Fliekresensie: Adam Driver, Penelope Cruz ‘briljant’ in Ferrari-fliek

FERRARI        
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐(8/10)     
Met Adam Driver en Penelope Cruz
Regisseur: Michael Mann
(Slegs in teaters)

Die naam alleen simboliseer rykdom, status, krag, waardigheid en ʼn meedoënlose sakeryk. Enzo Ferrari het ʼn motorresies-sakeryk opgebou soos min voor hom, maar in 1957 is hy in die moeilikheid.

Sy bestuurders kom in opstand teen hom, en hy dryf hulle tot die alleruiterste, onder andere ʼn moordende, gevaarlike 1 000 myl lange resies deur Italië.

Boonop is Enzo, vertolk deur Adam Driver, se huwelik in ʼn krisis. Sy vervreemde vrou, briljant gespeel deur Penelope Cruz, treur steeds oor hul seun se dood, maar hy het reeds ʼn nuwe verhouding en liefdeskind by ʼn ander vrou, vertolk deur Shailene Woodley.

Dis op hierdie krisisoomblik dat ons Enzo ontmoet en dan tref nog ʼn tragedie hom op die renbaan.

Adam Driver as Enzo Ferrari. (Foto: IMDb)

Selfs al hou jy nie van blitssnelle vuurwaens nie, of jy kan nie die gebrul van renmotors verduur nie, tussenin al die lawaaierige drama ontvou die menslike verhaal van die voortgedrewe Ferrari, en wat hy moet opoffer, maar ook hoe hy mense dryf.

Dit is waaroor Ferrari gaan. Beslis net reg vir jou as motors jou warm maak, en jy meer oor Enzo Ferrari as mens, en dikwels monster, wil weet.

Slegs in teaters.

(8/10)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.