Foto’s: Dié flieks wen Silwerskerm-pryse

Paul du Toit (Foto: Maroela Media)

Die wenners van kykNET se 10de Silwerskermfees is Saterdag by ʼn glansgeleentheid in Kampsbaai bekend gemaak.

Die Afrikaanse rolprent Barakat het die meeste pryse in die vollengte-kategorie verower, onder meer vir beste aktrise (Vinette Ebrahim), beste draaiboek, beste aktrise in ʼn ondersteunende rol (June van Merch), beste oorspronklike musiek (Kyle Shepherd), beste kostuumontwerp (Ayesha Khatieb) en beste produksieontwerp (Sumaya Wicomb).

Barakat vertel die verhaal van die Moslem-weduwee Aisha Davids wat probeer om haar gebroke familie tydens Eid al-Fitr te herenig en die nuus van haar nuwe romanse aankondig.

Dié fliek is verlede jaar gekies as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir beste internasionale rolprent vir vanjaar se 94ste Oscars-toekenningsgeleentheid. Maroela Media het intussen berig dat Barakat egter nie daarin kon slaag om die kortlys te haal nie.

Dit is Gaia, die eerste ekologiese gruwelfliek in Afrikaans, wat egter koning gekraai het en met die prys vir beste vollengte rolprent bekroon is. Die fliek het ook pryse gewen vir beste regisseur (Jaco Bouwer), beste grimering en haarstilering (Sulani Saayman), beste klankontwerp (Tim Pringle) en beste redigering (Leon Visser).

Sedert Gaia in Maart verlede jaar by die hoog aangeskrewe South by South West-fees in die VSA gedebuteer het, het dié grensverskuiwende rolprent wêreldwyd lof en entoesiastiese resensies ontvang.

Etienne Fourie, wat ná sy bekroning vir Die windpomp ook feesgehore bekoor het met Dis koue kos, skat en Liewe Kersfeesvader, se riller Stiekyt is met drie pryse vereer.

Paul du Toit het met die beeldjie vir beste akteur weggestap, die prys vir beste akteur in ʼn ondersteunende rol is aan Albert Pretorius toegeken en Eduan Kitching het die prys ontvang vir beste kinematografie.

In die kortfliek-kategorie is Leemtes en leegheid, met Lida Botha in die hoofrol, as die wenner aangewys. Die fliek ontvang ook die prys vir beste draaiboek en is aangewys as gehoorgunsteling, ʼn prys wat vanjaar die eerste keer aan ʼn kortfliek toegeken word.

Marlo Minnaar en Carla Smith, wat onderskeidelik as beste akteur en aktrise in ʼn kortfliek aangewys is, wen elkeen ook ʼn mentorskapsessie met Arnold Vosloo.

Karen Meiring en Jan du Plessis is vanjaar vereer vir die sleutelbydrae wat hulle gespeel het in die ontstaan en sukses van die Silwerskermfees. Vandat dié rolprentfees die eerste keer in 2011 in Prins Albert aangebied is, is sowat 160 kortflieks en 50 vollengte rolprente deur dié platform ontwikkel.

Dit is die eerste keer dat die pryse by twee geleenthede uitgedeel is, een vir tegniese pryse en ʼn ander geleentheid vir die hooftoekennings. Albei dié geleenthede is moontlik gemaak deur die Stad Kaapstad.

Hier is ʼn volledige lys van die wenners:

Vollengte rolprente

Beste rolprent: Gaia
Beste regisseur: Jaco Bouwer (Gaia)
Beste akteur: Paul du Toit (Stiekyt)
Beste aktrise: Vinette Ebrahim (Barakat)
Beste draaiboek: Barakat
Beste akteur in ʼn ondersteunende rol: Albert Pretorius (Stiekyt)
Beste aktrise in ʼn ondersteunende rol: June van Merch (Barakat)
Beste oorspronklike musiek: Kyle Shepherd (Barakat)
Beste kostuumontwerp: Ayesha Khatieb (Barakat)
Beste grimering en haarstilering: Sulani Saayman (Gaia)
Beste produksieontwerp: Sumaya Wicomb (Barakat)
Beste klankontwerp: Tim Pringle (Gaia)
Beste kinematografie: Eduan Kitching (Stiekyt)
Beste redigering: Leon Visser (Gaia)

Kortflieks

Beste kortfliek: Leemtes en leegheid
Beste regisseur: DW Smith (Diana Mills Smith) (My beskermer)
Beste akteur: Marlo Minnaar (Aan/Af)
Beste aktrise: Carla Smith (Skyn)
Beste ensemble: Skyn
Beste oorspronklike musiek: Ryno Posthumus (Bennie Bingo)
Beste produksieontwerp: Baber
Beste redigering: Regardt Visser (Die horries)
Beste draaiboek: Jordy Sank, Terence Makapan (Leemtes en leegheid)
Beste kinematografie: Justin Youens (Baber)
Beste bestaande werk: Ekstasis
Spesiale benoeming: My beskermer
Draaiboeksoekwenners: Mariska Denysschen, Jan Lampen, AnnMaree Barry

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.