Fliekresensie: Dié Emily gee haar oor aan misdaad, swendelary

EMILY THE CRIMINAL        
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐/10
Met Aubrey Plaza en Theo Rossi
Regisseur: John Patton Ford
Beperking: 16 – Taal (laster), geweld
(Showmax)

Jy hoef nie eers jou huis te verlaat om na hierdie meesleurende misdaaddrama te kyk nie, want Emily the Criminal wys op Showmax. Klik dus net!

Sodra die woord “misdaaddrama” verskyn, gaan daar seker ʼn geween en ʼn gekners van tande op. Moenie terugdeins nie. Hierdie kulspul volg nie die gewone kitspaadjie van iemand wat oortree, gevolg deur motorjaagtogte, gevegte en ʼn gladde oplossing nie.

Emily the Criminal hanteer Emily se dilemma ernstig en met oorgawe, en al is daar gevegte, is dit absoluut gemotiveerd.

ʼn Doodgewone meisie beland in ʼn penarie wanneer sy haar werk verloor. Sy word gedwing om ʼn benarde besluit te neem: óf sy moet haar aan misdaad oorgee, óf bankrot speel. Sy besluit om haar tot kredietkaartswendelary te wend.

Aubrey Plaza in ‘Emily the Criminal’. (Foto: IMDb)

Die puik rolprent wys jou presies hoe hierdie laakbare slenters werk, maar veral in watter morele dilemma dit die stomme Emily dwing en in konflik met haarself plaas. Sy wil nie die wet oortree nie, maar wat moet sy doen?

Dit mag jou enduit boei en ʼn mate van begrip laat vorm hoekom mense hul soms tot sulke desperate uiterstes wend.

Aubrey Plaza, asook die nuweling-regisseur John Patton Ford, moet geloof word vir die verantwoordelike, morele wyse waarop hulle hierdie kontroversiële storie vertel.

Kykers moet let op die ouderdomsperke en waarskuwings, en daarvolgens besluit of hulle na ʼn reeks of rolprent wil kyk. Die waarskuwings word duidelik aangebring wanneer daar op die reeks se naam geklik word, of verskyn op rolprentplakkate, of bo regs op die TV-skerm. L kan ook laster suggereer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.