Fliekresensie: Vrolike ‘Book Club’-fliek is dun, maar propvol pret

BOOK CLUB: THE NEXT CHAPTER    
⭐⭐⭐⭐⭐/10
Met Candice Bergen en Jane Fonda
Regisseur: Bill Holderman
Beperking 13 (waarskuwing: laster)
In teaters

Dat die tantes sulke vuil monde kan hê en hulle oë so tussen die manne kan verdwaal! Dit wys jou: Oud beteken nie koud nie, veral nie in Jane Fonda se geval in Book Club: The Next Chapter nie.

Terwyl die manne hulle verlustig in die anargie van Fast 10 (die tiende fliek in die The Fast & The Furious-franchise) moet daar seker iets vir vroue ook wees. Hierdie lighartige, kreukelpapierstorie behoort in ʼn hele paar dames se smaak te val.

ʼn Hegte groepie sneespapierkarakters (papierdun geskets) het mekaar tevore vermaak tydens hul boekklub se byeenkomste, maar ná die pandemie sien hulle mekaar darem weer van aangesig tot aangesig.

Hulle besluit om hulle vriendskap in Italië te gaan vier, waar alles natuurlik aanvanklik skeefloop, maar vinniger opgelos word as wat jy “beurtkrag!” of “gondola!” kan skree.

Candice Bergen, Jane Fonda, Diane Keaton en Mary Steenburgen in ‘Book Club: The Next Chapter’. (Foto: IMDb)

Uit ʼn resensent se oogpunt is die storie oppervlakkig, die situasies geforseerd en die vroue swak omlyn. Uit ʼn kykersperspektief bied dit egter ʼn troosprys aan almal wie se mans vergeet het dit was Moedersdag. Maak vriendinne bymekaar, bestel ʼn sondige wortelkoek en giggel oor onwaarskynlike situasies.

Ai, was die lewe maar so maklik. Te oordeel aan die gehoor se reaksie, tref dit die boerpot met elke soetsappige toneel; vrolik, byderwets en snaaks.

Book Club: The Next Chapter. Geweeg, te lig bevind, maar vermaaklik. In teaters. 5/10.

Kykers moet let op die ouderdomsperke en waarskuwings, en daarvolgens besluit of hulle na ʼn reeks of rolprent wil kyk. Die waarskuwings word duidelik aangebring wanneer daar op die reeks se naam geklik word, of verskyn op rolprentplakkate, of bo regs op die TV-skerm. L kan ook laster suggereer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.