Fliekresensie: Skreeusnaakse avontuur wag saam met Frankie, Felipé

FRANKIE EN FELIPé
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐(8/10)                         
Met Solomon Cupido en Bradley Olivier
Regisseur: Marvin-Lee Beukes
(In teaters)

Snaakser kan jy beswaarlik kry! Hierdie twee kalante is halfbroers en hulle is eintlik skaam vir mekaar.

Wanneer Frankie en Felipé weer ontmoet, is Frankie se voorgenome huwelik in gedrang, want hy wil nie sy herkoms aan sy bruid verklap nie. Maar, o wee! Die astrante Felipé het geld nodig, en die formidabele Bennas (ʼn skitterende Shimmy Isaacs), wat in beheer van sy lewe is, eis haar geld.

Bennas mag jou op die vloer laat rondkruip van die lag. Hier is ʼn vrou sonder ʼn bang lipstiffie op haar lippe!

Dis die soort komedie wat ons nou nodig het. Dis spontaan, die humor het spiere waarmee bedoel word al is die storie voorspelbaar, is dit die reis tot by die wenstreep wat die moeite werd is, en die karakters is oortuigend.

Die grappe raak ook nooit uitgewas nie. Dit behou bestaansreg en weet presies hoe lank om op die skerm te vertoef voordat dit weer aanbeweeg om plek te maak vir ʼn ander situasie. Wat ook in die komedie se guns tel, is die balans tussen romanse en slapstick-komedie waarin Bradley Olivier en Solomon Cupido uitblink, en goeie outydse spitsvondige humor.

Die rolverdeling van “Frankie en Felipé” kuier saam by verlede jaar se Silwerskermfees. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Geniet dus ʼn redelik gesofistikeerde fliek wat al die regte komiese geluide op die regte plekke en oomblikke maak, wat jou mag meesleur soos daai lekker brander waarin jy in die see baljaar het.

Frankie en Felipé is ʼn topkomedie met ʼn troetellekker aanslag. Aanbeveel.

Slegs in teaters.

(8/10)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.