Bekroonde animasie kom SA toe

The Boy and the Heron (Foto: Verskaf)

The Boy and the Heron word hierdie Vrydag uiteindelik in uitgesoekte plaaslike rolprentteaters vertoon.

Suid-Afrikaanse aanhangers van animasie sit sedert Julie verlede jaar op hete kole en wag vir ʼn uitreikingsdatum van Studio Ghibli se jongste rolprent.

Dié rolprent het tydens vanjaar se Oscar-toekennings die prys vir beste animasierolprent voor die neuse van aanspraakmakers soos Disney se Elemental en Sony Pictures se Spider-Man: Across the Spider-Verse opgeraap.

Dit is ook die tweede Oscar-oorwinning vir die 83-jarige Japannese anime-maestro Hayao Miyazaki, wie met sy fliek Spirited Away rolprentgeskiedenis gemaak het as die eerste nie-Engelse animasie wat dieselfde kategorie in 2003 gewen het. Sy jongste animasie het ook onder meer ʼn Golden Globe en Bafta-toekenning ontvang.

Studio Ghibli betower al vir jare lank silwerskerms met sy animasiekuns en fantasiestories uit die Japannese kultuur. Die produksiehuis is ook vir nóg legendariese animasierolprente soos Howl’s Moving Castle, Princess Mononoke en My Neighbor Totoro verantwoordelik.

The Boy and the Heron handel oor ʼn 11-jarige seun wat sy ma tydens die Tweede Wêreldoorlog verloor. Die jong Mahito verhuis na sy familie se landgoed op die platteland, en daar lei ʼn reeks geheimsinnige gebeurtenisse hom na ʼn afgesonderde antieke toring, wat die tuiste van ʼn ondeunde grys reier is. Dié reier kan praat en oortuig die seun sy ma lewe nog in die nuwe wêreld.

Hayao Miyazaki. (Foto: Yoshikazu Tsuno/AFP)

Wanneer Mahito se nuwe stiefma verdwyn, volg hy die reier in die toring en betree ʼn wonderlike, fantastiese wêreld. Terwyl hy ʼn epiese reis onderneem met die reier as sy gids, moet Mahito die geheime van dié wêreld, en die waarheid oor homself, ontbloot.

The Boy and the Heron is Miyazaki se eerste rolprent in tien jaar, en hy het sy aftrede opgegee om regisseur van die fliek te wees. Dit het sewe jaar geverg om dié handgetekende fliek te voltooi.

Kritici en fliekvlooie het die rolprent wyd geloof as ʼn verstommende ervaring van visuele skoonheid en diep filosofiese boodskappe, berig The Hollywood Reporter.

Voorts is die rolprent semi-outobiografies en beeld die emosionele en sielkundige groei van Mahito uit.

Toshio Suzuki, ʼn medestigter van Studio Ghibli, het die rolprent vervaardig en Miyazaki se jarelange medewerker Joe Hisaishi het die klankbaan geskep. “Spinning Globe”, die temalied vir die rolprent, is deur die J-pop-superster Kenshi Yonezu geskryf en uitgevoer.

Die Engelstalige rolprent span die stemme van Christian Bale, Dave Bautista, Gemma Chan, Willem Dafoe, Karen Fukuhara, Mark Hamill, Robert Pattinson en Florence Pugh in.

Terwyl Mahito dikwels in gevaar verkeer en die geanimeerde beelde intens en ontstellend kan wees, is dit nooit skrikwekkend nie. Volwassenes rook, en Mahito steel sigarette om hulle te kry om gunsies vir hom te doen. Die rolprent word met ʼn ouderdomsbeperking van ouerleiding 7-9 in Suid-Afrika uitgereik, maar die webwerf Common Sense Media beveel dit vir kykers van tien jaar en ouer aan.

Kyk hier na die lokprent:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.