E-konsertgids: Refentse, Gé Korsten-huldeblyk dié naweek aanlyn te sien

Refentse. (Foto: Instagram)

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Zuidenburg Produksies bied Donderdag 20 Augustus ʼn aanlyn konsert in samewerking met die Pierneefteater in Pretoria aan.

Die kunstenaars wat gaan optree is Ellen van Eyk-Potgieter (sopraan), Lorette Theron (fluit), Carla van Veenendaal (fluit), Jan-Willem Hoorweg (fagot) en Christo Bezuidenhout (orrel en klavier).

Bezuidenhout het met die idee vir die konsert vorendag gekom en is die man agter Zuidenburg Produksies. Hy het ʼn paar vriende genader vir hierdie konsert en die program sluit in musiek van Antonio Vivaldi tot Karl Jenkins asook dié van Coenie de Villiers en Johan van Rensburg.

Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Die gewilde “Reisiger”-sanger Refentse se My hart klop teater!-konsert is nog tot 27 Augustus aanlyn te sien. Refentse sing gunsteling-treffers saam met ʼn orkes.

Die kaartjies kos R95 en is hier beskikbaar.

Sondag 23 Augustus

Petronel Baard. (Foto: Jorina Kriel Maas)

Dis vanjaar 21 jaar sedert die stem van Suid-Afrika se eerste ware superster, Gé Korsten, vir altyd stil geword het, en sy lewe, loopbaan en fenomenale talent word gevier in Frans Swart se huldeblykproduksie Gé sing: Hoor my lied.

Hierdie produksie is verlede jaar voor ʼn gehoor in die Sun Arena in Pretoria opgeneem en word Sondag om 17:00 as deel van Lefra se Kelderkonserte aangebied.

Kaartjies kos R115 en is hier beskikbaar.

Dr. Ronell Bezuidenhout, teoloog, skrywer en geloofsbegeleier, en kabaretkunstenaar en kunste-entrepreneur Petronel Baard bied eerskomende Sondagaand ʼn virtuele musiek- en woordkunsvertoning oor die Psalms aan.

Baard het onlangs ses toonsettings en verwerkings van die Psalms opgeneem en op video uitgereik. Die toonsettings is gedoen as deel van Bezuidenhout se reeks “AlPsalmend”, wat bestaan uit 40 dae se dagstukkies, asook ʼn kursus oor die Psalms.

Baard het ʼn uitsoekversameling van die Psalm-toonsettings gekies en Bezuidenhout het daarna gedigte oor die spesifieke Psalms geskryf wat hulle in ʼn kubervertoning verpak het.

Die konsert is Sondag om 19:00 gratis op hulle Facebook-bladsy beskikbaar. Daar is wel geleentheid vir donasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.