Wanda Bam wil gesonde gemeenskappe help kweek

Wanda Bam is nou stasiebestuurder by Radio Kaapse Kansel. (Foto: Verskaf)

Die radiopersoonlikheid, skrywer, motiveringspreker en voormalige gospelsanger, Wanda Bam, spog deesdae met ʼn nuwe, en volgens haar onverwagse, toevoeging tot haar merkwaardige loopbaan: dié van stasiebestuurder by Radio Kaapse Kansel.

“Ek het gedink ek gaan nou rustig kan sit en boeke skryf en net ʼn ouma wees, maar die Here het hier absoluut die weg gebaan. Hy sien ver vooruit wat hy vir ons beplan het en somtyds laat hy ʼn ou toe om net so twee meter voor jou te sien, want ʼn mens sal skrik as ʼn mens sien wat hy op jou pad sit,” vertel sy aan Maroela Media oor haar nuwe rol by dié gemeenskapsradiostasie in die Wes-Kaap.

Hoewel dit haar eerste bestuursposisie van dié aard is, is Wanda egter geen groentjie in die radiobedryf nie. Sy het haar radioloopbaan toevallig 25 jaar gelede as omroeper by Impact Radio en later Radio Kaapse Kansel se susterstasie, Radio Kansel, afgeskop.

Hier het sy aan en af gewerk en tussendeur haar musiekloopbaan as gospelsanger voortgesit. Sy het ook vir agt jaar as hoof van musiek, drama en uitvoerende kunste by ʼn gemeente in Pretoria gewerk.

“My hart was egter nog altyd in omroeperswerk. Ek wou as spreker effektief wees en maniere vind om goeie inhoud by soveel mense daarbuite te kry. Ek wou nooit noodwendig bekend staan as hierdie fenomenale omroeper nie, maar eerder as ʼn goed gekwalifiseerde omroeper wat deeglike navorsing doen en vir baie mense op een slag met ʼn goeie stuk van die Evangelie én insae van kenners kan toerus.”

Volgens Wanda was motiveringspraatjies ook ʼn natuurlike uitvloeisel van haar omroeperswerk.

Wanda sê haar hart was nog altyd in omroeperswerk. (Foto: Verskaf)

“My liefde vir die uitsaaiwese kom danksy die tipe onderhoude wat ek gedoen het, maar hier teen die ouderdom van dertig het dit vir my gevoel asof ek moeiliker gesprekke wil begin takel en met sprekers praat wat my meer stimuleer. Radio is gelukkig ʼn wonderlike manier om wyer te dink en het gemaak dat ek op die ou einde as spreker ook geleer het om moeiliker onderwerpe te pak.”

Ná haar verhuising Kaapstad toe, elf jaar gelede, het sy by Radio Kaap Kansel aanvanklik as omroeper aangesluit. Sy het daarna ook die rol van programorganiseerder en later die van programbestuurder oorgeneem.

Sy het egter vroeg in haar loopbaan geglo dat daar met sekere onderwerpe nie doekies omgedraai moet word nie, nie eens op radiostasies met ʼn Christelike aanslag nie.

“Vandag se mense is meer denkend oor die lewe. Sekere sogenaamde skandes en probleme is altyd in die verlede stilgehou, maar vandag haal ons alles uit en praat daaroor, want ons wil die samelewing en gemeenskappe gesond kry.

“As goed verkeerd gaan in die land, moet ons daaroor kan gesels en gesprekke aan die gang kry om oplossings te vind. Dít gaan net gebeur as ons eerlik gesels.”

Volgens Wanda is gemeenskapsgebaseerde uitsaaiwese ook uiters uniek danksy die familiegevoel wat dit by luisteraars skep.

“Ons saai vanuit Tygervallei uit, maar moet ons luisteraars regoor die hele Wes-Kaap tuis en deel van ʼn gemeenskap laat voel, of hulle nou in Robertson, Swellendam of Langebaan woon.”

Daarom spits sy en haar span hulself toe op gemeenskapsprojekte soos die #WinterWarmerSocksThatRock-veldtog en inisiatiewe in afgeleë dele van die provinsie. Sy glo ook in deurlopende terugvoer en kommunikasie van luisteraars af om ʼn gevoel van eienaarskap te help kweek.

“Mense moet ons as stasie fisies in hul gemeenskappe sien. Dán voel hulle asof dit werklik hulle stasie is, waar hulle raakgesien word en waarop hulle hul mening mag deel.”

Dié selferkende introvert vertel dat die uitsaaiwese vir haar as mens ook groei en genesing gebring het.

“Party dae stap jy in die ateljee en dan dink jy: ‘Sjoe, ek is regtig nie lus om vandag uit te saai nie.’ Maar die oomblik wat die rooi opname-liggie aangaan en jy begin met die gesprekke dan besef ʼn mens watse persoonlike bederf dit is as jy dit waarvoor jy geroep is, kan uitleef.”

Ook die verskil wat radio in lesers se lewens maak, gee haar opnuut krag vir die uitsaaiwese.

Wanda saam met haar dogters, Melissa en Melinda. (Foto: Instagram/Wanda Bam)

“Daar het eendag ʼn boodskap deurgekom terwyl ek op die lug was van ʼn man wat sê dat hy op daardie oomblik in ʼn woonhuis in Robertson sit met ʼn hand vol pille waarmee hy sy lewe wil beëindig. Ek besluit toe om af te wyk van die program se formaat en vir hom privaat te skakel. Ek het gevra of ek vir hom kan bid, want ek het uit my eie familie beleef dat selfdood nie die oplossing is nie.”

Sy vertel dat dié man kort daarna weer geskakel het en die radiostasie daarvoor bedank het dat hulle sy lewe gered het.

“Hy het gesê dat net daardie enkele oproep en gevoel van omgee en erkenning wat hy by ons radiostasie ervaar het, het sy lewe help spaar. Ek het toe net opnuut besef dat ons luisteraars en die verskil wat ons vir hulle kan maak, die rede is waarom ons hierdie doen.”

Wanneer sy nie radio-baas is nie, is sy ook ma vir haar dogters, Melinda Bam, voormalige Mej. SA, en Melissa Swart, sanger, lewensafrigter en sosialemediabestuurder. Natuurlik is sy sommer ook net “Ouma Wanda” vir haar drie kleinkinders.

“Dit is moeilik om in die Kaap te wees terwyl die kinders en kleinkinders in Gauteng is, maar dankie tog vir Zoom en telefoonoproepe. Ouma vlieg ook darem gereeld op om te gaan kuier. ”

Volgens Wanda is positiewe woorde en goeie, sinvolle gesprekke ook kragtige wapens en iets wat sy in haar persoonlike lewe én loopbaan probeer toepas.

“Hoe meer hoop gespreek word, hoe meer gebeur hoop. Hoe meer negatiwiteit gespreek word, hoe meer dood sien jy om jou. Daardie benadering het deur die jare ʼn integrale deel van my menswees geword en iets wat ek ook nou in hierdie nuwe rol gaan toepas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.