Fliekresensie: Dié Morgan Freeman-fliek is ‘halfhartig, mak’

57 SECONDS
****** (6/10)             
Met Josh Hutcherson en Morgan Freeman
Regisseur: Rusty Cundieff
(In teaters)

Viermuurteaters kon nooit weer die glorie van die pre-Covid-vlakke bereik nie. Misdaad, slaggate en beurtkrag bly flieks se grootste struikelblokke.

Tog het Barbie en Oppenheimer ʼn troefkaart saam met Tom Cruise se jongste Mission Impossible-avontuur gespeel en hierdie teorie op sy kop gekeer. En toe daal die kwik weer.

Die rede is omdat halfhartige, mak flieks, wat jy net sowel op ʼn stromingsnetwerk kan kyk, nou weer kop uitsteek. 57 Seconds is nie noodwendig die soort fliek waarvoor jy jou veilige tuiste sal verlaat nie, maar as jy in winkelsentrums rondslenter, en die hittegolf kry jou onder, gaan ontspan hiermee in ʼn koel teater en ontsnap die natgeswete mensemassa.

Die storie is redelik oorspronklik. ʼn Jong man (die aantreklike en oortuigende Josh Hutcherson), kry besit van ʼn gevaarlike ring wat die tyd met 57 sekondes terugdraai. Dus, as jy ʼn meisie wil soen en jy benader die oomblik verkeerd, kan jy die tyd terugspoel en jou fout herstel.

Josh Hutcherson om ’57 Seconds’. (Foto: Skermgreep)

Daar is nare mense wat ons held vir ander gevaarlike en diaboliese wetenskaplike eksperimente wil misbruik en dis waar die towerring die fan strike. Jonges bo 13 mag meer plesier hieruit kry as uit hul TikTok-verslawing, en vir ʼn verandering is daar niks wat die aandag kan aftrek nie – tot met die volgende TikTok-sensasie.

Gemiddeld vermaaklik as jy niks beter het om te doen nie.

(6/10)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.