Foto’s: Diana-fliek se première in Los Angeles

Kristen Stewart vertolk die rol van prinses Diana in ‘Spencer’. Sy het in ‘n Chanel-skepping die première by die DGA-teatersentrum in Los Angeles, Kalifornië bygewoon. (Foto: Amy Sussman/Getty Images/AFP)

Die rolverdeling van die lankverwagte rolprent Spencer het Dinsdag saam met talle ander bekendes gesig gewys op die glanstapyt by die première van dié fliek in Los Angeles, Kalifornië.

Spencer is geskoei op die lewe van Diana, prinses van Wallis, en speel af in Sandringham oor drie dae tydens die Kerstyd in Desember 1991 en handel oor die tydperk toe Diana besluit het om haar huwelik met prins Charles te beëindig.

Kristen Stewart, bekend vir haar rol as Bella in die Twilight-franchise, vertolk die rol van Diana. Daar word reeds in Hollywood-kringe gefluister dat haar rol in Spencer haar moontlik ʼn Oscar-toekenning kan besorg.

Sy het die première bygewoon in ʼn gotiese tweestuk-skepping deur die ontwerpershuis Chanel, vir wie sy al ʼn geruime tyd ʼn ambassadeur is.

Sy het vroeër vandeesmaand by ʼn première in Londen, Engeland, ook ʼn rok deur dié ontwerpershuis gedra.

Stella Gonet vertolk die rol van koningin Elizabeth II en Jack Farthing is te sien as prins Charles. Die fliek is geregisseer deur Pablo Larraín, wat ook die Oscar-benoemde rolprent Jackie – geskoei op die lewe van Jackie Kennedy met Natalie Portman in die hoofrol – gemaak het.

Bekendes soos die aktrise Emma Roberts, die supermodel Adriana Lima en vervaardiger André Lemmers het ook die première by die DGA-teatersentrum in Los Angeles bygewoon.

Spencer begin op 5 November in fliekteaters wêreldwyd draai.

Bykomende bron: E! News

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida ·

Ai, nie gedink Chanel kan so ‘n lelike outfit ontwerp nie. Lyk of Kirsten Steward in haar onderrok by die premiere opgedaag het. Wonder wat stylvolle Diana van hierdie klerestyl sou dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.