Fliekresensie: Kyk sonder inspanning na dié boeiende romkom

ANYONE BUT YOU
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐ (7/10)
Met Sydney Sweeney en Glen Powell
Regisseur: Will Gluck

Dit is soms interessanter om die gehoor dop te hou as die rolprent. In die glans, prikkelende, romantiese komedie, Anyone But You, wat in Australië afspeel en baie blootstelling aan die toeriste-aantreklikhede daar gee, raak twee van die mooiste mense wat jy nog ooit gesien het op mekaar verlief.

Daar is min tonele waar hulle nie skaamteloos lyf wys nie, asof die vervaardigers bekommerd was dat mense al so moeg vir romantiese komedies is, dat hulle nie sou kyk indien daar nie iets vir die oog is nie.

Anyone But You, waarvan gehore baie hou, want die teater waarin ek dit gesien het was uitverkoop, gaan oor twee beeldskone mense wat deur die gehoor aangegaap is. Hulle gee voor dat hulle ʼn paartjie is. Die storie is natuurlik ʼn verskoning om hulle te laat besef hulle, dit is nou die glanspaartjie, eintlik verlief is op mekaar. Dit is terloops losweg op Shakespeare se Much Ado About Nothing gegrond.

Glen Powell en Sydney Sweeney in “Anyone But You”. (Foto: IMDb)

Die twee se lomp liefdesmanewales is natuurlik spesiaal uitgedink om ʼn ander invalshoek aan romantiese komedies te gee, en verhef die rolprent so ʼn bietjie bokant die banale, ondergemiddelde romkoms waaraan ons al gewoond is.

As jy bietjie uit die huis wil kom en inspanningloos wil fliek, sonder om verveeld te gaap, probeer Anyone But You, slegs in teaters.

Veel vir die oog, wol vir die brein.

(7/10)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.