Fliekresensie: Nuwe ‘Dune’-fliek betower op die grootskerm

DUNE: PART TWO
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐(9/10)
Met Timothée Chalamet en Austin Butler
Regisseur: Denis Villeneuve
(In teaters en IMAX)

Niemand het gedink die geniale regisseur, Denis Villeneuve, kan op die eerste Dune verbeter nie, maar in Dune: Part Two oortref hy die stoutste verwagtings.

Paul Atreides, met Timothée Chalamet wat uiteindelik grootgeword het, moet die Fremen se planeet, Arrakis, teen die Harkonnens beskerm.

Die woestyn het ʼn oorweldigende invloed op die kyker, veral in teaters. Dit voel of jy self teen daardie duine afrol. Net sonder die hitte! Die duine is natuurlik self karakters in Dune: Part Two, maar dit is die duiselingwekkende kreature onder die sand, soos die reusesandwurms, wat alles om hulle verdwerg.

Net om ʼn wurm op jou te sien afpyl en om daardie bek vol suiers te vermy, sal jou oorweldig. Om nie te praat van die vegvliegtuie, helikopteragtige goeters en reusemasjiene wat so hard basuin, jou stoel wil inmekaar stort daarvan.

Timothée Chalamet en Zendaya in “Dune: Part Two”. (Foto: IMDb)

Wees gewaarsku: Dune: Part Two is nie ʼn stil fliek nie. Vir die prys wat jy veral vir ʼn IMAX-kaartjie betaal, is dit elke sent werd, want om dit op ʼn reusedoek te beleef maak jou deel van die fliek. En Austin Butler as die sosiopaat steel Dune: Part Two onder Chalamet uit.

Sterk aanbeveel. Slegs in IMAX en gewone teaters.

(9/10)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.