Fliekresensie: Straathond voer gesinne mee in boeiende avontuurfliek

ARTHUR THE KING
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐(7/10)                        
Met Mark Wahlberg en Juliet Rylance
Regisseur: Simon Cellan Jones
(In teaters)

Ja-nee, almal stroom tans na Kung Fu Panda 4 toe, maar jy het moontlik die behoefte om die gesin na iets meer sinvol te neem.

Kies dan die ware verhaal van ʼn rowwe avonturier, gespeel deur Mark Wahlberg, wat onherbergsame terrein in die Dominikaanse Republiek aandurf om ʼn Ysterman-kompetisie te wen. Hulle gevaarlike avontuurtog tot by die wenstreep plaas die rolprent soms op ʼn mespunt.

Halfpad deur ontmoet hulle ʼn straathond wat hom by hulle aansluit en hulle lewens red. Wat hierna tussen hulle gebeur, sal jou hartsnare roer. Daar is ook foto’s van hoe die werklike hond saam met hulle aan die kompetisie deelgeneem het.

As jy van honde hou, sal hierdie Brakanjan sommer gou ore afskud in jou flieklewe. ʼn Mens staar met bewondering en vol ootmoed na sy manewales, maar ook met diep deernis na Michael Light (dis nou Wahlberg) en sy span se yster-uithouvermoë, en ook hoe Light uit sy pad gaan om die hond aan die lewe te hou.

‘n Straathond voer gesinne mee in “Arthur the King”. (Foto: Skermgreep uit lokprent)

Dit is ʼn huldeblyk aan ʼn besondere hond wat homself in baie harte verewig het. Maak ʼn knoop in jou oor. Gaan bietjie uit gedurende die baster-langnaweek en trakteer jouself en jou gesin.

Arthur the King is boeiender en interessanter as baie van die ander glinsterflieks wat tans aan jou beursie pluk.

(7/10)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.