‘Die Seemeeu’ se Nina en Konstant vertel oor dié rolle

Rolanda Marais en Albert Pretorius was in 2016 teenoor mekaar op die grootskerm te sien in die Christiaan Olwagen-fliek Johnny is nie dood nie en speel nou weer teenoor mekaar in die Afrikaanse rolprentverwerking van Die seemeeu, die verhoogstuk van die Russiese dramaturg Anton Tsjekof.

Dié fliek, wat ook deur Olwagen geregisseer is, het eers vir twee jaar met dieselfde rolverdeling die feesrondes op die planke gedoen voordat dit in ʼn vollengtefliek omskep is. Olwagen neem die klassieke Tsjekof-teaterstuk, wat reeds in die 1900’s geskryf is en verplaas dit na Suid-Afrika in die 1990’s, bykans 100 jaar nadat die stuk geskryf is.

Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Gerben Kemper, Alyzzander Fourie, Deon Lotz, Rolanda Marais, Martelize Kolver, Albert Pretorius, Geon Nel en Cintaine Schutte vorm deel van die ensemble-rolverdeling wat in dié rolprent, wat deur talle resensente as ʼn kragtoer beskryf word, te sien is.

Marais vertolk die rol van Nina, ʼn kleindorpse meisie wat daarvan droom om ʼn bekende aktrise te word.

“Nina sal enigiets doen om haar droom te bereik,” vertel Marais in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Weens haar groot droom en desperaatheid om weg te kom van waar sy woon, volg sy roetes wat haar nie noodwendig lei waar sy wil wees nie.”

Pretorius vertolk die rol van Konstant, ʼn aspirantskrywer wat vasgevang is op die landgoed waar hy woon.

“Konstant het niks geld nie en is baie verlief op die bure se dogter, Nina,” vertel Pretorius aan Maroela Media. “Die landgoed is baie afgeleë en daar speel baie drama tussen die mikrokosmos van persoonlikhede uit. Die fliek handel oor liefde en vriendskap en het natuurlik ʼn teateraspek.”

Marais en Pretorius stap albei al ʼn lang pad met Olwagen, wat ook die regie vir die teaterstuk behartig en die draaiboek saam met Saartjie Botha verwerk het.

Rolanda Marais, Albert Pretorius en Cintaine Schutte op verlede jaar se Silwerskermfees. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Rolanda Marais, Albert Pretorius en Cintaine Schutte op verlede jaar se Silwerskermfees. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

“Christiaan ken my só goed. Hy ken my beter as wat enige ander regisseur my ken, selfs al my stories en skandes. Dus weet hy waar om in ʼn mens se persoonlike lewe te delf om jou sover te kry om te wees wat hy wil hê. Hy kan nogal krap en my dwing om in dele van my emosies te delf waar ek baie ongemaklik voel,” erken Marais.

“Dit is nie altyd lekker nie, maar vir my is spel ook geweldig terapeuties. Teater is vir my as akteur soos grootmens-spelterapie, en Christiaan laat my allerlei emosionele traumas en kamers wat ek toegemaak het, oopmaak en herbesoek. Hy is nie bang om as regisseur van ʼn akteur te verwag om na daardie rou plekke te gaan nie. Ek vertrou hom 100% met my hele wese en my hart en al is my senuwees soms aan flarde, bly ek verskriklik lief vir hom en dankbaar vir iemand soos hy. Hy laat my toe om die soort werk wat ek nog altyd wou doen, te doen.”

Pretorius beaam dit. “Dit is altyd lekker om saam met hom te werk. Omdat ons al soveel keer saamgewerk het, ken hy ʼn mens goed en weet tot waar om jou te druk. Hy ken jou perke en vermoëns,” sê hy.

Rolanda Marais en Albert Pretorius in 'Die seemeeu'.

Rolanda Marais en Albert Pretorius in ‘Die seemeeu’.

Afgesien daarvan dat die akteurs hul tegnieke moes aanpas vir die kamera, het daar nie veel verander omtrent die teks nie, vertel Marais. “Die manier waarop Die seemeeu geskiet is, is lang skote, so dit voel steeds asof jy na ʼn teaterstuk kyk – maar dit voel nie verkeerd nie, dit voel reg wanneer jy daarna kyk.

