die gras gaan maak om my 50ste te vier!” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

lindie ·

liefste Le Roux,
dit gaan nie oor die val nie, maar soos jy nou weet hoe jy opstaan en hoeveel keer
mag die voorspoed jou verveel en God jou uit jou sexy sokkies bless!
dink aan jou
Sterkte!

PJN ·

Sterkte vir 2019 Leroux. Mag die Here vir jou nuwe deure oopmaak om jou beroep as spysenier uit te leef

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.