“Baie mense wat dit al gesien het, vra of dit nie te groot is nie, maar wat mense nie besef nie is dat die mensdom groot is, en solank jy larger than life-karakters in waarheid gewortel hou, kan jy so groot gaan soos jy wil,” sê sy.

Die akteurs en filmspan het vir die tydperk wat die fliek geskiet is, saam op Stanford buite Hermanus gewoon en gewerk. Pretorius vertel dat hulle uiteindelik self soos ʼn gesin op ʼn landgoed geword het, net soos die karakters in Die seemeeu.

“Dit was ʼn vreemde ding wat gebeur het. Dit was amper asof dit hierdie eilandjie geword het waarop ons emosionele Survivor gespeel het,” skerts hy.

“Van die temas in die storie kom na vore as jy so ʼn groep mense op so ʼn afgeleë plek is.”

Die span van 'Die seemeeu' glimlag vir die kameras op verlede jaar se Silwerskermfees. Van links na regs: Albert Pretorius, Deon Lotz, Rolanda Marais, Christiaan Olwagen, Geon Nel en Cintaine Schutte. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die span van ‘Die seemeeu’ glimlag vir die kameras op verlede jaar se Silwerskermfees. Van links na regs: Albert Pretorius, Deon Lotz, Rolanda Marais, Christiaan Olwagen, Geon Nel en Cintaine Schutte. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Vir Marais het die verfilming ander uitdagings ingehou, soos die feit dat sy elke dag van die stel af moes gaan en haar dogtertjie, Charlotte, versorg. Marais is getroud met fliekregisseur Jozua Malherbe.

“Met die opvoering van die teaterstuk was ek nog nie ʼn ma nie, so ek kon dag en nag in my karakter leef. ʼn Mens gaan huis toe met jou karakter heeltyd in jou kop, en dit krap aan jou en sink al hoe dieper,” verduidelik sy.

“Met die skiet van die fliek was Charlotte vier en ʼn half maande oud en alles was anders. Die fisieke aspek, my lyf was anders, nou moet ek in onderklere voor die kamera wees. Ek is emosioneel verantwoordelik vir ʼn wesentjie wat nie kan praat nie en wat net kan huil. Enige nuwe ma sal verstaan hoe uitdagend dit vir my was. Gelukkig was my ma saam met my op Stanford, maar ek moes van die stel af afskakel om ʼn ma te kon wees vir my kind, om emosioneel daar te wees vir haar en aandag aan haar te gee.”

Volgens Pretorius sal enigiemand wat al ʼn familiebyeenkoms bygewoon het, aanklank vind by Die seemeeu. “Almal sal óf ʼn familielid óf ʼn vriend in die situasies herken,” sê hy.

Cintaine Schutte en Rolanda Marais deel 'n oomblik op verlede jaar se Silwerskermfees. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Cintaine Schutte en Rolanda Marais deel ‘n oomblik op verlede jaar se Silwerskermfees. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Marais stem saam. “Enigiemand, groot en klein, oud en jonk, sal aanklank vind by die stuk. Dit is die wonderlike ding van Tsjekof. Dit is net die psige van gewone mense wat hy so goed kon neerpen.”

Marais skiet tans aan ʼn internasionale reeks geskoei op die Deon Meyer-boek Spoor. Dié reeks, getiteld Trackers, word deur HBO vervaardig.

Intussen repeteer sy aan die debuutdrama Koningin Lear, saam met Anna-Mart van der Merwe, Antoinette Kellerman, Neels van Jaarsveld, André Roothman, Wilhelm van der Walt, Edwin van der Walt en Matthew Stuurman, vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees.

Koningin Lear is 21 tot 26 Maart by die SANW-ouditorium in Oudtshoorn te sien. Kaartjies kos R155 by Computicket en R170 by die deur.

Die Seemeeu begin op 5 April in fliekteaters landwyd draai.

*Die seemeeu het ʼn ouderdomsbeperking van 16 vir onder meer kru taalgebruik, tonele van dwelm- en alkoholgebruik, seksuele tonele en geweld. Die fliek is nie geskik vir kinders jonger as 16 jaar nie. Ouers se diskresie word aanbeveel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.